|
Kort verslag
van die voortgesette sinode
van die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika
gehou op 18 Maart 2006 te VGK Maranata
- Opening
Ds. C. Kleijn, die voorsitter van die sinode, open die vergadering op 'n christelike wyse.
- Konstituering
As gevolg van die buitengewone
omstandighede stem die sinode in om sekundus afgevaardigde, ouderling
L.H.Th. Bosker van Pretoria, op die amptelike geloofsbrief te vervang
met die nuut afgevaardigde ouderling J.F. Raimond van Kaapstad. Klassis
Suid het, gegewe die situasie, hierdie plaasvervanging amptelik versoek.
Die buitengewone omstandighede is dat Kaapstad twee afgevaardigdes nie
kon stuur nie as gevolg van hulle ongesteldhede. Bykomstig is die feit
dat Kaapstad diep gemoeid is met die hele saak van die teologiese opleiding.
Die sinode openbaar daarmee 'n gesindheid van broederlikheid wat die
hele vergadering sou kenmerk.
Die afgevaardigdes is:
Klassis A:
Di. J.A. Breytenbach, Ds. C. Kleijn en Ds. R.M. Retief
Oudl. H. de Jager, J.F. Raimond en H.H. Schuring
Klassis B:
Di. P. Nel en M.P. Magagula
Oudl. P. Bouwman, H. Snijder, A.J. Sterk en F.J. van Dijk
Adviseurs:
Di. H.H. van Alten, P.G. Boon en J. Mhlanga
Namens Deputate TO:
Oudl. G. Hagg
Ook teenwoordig:
Oudl. B. van Dalen (Kaapstad)
Omdat ds. Kees Kleijn self
'n deputaat vir teologiese opleiding was gee hy met die vergadering
se instemming die stoel oor aan ds. P. Nel as tweede voorsitter.
- Vrug van bespreking
In kort kom die besinning van
die kerke daarop neer dat al die kerke in die proses van die ontwikkeling
van 'n eie teologiese opleiding saamgeneem wil word. Dit is raadsaam
geag om elke stap ter bereiking van die kosbare ideaal saam te gee.
Die volgende is 'n weergawe van die belangrikste besluite van die sinode.
- Deputate Kuratore
word van nou af verteenwoordigend aangestel vanuit die onderskeie klassisse.
Hulle is uit Klassis Suid: Di. P. Nel (Bethal); E. Viljoen (Kaapstad);
oudl'e B. van Dalen (Kaapstad - as sekundus) en A.L. Boessenkool (Johannesburg).
Klassis Noord: Ds. J. Mhlanga (Soshanguve); Oudl'e H.H. Schuring (Sameroeper
- Pretoria) en G. Hagg (Maranata) met ds R.M. Retief as sekundus.
- Met betrekking tot
die totstandkoming van 'n nuwe gedaante vir die TO word daar afgeskop
met 'n eerste fase waar deputate kuratore met die twee streeksverteenwoordigers
uit die Kaap en Pretoria (Di. J.A. Breytenbach en P.G. Boon) en ander
deelnemers soos die IRTT die volgende onderneem:
- Om 'n profiel op
te stel van die uitkoms van hoe die tipe student moet lyk wat by die
TO afgestudeer het. Dit sluit sy kennis maar ook sy gesindheid jeens
die gereformeerde leer in; hoe hy preke maak; hoe hy as leraar of sendeling
sal funksioneer in die SA konteks
- Om vanuit die profiel
die kursusdoelwitte op te trek
- Om die huidige opleidingssituasie
te ontleed en in die lig daarvan 'n stapsgewyse plan op te trek om uiteindelik
by die instituut vir en deur die kerke uit te kom
- Geskrewe besonderhede
m.b.t. die TO vir die volgende uit te werk:
- Streeksverteenwoordigers
se take
- Sendingskerkrade
en ander kerkrade in die verband se take
- Toekomstige dosente
se take
- Hoedanig die raadgewende
taak van die deputate kuratore uitgevoer word m.b.t. die instituut
- Watter verantwoordelikhede
die sinode het m.b.t. die finansiële aspekte van die TO, soos begrotings;
kompensasie ens.
- Om 'n geskrewe rapport
uit te bring aan al die kerke nie later nie as Augustus 2006
- Om die sameroepende
kerk (Kaapstad) te versoek om 'n ad hoc sinode byeen te roep
6 weke nadat die verslag ontvang is.
- Met betrekking tot
die finansies besluit die sinode om die jaarlikse bydrae vir die Teologiese
opleiding te verhoog na R100 per siel. Die kerke sal gevra word die
bydraes wat hulle nog verskuldig oor die jaar 2005 spoedig in te betaal.
Ook word besluit om die reis en verblyf koste van die adviseurs wat
help om die eerste fase te implementeer uit die fondse van die TO te
betaal. Ten laaste kan die kuratore ? vrywilliger aanwys om met die
deputate hulpbehoewende studente te skakel om die saak van die befondsing
van studente verder stroombelyn te maak.
- Afsluiting
Ds. P. Nel sluit die vergadering
met 'n gebed. |