Die wysheid van die Here leer vir ons die dwaasheid van die sonde teen die 7de gebod!

Predikant: 
Ds HH van Alten
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2007-11-11
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 41
Verwysing: 
HK 41-1
Preek Inhoud: 

Sondag 41

Ds HH van Alten - Sondag 11 November 2007

Lees: Spreuke 5,  Spreuke 6:20-7:27
Teks: HK, Sondag 41
Sing: Sien liturgie

Tema: Die wysheid van die Here leer vir ons die dwaasheid van die sonde teen die 7de gebod!

  1. Hoe hierdie dwaasheid begin
  2. Wat hierdie dwaasheid tot gevolg het
  3. Hoe hierdie dwaasheid teengegaan kan word

Geliefde gemeente van ons Here, Jesus Christus,

Sedert die jare 60 van die vorige eeu, het daar ‘n dramatiese seksuele rewolusie plaasgevind. Waar die onderwerp ‘seks’ voor daardie tyd baie min openlik bespreek is, is dit vanaf daardie tyd al hoe meer oop gegooi, en het mense al hoe makliker daaroor begin praat. Dit is natuurlik nie noodwendig verkeerd nie – immers, die seksualiteit is ‘n pragtige gawe van die Here waaroor ons, as gelowiges, op ‘n goeie manier openlik mag praat. Maar die openheid het in die wêreld tog deurgeslaan na promiskuïteit en skaamteloosheid. Die seksualiteit het plat en vuil geword. Die Godgegewe grense in die omgang tussen ‘n man en ‘n vrou het vervaag, sodat dit vandag nog nouliks herkenbaar is. Onthouding voor die huwelik, getrouheid in die huwelik, en die eksklusiwiteit van die huwelik tot man-vrou – en nie tot man-man en vrou-vrou nie – dit het alles vreemde begrippe in ons tyd geword.  

En, gemeente, as kerk is ons nie vry van hierdie invloede nie. Allermins! As ons onsself nie daarteen waak nie, word óns denke en óns doen ook besoedel deur dié van die wêreld, deur dit wat daarbuite vir ons aangebied word. En u weet self hoe ‘n mens sonder enige moeite, dít wat daarbuite is, deur middel van die TV en internet kan binnehaal in die privaatheid van jou eie huis. En voordat ons weer kyk, dink ons soos die wêreld – oor seksualiteit, oor die lewe in die huwelik, en oor egskeiding. Daarom dat daar in die laaste jare vanaf die kerkraad se kant ook ‘n groot premie geplaas word op deeglike huwelikskategese aan paartjies, daarom dat daar in die afgelope jaar ook dikwels besin is oor die invulling van die huweliksdiens, en daarom dat dit so belangrik is dat daar tydens huisbesoeke gevra word na die welstand van die huwelike van ons lidmate – ampsdraers, dit is julle taak! Maar bo alles is dit belangrik dat die weeklikse prediking die weg van die Here sal aanwys in die onderhouding van die sewende gebod.  

Broers en susters, ons mag vanmiddag luister na die wyse woorde van die Here vanuit die boek Spreuke – spesifiek oor hierdie saak. Ja, die Woord van die Here het baie oor hierdie onderwerp te sê, amper drie volle hoofstukke in die boek Spreuke, en dan praat ons nog nie van die talle los tekste wat deur die res van die boek versprei is nie. Dit is dus nie net ons tyd wat ‘n seksuele rewolusie beleef het nie. Ook die tyd van die Ou Testament was seksueel rewolusionêr; ook die volke rondom Israel was rebels in hulle omgang met die sewende gebod. En Israel was nie immuun daarteen nie – gaan lees maar hoe dikwels die Here sy volk bestraf oor hulle owerspel en huweliksontrou. En in daardie wete skryf die leermeester van die boek Spreuke aan sy leerling – sy ‘seun’ – wyse woorde oor die onderhouding van die sewende gebod.

Tema: Die wysheid van die Here leer vir ons die dwaasheid van die sonde teen die 7de gebod!

