Mense tussen dood en lewe

Predikant: 
Ds T de Boer
Gemeente: 
(onbekend)
Datum: 
2004-09-05
Teks: 
Lukas 7
Preek Inhoud: 

Tema: Mense tussen dood en lewe

1. Ons is deur die dood omgewe (11-12)

2. Ons word geroep tot die lewe (13-15)

3. Dit laat ons van eerbied bewe (16-17)

Gemeente van Jesus Christus.

Dis vir my wonderlik om na baie jare weereens in u midde te wees. Om die gesigte te sien. Om saam die Here te aanbid. Om in dié gemeente die Evangelie te mag bedien.

Ja, dis vir my 'n geweldige voorreg: om te mag preek. Of dit nou in Nederlands of in Sotho of in Afrikaans is: dis die Woord van die lewende God. Hoe sê Petrus dit in Johannes 6 vers 68?

Here, na wie toe sal ons [anders] gaan? U het die woorde van die ewige lewe.

Dis waaroor dit in die evangelie en in die kerk gaan. Ons word van die sondeskuld en van die ewige dood bevry.

Maar dis dalk ook die moeilikste.

Ná kerk ry jy huis toe. Daar wag dié leë stoel vir jou. Jou man, jou vrou is nie meer daar nie. – Daar hang jou kind se foto. Hoe mis jy hom of haar! – Of môre moet jy self dokter toe gaan. Die siekte bly maar pla.

Ek ken nie julle persoonlike omstandighede nie, maar ek is seker almal herken dit. Waar is nou die Woord van die lewe? Wat sien jy, ja wat voel jy daarvan? Die koerant skryf oor plaasmoorde en fratsongelukke. – Dis de dood wat heers!

Die Woord van die lewe en die mag van die dood. Watter teenstelling is daarin. Elke dag se dinge en Sondag se erediens. Preek, doop, nagmaal. Dis twee wêrelde wat los van mekaar staan. Hoe bring 'n mens dit by mekaar?

Vandag se hoofstuk – Lukas 7 – bring dit vir ons by mekaar. Hierdie kosbare geskiedenis oor Nain se wonder leer ons iets – nee, baie – oor Jesus Christus én oor onsself. Kom ons luister.

Tema en punteverdeling:

Mense tussen dood en lewe

  1. ons is deur die dood omgewe (11-12)
  2. ons word geroep tot die lewe (13-15)
  3. dit laat ons van eerbied bewe (16-17)

Deur die dood omgewe

Ja, watter teenstelling. Twee wêrelde wat mekaar uitsluit. Dood en lewe.

Herken jy dit?

Dalk het jy self al 'n begrafnis moet deurmaak. Jy ry agter die lykswa aan Zandfontein toe. En buitekant jou kar se venster is daar 'n ander wêreld. Jy huil jou groot huil. Maar vir hulle daar buitekant beteken dit niks nie. Die lewe gaan net so aan. Laggende kinders wat  by die skool uit kom. Mense wat winkel toe gaan.

Dit werk nogal vervreemdend. Lewe en dood: twee wêrelde wat nie aan mekaar raak nie maar wat by mekaar verby gly …

Dis wat ons basies in Lukas 7 sien.

Daar is twee groepe mense – kom ons sê twee optogte – wat mekaar ontmoet. Die eerste een kom aan by die stad en gaan daarin: Jesus en dié wat vir hom volg. Die ander gaan trek die stad uit – buitekant die muur het die grafte gelê. Dis 'n roustoet.

Lukas teken dié tragiese optog met 3 woorde:

1. dit is 'n jong man. Wat beteken dis erger as 'n ouer persoon. Almal moet sterf, dis waar. Maar hoe verskriklik as jy jou dae nie eers tot op die helfte mag bring nie (Ps 55:24, 102:25).

2. dan gaan dit oor haar enigste seun. Dis nog 'n slag erger as wanneer jy een uit ses of een uit tien moet begrawe. Dit laat 'n mens bitterlik rouklaag (Sa 12:10)!

