'n Woord vooraf
Ontstaan
Grondslag
Gemeentes
Preke
Ander
Kontakte
Klassisse
Sinodes
English




Kort Verslag van die eerste sitting* van die Sinode van die
Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
gehou gedurende 24 tot 27 Mei 2005 in die
kerkgebou van Pretoria-Maranata


Bidstond

Maandag 23 Mei 2005 lei ds. P. Nel, as konsulent van Maranata, die bidstond uit Markus 9:30-51 en Lev. 2:11-16 ter voorbereiding van die Sinodesitting die volgende dag.

Opening & konstituering

Op dieselfde aand open oudl. F.J. van Dijk die sinode namens die roepende kerk uit Rom. 12:1-3 en 9-21. Pretoria-Maranata rapporteer dat die geloofsbriewe in orde is. Van Klassis A was teenwoordig: Di. C. Kleyn, R.M. Retief en E. Viljoen en ouderlinge H.H. Schuring, J. van der Linden en J.A. Smit terwyl L.H.T. Bosker later in J. van der Linden se plek verskyn het. Van Klassis B is afgevaardig: Di. M.P. Magagula, T.K. Mogale en P. Nel en as ouderlinge P. Bouwman, H. Snijder en F.J. van Dijk. As adviseurs word na die tafel genooi di. C.F. Nicholson, J.A. Breytenbach P.G. Boon, J. Mhlanga, K.J. Kapteyn en J. van der Linden. Di. J. Bosman en P.J. Retief het verskoning gevra.

Moderamen, adviseurs & waarnemers

Die moderamen word verkies met as voorsitter ds. C. Kleyn, tweede voorsitter ds. P. Nel en as sekretaris oud P. Bouwman. Die vergadering word gekonstitueer. Van die Free Reformed Churches of Australia is br. G.B. Veenendaal teenwoordig en van die Canadian Reformed Churches is prof. Dr. C. van Dam afgevaardig. Hulle word deur die voorsitter verwelkom en kry ook sitting as adviseurs. Op Donderdag, tydens die behandeling van die rapport Kontak Binnelandse Kerke, was di. B. Fourie en N. Smit namens die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika aanwesig as waarnemers. Ds. H. Hefer het as waarnemer namens die verontruste NG Kerke verskoning gemaak en niemand van die Free Church of South-Africa het opgedaag nie. Alle afgevaardigdes en adviseurs betuig hul instemming met die Gereformeerde Belydenisskrifte deur op te staan. As notularis is br. A.W. Herder benoem.

Tydelike kommissies

Tydelike kommissies word aangewend vir die hantering van finansies, beswaarskrifte en Teologiese Opleiding. Tydens die vergadering sal Engels gebesig word en waar nodig kan getolk word. Die sinodehandelinge sal in Afrikaans opgestel word, met ‘n vertaling daarvan in Engels. Waar nodig is sr. M. Hordyk beskikbaar as tolk in die vergadering. Lede uit die moderamen, oudl. P. Bouwman en ds. P. Nel, se dienste is ook beskikbaar.

Groeteboodskappe

Op Dinsdagaand 24 Mei 2005 kry prof. Dr. C. van Dam (CanRC) en oudl. B. Veenendaal (FRCA) onderskeidelik geleentheid om namens hulle kerke groete oor te dra. Op Donderdag oggend 26 Mei 2005 kry die afgevaardigde van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika, ds. B. Fourie geleentheid om namens die kerke die groete oor te dra.

'n Nuwe brongerigte Bybelvertaling

Die Sinode neem met dank kennis van die positiewe verwikkelinge rondom 'n volgende Afrikaanse bron-georiënteerde vertaling en wys weer deputate aan vir Bybelvertaling. Hulle kan as konsulente betrokke wees namens die kerke.