  1. Hoe hierdie dwaasheid begin

  2. Wat hierdie dwaasheid tot gevolg het

  3. Hoe hierdie dwaasheid teengegaan kan word

1. Dit is vroegaand. Salomo, die skrywer van die meeste van die spreuke in die Spreuke-boek, sit voor sy venster; hy kyk uit oor die geroesemoes van die stad. Die maaltyd is genuttig, en die manne gesels nog ‘n bietjie in die straat. Dit is ‘n heerlike, soel, oosterse aand. En dan kom daar ‘n vrou aan – sy trek aandag deur haar kleredrag. Onrustig loop sy rond – nou buitekant, dan weer op die pleine, en sy staan by elke hoek en loer. En dan is daar ook ‘n jongman – ‘n naïewe, dwase jongman. Hy hang rond in die omgewing van haar huis. Skielik sien sy hom raak, en haas haar na hom toe. Sy gryp hom en soen hom onbeskaamd.

Gemeente, is dit so ‘n vreemde scenario wat Salomo hier skets? As ons nou verby die besonderhede van die verhaal kyk, dan sal ons sien dat drama’s soos hierdie hulleself nog daagliks in ons wêreld afspeel. Naïewe, dwase mense wat toelaat dat hulle gevang word in die strik van ontug en owerspel. En ons wat dit gadeslaan en nog nie in so ‘n situasie was nie, vra onsself af: “Hoe gebeur dit? Hoe kom dit sover?” Wel, kom ons kyk vanuit ons Skrifgedeelte hoe dit so ver kom, en dan sal u hooplik sien dat niemand van ons immuun is teen hierdie dwaasheid nie. 

Die eerste wat ons sien by hierdie jongman is dat hy homself in die omgewing van die ontugtige vrou beweeg. Ons lees in hoofstuk 7:8: “wat op die straat verbygaan naby haar hoek en in die rigting van haar huis stap…” In plaas daarvan om die verleiding te ontvlug, soek hierdie jongman dit op. En as hy eers naby haar is, word die verleiding soveel te meer. Want dan is daar haar uitdagende kleredrag hier reg voor hom, haar kleredrag wat die klem plaas op haar vroulike liggaam. En om dinge te vererger, begin sy met hom praat – subtiele woorde. Die Spreuke-digter verwys verskeie kere na die tong en die lippe van die verleidelike vrou. Kyk maar na hoofstuk 5:3: “die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie.” Ja, sy kan so mooi praat – sy verstaan jou soveel beter as jou eie vrou en sy kom soveel mooier voor. Haar woorde drup van verleidelike liefde: ek het jou oral gesoek, ek is so alleen, my bed ruik so lekker, hou jy ook van ‘liefde’? En om nog meer oortuiging agter haar woorde te plaas, gebruik sy haar oë; Salomo waarsku daarvoor in hoofstuk 6:25: “… laat sy jou nie vang met haar ooglede nie.”

O, en hierdie vrou is slimmer as wat jy dink, sy gebruik nie slegs haar uiterlike nie. Nee, sy het baie slim metodes om haar slagoffers in te palm. Kyk maar na hoofstuk 7:14 en verder. Ons lees daar dat hierdie vrou ‘n gelofte aan die Here gedoen het, en Hy het haar wens vervul. Nou het sy aan Hom dankoffers gebring. En volgens die wet van Moses in Levitikus 7 was die meeste van die vleis van die dankoffer vir die offeraar self bedoel. Hierdie verleidelike vrou lok dus die jongman met die vooruitsig van ‘n heerlike maaltyd van dankoffervleis. So ‘n uitnodiging kan hy tog nie van die hand wys nie? Hierdie vrou doen dus haar werk onder die dekmantel van godsdienstigheid.  

Voel u die tweestryd van hierdie man? Sy worsteling noudat hy hier naby haar staan – haar liggaam sien, haar ruik, en na haar woorde luister? Moet ek saamgaan, moet ek nie? Vir ‘n oomblik twyfel hy, en dan – so lees ons in hoofstuk 7:22 – loop hy skielik agter haar aan. Sy verset is gebreek. Soos ‘n bees wat na die slagpaal gaan, loop hierdie domkop agter die verleidelike vrou aan.