3. en asof dit nog nie erg genoeg is nie: hierdie ma is reeds 'n  weduwee. Wie gaan nou nog vir haar ondersteun? Dit is maar een van Israel se kwetsbaarste groepe.

Sien jy hulle gaan?

  • die draers met die baar, nie 'n toe kis soos by ons nie
  • die ma wat rou, watter verdriet
  • baie mense uit die stad, die pros wat kla en op die fluit speel, maar ook familie en bure

Sien jy jouself gaan?

Onthou jy nog die dag toe jy die swart motor voor jou sien ry het? Jou ma, jou man, jou eie kind was daarin. Hierdie geskiedenis roep by ons donker herinneringe op. Dit bepaal jou by jou eie diep verdriet.

Die lewe gaan aan, maar vir jou staan die tyd stil.

In die middel van die lewe, is ons deur die dood omgewe.

En dan, terwyl hulle uit die stadspoort uit beweeg, kom daar 'n ander stoet Nain binne. Watter skril kontras in hierdie storie. Dood en lewe ontmoet mekaar.

Die dood, die koning van die verskrikkinge, soos die Bybel hom noem in Job 18 vers 14. En Jesus, die koning van die lewe. Is dit nie so nie? In die Woord is lewe, en die lewe is die lig vir die mense (Jh 1:4, 1 Jh 1:2). Dis hy wat in die donker wêreld gekom het om die dood tot niet te maak en die onverderflike lewe aan die lig te bring (2 Ti 1:10, Jh 3:36, 6:33).

Twee optogte wat by mekaar verbyskuif. Lewe en dood. Maar nie vandag nie! Hier skuif hulle nie net verby sonder om aan mekaar te raak nie. Die koning van die lewe oorwin die koning van die verskrikkinge.

Mense tussen dood en lewe

  • is wel deur die dood omgewe
  • maar word geroep tot die lewe!

Dis my 2de gedagte vir vanaand.

Geroep tot die lewe

Is dit toevallig, hierdie ontmoeting by Nain se poort? Dood en lewe wat toevallig in mekaar vasloop … Nee wat, hier is niks toevallig nie. Die Here God lei dit so dat hulle mekaar hier ontmoet.

En dit word 'n tromp-op botsing. Buite die poort van Nain vlieg dié twee in mekaar vas. En die stukke spat in die rondte!

Dit sal tog gebeur dat Jesus op jou begrafnis kom!

Hulle het dit vroeër wel vir jong mense gevra as hulle gaan trou: Het julle Jesus genooi? Dit was dan dikwels op sterkte van Johannes 2, die bruilof in Kana, waar daar staan: “Jesus en sy dissipels was ook na die bruilof genooi.” (2:2). Dan gebeur daar iets. As Jesus Christus op jou troue kom …

Maar as Jesus Christus op 'n begrafnis kom, kyk bietjie  wat gebeur dan!

Jy kan dit maar vir Lasarus se susters gaan vra (Johannes 11). Of vir Jairus-hulle (Lukas 8). As mens Jesus nooi, dan word dit beslis geen rustige begrafnis nie. Dalk gaan hy vir iemand opwek uit die dood …

Dis wat hulle in Nain agterkom.

Twee prosessies ontmoet mekaar. Die dood en die lewe. Twee optogte skuif raaklings langs mekaar. -–Of nee, juis nie!

Jesus gaan nie net aan asof dit hom nie raak nie. Hy staan stil. Hy gaan nader. Hy raak die baar aan. En om mee te begin, sê hy vir die eensame weduwee: Moenie huil nie!

Stel jou bietjie voor. Tydens die roudiens of by die graf. Jy krimp in mekaar van verdriet. En iemand gaan staan en sê: Bly stil, moenie dat jy huil nie!

Wel, uit ons mond sou dit kliphard wees. Om nie te sê kranksinnig nie. Watter yslike gebrek aan meegevoel. Mens mag mos huil, stukkend wees in jou verdriet. Die dood is verskriklik.