Nuwe Klassisindelings

Die Sinode besluit dat die Klassisse as volg ingedeel word: "Klassis Noord" bestaande uit Mamelodi, Pretoria, Pretoria-Maranata en Soshanguve-Noord (Sameroepende kerk) en "Klassis Suid" bestaande uit Bethal, Johannesburg, en Kaapstad (Sameroepende kerk). Die eerste vergaderings van die onderskeie klassisse moet voor September 2005 deur die aangewese kerke saamgeroep word. Die ou argief van Klassis A moet oorgedra word aan Kaapstad en die ou argief van Klassis B aan Pretoria-Maranata.

Kerkverbandelike administrateur

Daar word besluit op die aanstelling van ‘n kerkverbandelike administrateur, wat die administratiewe take sal vervul wat betrekking het op die werk van sinodes en dan slegs op versoek van die roepende kerk of in direkte opdrag van die sinode. Slegs direkte onkostes wat aangegaan word, word gedek terwyl die pos nie 'n betaalde pos is nie.

Vulling van vakatures in deputaatskappe

Die Sinode besluit dat soveel as moontlik sekundi aangewys moet word vir kleiner deputaatskappe en ingeval die sekundi nie beskikbaar is nie, het die deputaatskappe die bevoegdheid om vakatures te vul, maar dan met goedkeuring van die klassisse.

Kerkverbandelike bydraes

Omdat die jonger (sending)kerke kleiner inkomstes het as die bestaande kerke kan 'n rigiede sinodale aanslag die jong kerke finansieel kniehalter. Die sinode besluit daarom dat ‘n nuwe sleutel gevind moet word om reg te doen aan die finansiële drakrag van die verskillende gemeentes en dat ‘n limiet vasgestel moet word aan die totale kerkverbandelike onkostes. Dié vasstelling moet voor die sinode se verdaging afgehandel word. Die amptelike besluit kom daarop neer dat die kerkverbandelike verpligtings onder die kerke verdeel word op ‘n skaal wat bepaal word deur die afsonderlike begrotings van die kerke self. Die huidige som van die kerkverbandelike onkostes dien as limiet en sal dan jaarliks met die inflasiesyfer aangepas kan word. Waar kerke, ondanks die skaal, nie ten volle hulle bedrae tot kerkverbandelike kostes kan betaal nie, kan dit via deputate hulpbehoewende kerke moontlik gemaak word, tot tyd en wyl die skaalverdeling reggestel kan word. 'n Deputaatskap word aangestel om die skaal te ondersoek, dit vas te stel en die kerke daarvan in kennis te stel.

Springs gemeente

Die Sinode neem met droefheid kennis van die opheffing van die gemeente van Springs en besluit om die deputate i.s. artikel 11 KO op te dra om, indien Johannesburg sou aansoek doen om hulp, hierin die nodige middele te verskaf ooreenkomstig die gemaakte afsprake.

BETREKKINGE MET BUITELANDSE KERKE (BBK)

Canandian Reformed Churches (CanRC)
Free Reformed Churches of Australia (FRCA) en die
Gereformeerde Kerken Nederland (vrijgemaakt) (GKN(v)
Die sinode kontinueer sy susterskerkverhoudings met die CanRC en met die FRCA en besluit om afgevaardigdes na hulle volgende sinodes te stuur. Net so word die susterskerkrelasie met die GKN(v) voortgesit, met die opdrag aan deputate om die kommerwekkende verwikkelinge in die GKN(v) met sorg dop te hou. Verder word besluit om die opdragsfeer van die BBK te beperk tot die onderhouding van die kerklike korrespondensie met susterkerke en om die kontakte wat in Afrika bestaan te hanteer via die ICRC of die susterkerke (inklusief die IRTT in Nederland).

Die "Nuwe Vrygemaaktes" se aansoek om susterskerkverhoudings
Die versoek om susterkerkrelasie vanaf die GKN(n) word nie toegestaan nie en hulle word opgeroep om hulle onttrekking uit die GKN(v) te heroorweeg en om eerder die kerklike pad met die GKN(v) voluit te loop.

Reformed Churches of New Zealand
Deputate word opgedra om kontakte te hou op die huidige vlak en so op hoogte bly van sake.