Gemeente, drieduisend jaar later het die patroon van ontug en owerspel nouliks verander. Nog steeds begin hierdie dwaasheid op dieselfde manier as wat ek hierbo geteken het. Dit begin klein – jy begin met jou oë soek waar daardie ander persoon is, jy sorg dat jy soveel as moontlik in sy of haar omgewing is, julle begin praat, en voor jy weer kyk het die verleiding te groot geword om te kan hanteer.

En daarom die dringende oproep van die leermeester aan sy leerling in hoofstuk 5:8: “Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie.” Soos met so baie ander sondes, geld dit in besonder van die sewende gebod: bly eenvoudig weg van die gevare af. Moet jouself nie eens die kans gee om ‘n alternatief vir jou verhouding of verlowing of huwelik te ontdek nie. Sny die verleiding by die wortel af. As daar enige kans is op verleiding, bly dan weg van die ander se huis, kyk weg van die ander se klere, en luister nie na die ander se woorde nie. Die dwaasheid van die oortreding teen die sewende gebod begin klein, broers en susters, maar moenie eens aan daardie klein begin ruimte gee om te ontkiem nie. Wie meen dat hy in hierdie verband staan, moet oppas dat hy nie val nie. Bly ver weg van die dwaasheid! So beskerm jy jouself en jou geluk.

Vervolgens: wat hierdie dwaasheid tot gevolg het. 

2. Gemeente, hoeveel mense was daar nie al nie wat gedink het dat hulle hul gevoelens vir ‘n ander man of vrou net vir ‘n oomblik kon skietgee, net vir ‘n oomblik kon geniet van dít wat verbode is, maar wat toe die vernietigende effek daarvan moes ervaar? Ja, vir ‘n oomblik smaak die ander persoon miskien soos heuning, maar – sê Salomo in hoofstuk 5:4 – “op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ‘n swaard aan weerskante skerp.” En, as ons nugter daaroor nadink, dan is dit eintlik logies. Want “kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie” – lees maar hoofstuk 6:27-29.

Gloeiende kole dra jy mos nie in jou broeksak rond nie! Jy kan tog nie dink dat jy kole in jou sak kan sit sonder dat jou broek aan die brand slaan nie? Net so dom is dit om te dink dat jy in ontug en owerspel met ‘n ander man of vrou kan lewe, sonder dat daaraan enige risiko’s verbonde is. So iemand speel met vuur, so iemand omarm die vuur. En daar is baie wat kan vertel watter verskriklike brandwonde dit veroorsaak vir jou lewensmaat en jou gesin. Die gevolge is vernietigend… 

Die gevolge is in die eerste plek vernietigend vir jou finansies – immers, om in ontug te lewe, kos geld. Jy moet die ander een gelukkig hou, jy moet die ander se familie gelukkig hou, jy begin finansieel bydra aan ‘n huishouding wat nie joune is nie. En om te sorg dat jou ontrou nie oopgevlek word nie, moet jy miskien selfs betaal om ander te laat stilbly. Lees maar hoofstuk 5:8-10: “Hou jou weg ver van haar af… sodat jy nie jou bloei aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie; sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van ‘n uitlander kom nie.”

Die gevolge kan in die tweede plek vernietigend wees vir die gesondheid – immers, om in ontug te lewe, kan lei tot verskeie geslagsiektes. Soos hoofstuk 5:11 sê: “en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is.” Verder kan dit ook lei tot sielkundige moeites as gevolg van hierdie sonde teen die sewende gebod.

Die gevolge kan vervolgens vernietigend wees vir jou eer en goeie naam – immers, in ‘n gesonde maatskappy is dit ‘n skande om in ontug te lewe. In die kerk van Christus weet mense dat ontug en owerspel die grondslae ondermyn van die gesin, van die gemeente, maar ook van die samelewing. En daarom is dit in besonder in die kerk ‘n skande om in ontug te lewe. Lees maar Spreuke 6:33: “… slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie.”