Ja, ek sou dit niet kon gesê het nie.

Maar kyk wie praat. Dis die Heer!

Dalk het u raakgesien hoe sê Lukas dit in vers 13: En toe die Here (kuriov) haar sien …

Dit is 'n titel wat die evangeliste maar skaars gebruik. Mens kry dit wel later in Handelinge en in die briewe. Jesus van Násaret blyk toe die Heer te wees.

Dis net Lukas wat hierdie naam al wel gebruik, reeds tydens Jesus se lewe op aarde (sien 10:1, 11:39, 12:42, 13:15, 17:5v, 18:6, 22:31.61). Jy kry dit ook hier: en toe die Heer haar sien. Dit is nie toevallig so gesê nie!

Jesus is die Heer.

Sy woord kom met gesag: moenie huil nie.

Sy optrede verraai autoriteit: hy raak die baar aan – staan stil met dié stoet!

Sy woord het krag: hy spreek die jongman op die baar toe. Nee, nie soos dit partykeer wel by 'n begrafnis gebeur nie. Dan gaan mense skielik dié een wat in die kis lê, toespreek. Dis baie snaaks: dié persoon hoor jou mos nie meer nie?

Nee maar hier is dit anderste.

Die woord van hierdie Heer het só baie krag, dit dring selfs deur in die ore van 'n persoon wat gesterf het.

“Seun,” sê hy, “vir jou sê ek (neaniske soi legw) staan op!” En toe staan dié mannetjie op. Hy gaan regop sit. Hy begin praat. Hy lewe weer!

Hoekom het Jesus dit gedoen?

Was dit dalk om sy mag te demonstreer? Om te wys hoe sterk is hy en wat kan hy alles?

Nee, ek dink daar is 'n ander rede. Kyk nog 'n slag na vers 13:

En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel …

Hy het haar gesien. En dit het hom getref.

Hy is diep binnekant (esplagcnisyh) deur dié weduwee aangeraak. Met – soos wat daar staan –innerlike ontferming.

Die Griekse woord wat gebruik word, kan iets soos ingewande beteken. Dis dus nie iets soos oppervlakkige medelye nie. Ag ja, almal voel saam met so'n arm weduwee. Kyk maar bietjie al die mense wat gekom het. Wie sou nie vir haar jammer kry nie …

Maar medelye is gou verby. So 'n paar weke ná die begrafnis is dit weg. Die tyd stap aan, wat kan jy maak?

Innerlike ontferming gaan verder.

Het jy die ander rêrig in sy of haar nood raakgesien? Dit tref jou diep van binne. Dan bly jy aan dié ander dink.  Jou hart gaan na hom of haar uit. Jou hande en voete kom in beweging, deur liefde.

Medelye is magteloos. Ontferming lei tot aksie. “Wat kan ek vir jou doen?”

Dis dié liefde wat ons hier by Jesus kry. Gesien » geraak » innerlik bewoë » in aksie.

Dit is des te opvallender omdat ons niks lees oor enige vraag van hierdie vrou nie. Dalk het u dit ook al opgemerk.

'n Bietjie vroër in dié hoofdstuk 7, was daar 'n Romeinse hoofman wat met 'n versoek na die Here toe gekom het. Hy het om hulp gevra vir sy siek kneg. Die Here het hom verwonder oor sy groot geloof, en dit ook beloon (7:1-10).

Hier is geen sprake van 'n versoek nie. Daar is niks oor die weduwee se geloof nie. Jesus se ontferming kom van binne uit!

Weet jy, hierdie bybelteks is vir my een van die evangelie se hoogtepunte. Oor ek my Here Jesus sien. Hy wat diep geraak is binnekant, deur ons mense in ons nood. Hy is bewoë oor my in my trane en in my verdriet. Oor die gebrokenheid van ons menslike bestaan.