Kerke in Afrika
Daar sal 'n afgevaardigde na die volgende ICRC Sendingskonferensie, D.V. in 2007 in Kenia, gestuur word. Free Churches of SA waarnemers moet na die VGKSA sinodes genooi word terwyl gepoog word dat die datums nie met die FCSA se "General Assembly" (begin Mei) bots nie. Hulle "General Assembly" moet bygewoon word met die oog op ‘n teologiese beoordeling.

Kerke in Noord Amerika
Daar word besluit om op hoogte te bly met kerklike ontwikkelinge in Noord-Amerika.

Ander sake
Lidmaatskap van die ICRC word voortgesit. Die band met die Presbyterian Churches of Eastern Australia (PCEA) word tans nie geïntensiveer nie, maar daar moet wel op hoogte gebly word van verwikkelings in die kerke. Kontakte met die Johannesburg Korean Church (JKC) en die sendelinge van Nam-Chun Presbyterian Church Korea moet nagestreef word ter wille van verhoudingbou en moontlike samewerking in teologiese opleiding.

KONTAKTE MET BINNELANDSE KERKE (KBK)

Die Sinode besluit dat verslaglewering aan die GKN(v) oor die verwikkelinge in die NG Kerk nietig verklaar word. Die VGKSA het opnuut haar hartlike begeerte uitgespreek om waarlik een te wees met die GKSA in terme van Skrif en Belydenis. Plaaslike kerke moet deeglik ingelig word oor die historiese gesprekke tussen die GKSA en VGKSA, soos weergegee in die deputateverslag. Die verslag moet eers met die deputate GKSA oorlê word om korrektheid te verseker. Die kerke moet ook kennis neem dat die kontakte van die GKSA met die NGK en NHK geen nuwe saak in die gesprek tussen die twee kerke is nie. Die volgende opdragte word aan die deputate gegee:

  • Die GKSA moet via haar deputate gevra word om ‘n konfessioneel gebaseerde beoordeling te gee van haar verhouding met die Nederduits Gereformeerde Kerk (NGK) en die Nederduits Hervormde Kerk.
  • Sy moet ook via haar deputate versoek word om haar siening van kerk en kerkverband in die lig van Skrif en Belydenis konkreet te beskryf.
  • Die Sosiohistoriese metode moet in die lig van die hermeneutiese uitgangspunte soos vasgestel op die GKSA se sinode van 1988 met die deputate van die GKSA bespreek word.
  • Die aard van die binding van die GKSA aan die gereformeerde belydenis moet tussen deputate van die VGKSA en GKSA bespreek word.
  • Navraag moet gedoen word by die GKSA deputate wat hulle verhouding met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke inhou.
  • Die besluit van die jongste sinode van die GKSA, om vroue tot die amp van diaken toe te laat, moet geëvalueer word in gesprekke.
  • Die moontlikhede van maniere vir samewerking met die GKSA soos bv. die tussen kerkelike raad (TKR), moet ondersoek word.

Die Sinode besluit om geen nuwe deputate vir werk onder verontrustes aan te stel nie, maar die werk by kerkrade aan te beveel. Die rede is omdat die eerste vloedgolf van verontrusting in die NGK'e verbygegaan het en baie verontrustes het reeds ‘n ander tuiste gevind. Daar blyk weinig verontrustes te wees wat hulp van buite hul eie kerkverband verlang. Die opkomende verontrusting in die GKSA lê op ‘n ander vlak as dié van die NGK'e en val eerder op die werkterrein van KBK. Die kerke in Australië moet van die verandering in kennis gestel word. Die VGK Bethal ontvang eerste verantwoordelikheid vir die verdere hantering van die beskikbare fondse, siende dat hulle moontlik werk onder verontrustes oorweeg.

SENDING

Die sinode neem met dankbaarheid kennis dat die kerk van Mamelodi reeds vanaf 2004 die verantwoordelikheid vir die sendingwerk in Nellmapius by Maranata oorgeneem het en die kerk van Mamelodi daarmee ook sendende kerk geword het en ‘n gedeelte van die Maranata begroting oorgeneem het.