Die gevolge kan in die vierde plek vernietigend wees vir jou lewe – en dit word in letterlike en figuurlike sin bedoel. Letterlik, want die wet van Moses het die doodstraf gebied in geval van owerspel. En daarby kon die jaloesie van die ander party se man jou einde beteken, soos wat ons lees in hoofstuk 6:34: “want jaloersheid is ‘n toorngloed in ‘n man, en op die dag van wraak verskoon hy nie.” Maar ook figuurlik, want jou lewensgeluk staan op die spel. Reeds tydens jou lewe kan jy dood wees, “want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk almal wat deur haar vermoor is. Haar huis is weë na die doderyk, wat afdaal na die kamers van die dood” (7:26-27).  

Gemeente, sien u die vernietigende gevolge van ontug en ontrou? Op alle fronte van jou lewe gaan jy slegs agteruit wanneer jy toegee aan die verleiding van daardie ander man of vrou. Nêrens is daar langtermyn voordele nie. Owerspel is verwoestend – vir ander en vir jouself. Vir ander, want dit bring groot hartseer vir jou lewensmaat, vir jou gesin, vir die gemeente, vir die Here! Maar ook verwoestend vir jouself, want vir die res van jou lewe is daar negatiewe konsekwensies, en agtervolg die wroeging jou waarvan ons lees in hoofstuk 5:12: “Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad, en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie!”

En daarom, broers en susters, moenie wat jy het, verruil vir die groen gras aan die ander kant van die draad nie. Daarmee wil niemand sê dat jou huwelik altyd maklik is nie, niemand gee voor om te verstaan watter moeite jy moontlik deurmaak in jou huwelik nie. Maar besef dat die Here jou en hierdie vrou of hierdie man saamgevoeg het in ‘n verbond – daar is groot heil daarin om hierdie verbond te handhaaf, hoe moeilik ook al. En die onheil is des te groter wanneer jy daarvoor kies om die weg van dwaasheid te volg. Wees wys met die vrou en die man van jou jeug.

Daarop let ons ten slotte: hoe hierdie dwaasheid teengegaan kan word. 

3. Salomo het ook nog baie duidelike advies oor hoe die dwaasheid teengegaan kan word. Nie net duidelike advies nie, maar ook baie mooi advies. Soos ‘n vader vir sy seun, sê Salomo in feite: “My seun, dit is mos nie nodig om na ‘n vreemde vrou te gaan as jy so ‘n liewe vrou by die huis het nie? Geniet daarom van die vrou van jou jeug.” Salomo gebruik in hoofstuk 5:15-20 die beeld van ‘n waterfontein om sy punt te maak.  

“Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put” – die Here gee in jou man of vrou vir jou ‘n reënbak vol met heerlike water. Daaruit mag jy al jou dors les, jy het nie nodig om dit êrens anders te gaan doen nie. Jy het nie nodig om jou dors te gaan les in die fonteine wat buitentoe oorstroom, en drink vanuit die waterstrome op die pleine nie. Hoekom sou jy dit wou doen terwyl jy by die huis ‘n privaat skat van die Here ontvang het waaruit jy na hartelus kan drink? Of wil jy hê dat jou eie fontein na buite moet begin oorstroom, sodat ander saam met jou daaraan kan drink? Wil jy, deurdat jy jou man of vrou verwaarloos, veroorsaak dat hy of sy by ander bevrediging gaan soek? Onthou, wanneer dit gebeur, is sy nie meer jou eie reënbak nie, maar ‘n openbare fontein waaruit almal kan drink. Maar nee, julle twee moet slegs vir mekaar wees. Kom, geniet daarom van mekaar. Verheug jou oor die vrou van jou jeug; ja, sy is mooi – “die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”

Dit is pragtig hoe die Spreuke-digter ons oproep om werklik vreugde te vind in die een wat die Here aan jou gegee het. En ons hoor tegelykertyd sy oproep om die smeulende ontevredenheid oor jou man of vrou uit jou hart te verwyder. Trap daardie vuurtjie dood. Maak plek vir ware geluk en wees dankbaar vir die man of vrou wat God jou geskenk het – soos wat jy dankbaar was toe julle nog jonk en verlief was.