En hy kom in aksie. Dit is wat agter Kersfees en agter Goeie Vrydag lê. Hy het ons só jammer gekry. Hy het ons kom red!

Hier eindig die vreeslike optog van die dood. 'n Lang prosessie van ou mense en jong mense. Siektes en selfmoorde. Ongelukke en doodslag en vroeggeboortes. Kry dit dan nooit 'n keer 'n einde nie?

Ja, hier stop dit.

By Jesus Christus.

Die dood word verslind in die oorwinning (1 Ko 15:54). By Christus wat kan sê: Ek is die opstanding en die lewe (Jh 11:25v). En wat alles onderstebo keer. Of ons nou al lewe of dat ons sterf – ons behoort aan die Here (Rm 14:8). Dis hy wat die sleutels van die doderyk en van die dood het (Op 1:18).

In die woorde van Hebreeërs 2 verse 14 en 15: (…)

En dit geld dieselfde vir ons, gemeente.

Al is ons 2000 jaar verder. Ons moet steeds ons gestorwenes begrawe. Ons kan langs die weduwee uit Nain gaan staan. Temidde van die lewe, is ons deur die dood omgewe...

Maar hy sê dit vir ons in 2004: moenie huil nie. Ja, jy mag darem verdrietig wees – maar jy mag nie treur nes mense wat g'n hoop het nie (1 Te 4:13).

Jesus kan dié wat dood is, laat herleef.

Jesus láát dooie mense weer leef.

Daar is twee aspekte aan, sê ons met woorde uit Johannes 5.

  • As jy luister na die evangelie, dan het jy klaar oorgegaan uit die dood in die lewe. Johannes 5 vers 24. En selfs as jy sterf, word dit nie anders nie. “Wie in my glo, sal leef al het hy ook gesterf.” (11:25v).
  • En wat dan van die kis en van die graf? Ja, hulle is steeds daar. Maar die dag kom dat almal wat in die grafte is, na Christus se stem sal luister. Johannes 5 vers 28. Sy stem dring deur tot in die graf en roep die dooies tot die lewe. Hulle staan op.

Hierdie ma het haar kind terug gekry. En u sal ook u gestorwe geliefdes terug kry. Jou kind. Jou oupagrootjie. Jou vrou. Om saam by die Here te wees.

Hier begin dit.

Hy kry vir jou so innig jammer. Hy wat die Heer oor dood en lewe is.

Mense tussen dood en lewe

  • al is ons deur die dood omgewe
  • ons word geroep tot die lewe
  • dit laat ons van eerbied bewe

Dit laat ons van eerbied bewe

So kom ek by die 3de deel van hierdie preek.

Die wonderlike gebeure in Nain het onder die mense baie opslae gemaak. Al was daar nog g'n TV of radio of koerante nie – die nuus het baie vinnig rondgegaan. “Het jy gehoor?” Dit het orals rondgesing.

Die mense is baie beindruk – ‘vrees’ (fobov) is meer as net angs – beindruk deur Jesus se mag. Hulle noem die Here se naam in dié verband: God het sy volk besoek.

Het u raakgesien dat hulle dieselfde woord as Sagarias in sy lied gebruik (Lc 1:68)?

Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat hy sy volk besoek het (epeskeqato) en vir hulle verlossing teweeggebring het …

Die Here het by sy volk kom besoek aflê (Hd 15:14) om hulle te kom red. Dis hoe hulle Nain se groot wonder ervaar het. Koninklike, ja Goddelike besoek.

Is dit nie 'n pragtige reaksie nie?

Hoe sou jy reageer het?

Dit lyk vir my ek sou baie op dié seun gefokus het. Is dit niet wonderlik nie – hy het uit die dood uit teruggekom!

Maar hier rig hulle almal die aandag op Jesus. 'n Profeet van God. Die redder wat die liefde en jammerkry van God kom wys het.

Twee prosessies het mekaar teëgekom. Meer as 'n toevallige ontmoeting, soos ek netnou gesê het. 'n Head-on collision, tromp-op het die lewe en die dood in mekaar vasgery. En die stukke het orals rondgevlieg.

