Lidmate betuig by die aflegging van hul openbare geloofsbelydenis hul instemming met hierdie leer van die Heilige Skrif en van die Christelike Kerk en hulle belowe om in hierdie leer tot die einde van hul lewe standvastig te bly. Alle ampsdraers in die Vrye Gereformeerde Kerke is verplig om hulle instemming met die belydenisskrifte van die kerk te laat blyk deur hul naamtekening te plaas onder 'n Ondertekeningsformulier, waarin hulle belowe om niks wat daarmee in stryd is, te leer nie, en om in geval hulle 'n afwykende mening sou kry, dit nie dadelik in die kerke uit te dra nie, maar dit eers ter beoordeling aan die kerke saam voor te lê. Verbreking van hierdie belofte sal onmiddellik 'n skorsing tot gevolg kry.
Kerkorde
Die Vrye Gerefromeerde Kerke reël hul onderlinge samelewing volgens die 1988-uitgawe van die Kerkorde wat oorspronklik deur die Gereformeerde Kerke in Nederland in die Nasionale Sinode van Dordrecht in 1618/19 aamgeneem is. Die uitgangspunt van hierdie Kerkorde is dat die plaaslike kerke nie 'n afdeling van een landskerk is nie, maar almal selfstandige, plaaslike kerke van Jesus Christus, met ampsdraers wat geen ander oopsiener of bestuurder as die Koning van die kerk bo hulle het nie. Maar aangesien die afsonderlike selfstandige kerke deur dieselfde band aan Christus ook met mekaar verbonde is, het hulle hul nogtans verplig tot fdie onderhouding van 'n kerkverband waarin die kerke mekaar by die eenheid van die geloof en die reg van Christus in die kerke vashou, bemoedig en aanspoor. Die afsprake daarvoor is in die kerkorde gereël.
Liturgie
Die liturgie wat in die eredienste van die Vrye Gereformeerde Kerke gebruik word, is afkomstig uit die tradisie van die Calvinistiese Reformasie. Die kerke gebruik die Psalmberyming wat ook in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gesing word, asook hulle 50 Skrifberymings. Die liturgiese formuliere (vir die bediening van die Doop, die Nagmaal, die Tug, vir die aflegging van Openbare Geloofsbelydenis, die bevestiging van Ampsdraers en van 'n Huwelik) is vir die grootste deel Afrikaanse vertalings van die Formuliere van ons susterkerke in Nederland, Kanada en Australië.