Gemeente, in feite gee Salomo hier presies dieselfde raad as wat ons in die Nuwe Testament ook weer terugvind, wanneer Paulus sy lesers oproep om elkeen sy eie vrou lief te hê – kyk maar na Kolossense 3:10 en Efesiërs 5:28. En, broers en susters, dit is nou die geheim van die hoogste huweliksvreugde! In ons tyd word hierdie bybelse riglyn afgemaak as beperkend vir die seksuele ontplooiing. Daar moet die vryheid wees om oral uit te toets, om oral bevrediging te vind. Maar die praktyk wys dat dit groot ongelukkigheid en hartseer bring. Glo daarom maar wat die Skrif ons leer. Die wagwoord is om saam, as man en vrou, in mekaar en in die Here geluk te vind. Soos wat die Skrif sê: “Manne, julle moet jul vroue liefhê” en “hierdie twee sal een vlees wees.” Alle huweliksgeluk op aarde steun hierop!  

Gemeente, die dwaasheid is groot van dié wat hierdie duidelike Skriftuurlike riglyne in die wind slaan. Dit is net dwase wat dit doen! Maar kom ons wees eerlik: is ons nie almal soms maar dwaas nie met betrekking tot die sewende gebod nie? Is daar nie by ons almal die geneigdheid om die wysheid van die Here in die wind te slaan nie? Laat ons daarom hard wees teen die sonde, maar laat ons saggies werk met die dwase sondaar, want ons is almal dwase sondaars in hierdie opsig.

En ons sien dit pragtig by die Here Jesus in Johannes 8. Die Fariseërs en skrifgeleerdes bring in hierdie stukkie geskiedenis ‘n vrou wat in egbreuk betrap was, na Jesus toe. Moses se bevel in hierdie opsig was baie duidelik: stenig die skuldige partye. Maar die Fariseërs en skrifgeleerdes wil Jesus se opinie hieroor hoor. Aanvanklik sê Hy niks nie; Hy teken slegs prentjies in die grond. Toe hulle egter by Hom bly aandring op ‘n antwoord, het Hy Homself opgerig en gesê: “Laat dié een van julle wat sonder sonde is, die eerste ‘n klip op haar gooi.” En toe hulle dit gehoor het, het hulle, deur hul gewete bestraf, een vir een weggegaan – van die oudste af. Is dit nie ‘n interessante volgorde nie – van die oudste af? Hulle het hulleself geken… 

En dan bly Jesus alleen met die vrou agter. En Hy het vir haar gesê: “Vrou, waar is daardie beskuldigers van jou? Het niemand jou veroordeel nie?” En sy antwoord: “Niemand nie, Here.” En toe sê Jesus vir haar: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan heen en sondig nie meer nie.” Ja, gemeente, daar is vergewing by die Here vir elkeen wat opreg berou het, vir elkeen wat voortaan in harmonie met God se sewende verbondswoord wil lewe. Dit is daarom nog nie te laat om die pad van dwaasheid te verlaat en op die weg van die wysheid te begin wandel nie. God wil jou wys maak met die sewende gebod. Luister na sy wysheid, laat jouself onderrig.

En mag die Here gee dat in ons gemeente gesonde verhoudings tussen jong broeders en susters mag groei, mag Hy gee dat daar gesonde huwelike sal wees, en dat daar ‘n gesonde basis vir ons gemeentelike lewe mag wees. En dan mag ons in verband met die sewende gebod teenoor die wêreld getuienis aflê: ons is totaal anders. Geen seksuele rewolusie nie, maar reine genieting in die vrees van die Here!

Amen 

Liturgie (aand) 
Groet en afkondigings
Seën: Ons hulp is in die Naam van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eersgeborene uit die dode, en die Owerste oor die konings van die aarde. Amen.
Sing Ps. 104:1, 3, 12 en 19
Kort nagmaalsformulier en –viering
Sing:

  • tafel in gereedheid Ps. 23:1-2
  • Lofverheffing en formuliergebed
  • aan tafel Ps. 23:3

Lees: Spreuke 5
      Spreuke 6:20-7:27
Sing Ps. 128:1
Teks: HK, Sondag 41
Preek
Amenlied Ps. 128:2-4
Gebed
Belydenis van geloof (staande en singende)
Kollekte
Slotsang Skr. 41:2-4
Seën: Die Here sal jou seën en jou behoed, die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees, die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou sy vrede gee. Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)