Partykeer ry jy iewers voorby waar daar 'n accident gebeur het. Glasskwerwe en stukke yster lê nog daar rond. Só het die stukke van hierdie crash alle kante opgevlieg. Tot by ons in Pretoria, 2004.

Die dood en die verdriet het in die koning van die lewe vasgery. Hulle is nou 'n total loss. Die Here Jesus bring die ware lewe aan die lig.

Twee optogte ontmoet mekaar. Die lewe kom in die stad in. Die dood stap Nain uit. En aan die einde gaan al die mense saam verder. In een lang feestelike stoet wat God prys: die Here het sy volk kom besoek!

Kom ons sluit aan by dié feestelike optog.

Mense tussen dood en lewe

  • ja, ons is deur die dood omgewe
  • maar ons word geroep tot die lewe
  • sal ons dan nie van eerbied bewe nie?

Oom Paul van Hertzogville is toe nie deur die kastige profeet opgewek nie. Nee, die dood is nog altyd daar. Dalk word u – of ek – hierdie week geroep om iemand te gaan bêre.

Maar vandag het u wel die optog van die lewe ontmoet. Orals waar Jesus Christus verskyn, daar gaan die dood aan flenters. Só wil Hy ook in jou lewe inkom.

Leef dan voor sy aangesig. Om hom eerbiedig en dankbaar te loof en te prys.

Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het!

Gebed na die preek:

Here, ons sê baie dankie dat ons vandag in die kerk vir U mog ontmoet. Dis nie gewoon nie. Dis baie spesiaal. U weet wat vandag se boodskap in ons almal losgewoel het.

Dankie, Here Jesus, dat ons U mog raaksien in u innerlike ontferming. Dat U ons só jammer gekry het. Dat U vir ons in beweging gekom het. Sodat ons mag leef voor u aangesig.

Dankie, Heilige Gees, dat U aan die werk bly in ons lewe. Deur die Woord, deur die doop en die nagmaal. Om ons blywend te laat deel in die werk van Christus.

Ons bid vanaand vir weduwees en wewenaars en wese. In die gebrokenheid van hulle lewe is dit partykeer maar moeilik om U te bly sien. Ons vra om troos en om perspektief.

Vir dié wat dit moeilik vind om in U vertroue te bly stel – hoekom gebeur dit almal – bid ons dat U hulle terugvoer na u mag, u liefde, u vrede.

Vir dié wat siek is – as die pad lank is en dalk sonder uitsig – of dié wat in hulle ouerdom al hoe meer eenkant te stane kom – help hulle om ver te kan kyk deur die evangelie.

Here, ons bid vir die week wat voorlê: of U ons wil seën in ons daaglikse werk, die kinders wat skool toe gaan. Ons bid om gesondheid, om beskerming. Maar ook dat ons die gawes wat U gee, goed mag gebruik.

Ons bid vir die werk in ons gemeente en orals in u koninkryk. Gee dat ons almal daarby betrokke mag voel. En sal U ons diakens en oudstes help om ons daarin te stimuleer.

Leer ons ook om die goeie nuus aan ander oor te dra. Almal persoonlik. Of ook wat ons as gemeente doen in evangelisasie en sending.

Dankie Vader dat ons veilig is by U. Dankie vir die lewe wat U aan ons gee deur Jesus Christus ons Here. Amen.

Liturgie: 

Lees: Lukas 7:11-17.
Sing: Ps 147:1,2; Ps 63:1,2; Ps 63:3,4; Ps 12:6,7; SB 27; Ps 56:4.

Gebed voor die preek:
Heer my God, ek buig met vreugde
voor u troon ootmoedig neer.
Sal ek roem op eie deugde?
Nee, my roem is in my Heer.
Jesus Christus, deur u lering
lei u sondaars tot bekering.
Bron van ootmoed, leer ook my
diep afhanklik in u bly.
Amen.