Sinode Kaapstad 2008 en Teologiese Opleiding
Die kerke deel die verantwoordelikheid vir die opleiding en voorsiening van predikante, en dit is dus ‘n sinodale aangeleentheid. Elke sinode benoem Deputate Kuratore om toe te sien dat hierdie opdrag uitgevoer word, en terug te rapporteer aan die daarop volgende sinode.
Deputate Kuratore
Alhoewel die sinode besluite neem oor teologiese opleiding, maak Deputate Kuratore aanbevelings aan die sinode. Die taak van Deputate Kuratore kan saamgevat word in die aanbeveling dat hulle leiding en verantwoordelikheid neem in die ontwikkeling van die Predikante Opleiding Struktuur (POS), en terselftertyd verantwoordelik is vir die opleiding van huidige en toekomstige teologiese studente. Die redes hiervoor is enersyds dat die huidige studente kan afstudeer, terwyl die POS gevestig word, en andersyds omdat die begroting vir beide hierdie funksies voorsiening moet maak.
Die ontwikkeling van die POS
Ds Breytenbach het in opdrag van die Deputate Kuratore statute en regulasies vir die POS opgestel waarin die verskillende take en verantwoordelikhede van al die betrokke partye uiteengesit word. Die aanbeveling aan die sinode sal wees dat dit deur die Nasionale Koördineerder gefinaliseer word.
Aanbevelings sluit die volgende in:
Om die uitnemende vaardighede van prof RM Britz, Direkteur van Programme van die Fakulteit Teologie by die Universiteit van die Vrystaat, te bekom om aan die hand van die kurrikulum en uitkomste soos deur die sinode van Kaapstad 2006 uiteengesit, ‘n opleidingsprogram vir die kerke te ontwikkel. Dit sal ‘n duidelike beeld van die kerke se opleidingsprogram asook goeie kommunikasie met ander teologiese instellings tot gevolg hê, en studente help om sonder versuim vir verdere studie by ander instansies geëvalueer te kan word.
‘n Prospektus wat deur die POS gefasiliteer word, word vir gebruik deur kerke, voornemende studente, dosente ens uitgegee. Die statute, regulasies, kurrikulum en die vereiste uitkomste sal daarin vervat word. Dit behoort ‘n handige bron van inligting oor die opleiding te wees.
Omdat dit nie moontlik is om ‘n volledige kurrikulum deur dosente uit die kerke aan te bied nie, word voorlopig gebruik gemaak van ander instellings waarheen studente verwys word om ‘n BTh te voltooi. Dit sal egter gereformeerde instellings wees waarvan die kurrikulums vooralf geëvalueer is vir gebruik deur ons studente. Omdat daar leemtes in sodanige programme is, maar ook om die gaping tussen graad 12 en BTh 1 te oorbrug, is dit nodig om die moontlikheid van oorbruggingskursusse en voorbereidingsprogramme te ondersoek. Vir studente wat ‘n BTh voltooi het, word ‘n nagraadse, multi-dissiplinêre diploma in Teologie ondersoek. Dit moet fokus op eksegetiese vaardighede, persoonlike funksionering en gevorderde studievaardighede om die student voor te berei op die klassikale eksamen en op die bediening self. Dit moet gevul word met die programinhoud van die POS.
Vertroulike dokumente en rekords van studente asook korrespondensie moet toepaslik geliaseer word. Daarvoor is ‘n kantoor en ‘n inligting stelsel nodig. Ook studiegidse en lesingmateriaal sal geliaseer word om dit te kan hersien en kopieer. Om hierdie taak uit te voer het die Deputate Kuratore sr GI de Wet as administratiewe persoon aangestel.
Werksomskrywings
Die take en verantwoordelikhede van Nasionale Koördineerder, Streekkoördineerders en Dosente is deur ds Breytenbach geformuleer, deur die Deputate Kuratore goedgekeur en kan nou deur die sinode vasgestel word. Die strukturering is gebaseer op die verdeling van take en verantwoordelikhede:
- die Streekkoördineerders fokus op die uitvoering en bestuur van die opleiding op plaaslike vlak
- die Nasionale Koördineerder ontwikkel kennis en bekwaamhede en beplan en voer die opleiding strategies uit op nasionale vlak.
Die POS fasiliteer die opleiding van studente van al die kerke en pas die beginsel van vir die kerke deur die kerke toe deur:
- te werk na ‘n enkele opleidingstinstansie vir die kerke;
- die ontwikkeling van vaardighede van betrokkenes;
- samewerking te bevorder met ander opleidingsinstansies indien moontlik;
- deur die bestuur van, en toesig oor die opleiding op plaaslike vlak.
Versoek
Die lidmate van die kerke word versoek om hulleself van die aanbevelings te vergewis. Die verslag van Deputate Kuratore word aan elke gemeente gestuur. Dit kan dus sinvol bespreek word. Voorbidding vir, en meelewing met die sinode ten opsigte van hierdie belangrike aangeleentheid is onmisbaar.
|