Die Sinode besluit om Mamelodi en Soshanguve-Noord formeel te vra om deel te wees van die nasionale samewerking rakende sending en om die akkoord te teken, om as sendingbydrae in Suid-Afrika ’n minimum bedrag van R90 per siel vir 2005 te vra en verhoog dit daarna jaarliks vir R5 per siel en om Artikel 22 van die Akkoord van Samewerking tussen die samenwerkende kerken in Nederland en die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika te wysig, sodat a) die sendende kerk nou jaarliks visitasie doen en b) die SDSL met afgevaardigdes uit ZDNL driejaarliks visitasie doen. c) Daar sal verder elke vyf jaar 'n strategiese beplanningsessie gehou word, beplan deur die SDSA in samewerking met die ZDNL.

Daar word verder besluit dat die Sendingdeputate in samewerking met Deputate Hulpbehoewende Kerke (Artikel 11) sal omsien na passende finansiële reëlings van nuut geïnstitueer kerke vanuit die sendingwerk indien die huidige finansiële afboureëlings nie voldoende blyk te wees vir die gemeentes nie.

LITURGIESE MUSIEK

Die voorstel dat die sinode die deputaatskap vir Liturgiese musiek nie herbenoem nie word afgewys. Deputate word die opdrag gegee om eers self die hersiene Totius beryming te toets voordat dit aan die kerke gestuur word vir toetsing. Hulle moet kontak maak met die betrokke deputate van die GKSA met die bedoeling om ons kerke se begeerte, om die Totiusberyming te behou, aan hulle oor te dra; om ons samewerking met die taalkundige hersiening, waar moontlik, aan te bied; om te kom tot samewerking by `n gesamentlike uitgawe van die Psalmboek met die hersiene Totius beryming en om uit te vind of die hersiene Totius beryming deur ons kerke gebruik kan word vir ons eie kerkboek, indien `n gesamentlike uitgawe nie moontlik sou wees nie. Deputate kry ook die opdrag om ’n deeglike en diepgaande studie oor die lied in die erediens te verrig om die kerke daarmee te dien.

HULPBEHOEWENDE STUDENTE

Die Sinode besluit op die daarstelling van 'n dokument, 'n vorm vir die aansoek om 'n beurs, waarin aansoeke vir ondersteuning in die toekoms deur deputate artikel 19 beoordeel kan word. Dit is belangrik dat die volle finansiële gegewens van studente, wat uit die onderskeie gemeentes afkomstig is, uitgeklaar moet word. Indien die aansoeker ook vanuit ander bronne gerugsteun word moet dit verklaar word in die aansoekvorm. In die geval waar daar vanuit die sending aansoek gedoen word, moet op die gewone wyse via die aansoekvorm en met volle opgaaf van bronne, aansoek gedoen word by deputate artikel 19. Studente van selfstandige kerke vanuit die sending kan dus ook aansoek kan doen by deputate art 19.

HULPBEHOEWENDE KERKE

Die Sinode besluit om opnuut deputate aan te stel met dieselfde opdragte.

KORRESPONDENSIE MET DIE OWERHEID

Die Sinode besluit om opnuut deputate aan te stel met dieselfde opdragte.

DEPUTATE I.S. ARTIKEL 49 KERKORDE

Die Sinode besluit om opnuut deputate aan te stel met die vorige opdragte. Bykomstig is die belangrike opdrag om die kerklike eksamens so te ontwerp dat dit nie 'n blote herhaling is van die eksamens wat reeds tydens opleiding afgelê is nie, maar ontledings om te bepaal of die kandidaat geskik is as predikant in die gemeente van Christus.

SINODALE KWESTOR

Die Sinode besluit om opnuut kwestor aan te stel met dieselfde opdrag.

KONTROLE VAN DIE KWESTOR

Die Sinode besluit om opnuut 'n kerk, naamlik Bethal, aan te stel met die vorige opdragte. Die volgende ter sake aanbevelings is gemaak en word ter wille van die gemeentes in die kort verslag opgeneem:

  • Ondersteunende dokumentasie – Die onderskeie Deputate behoort te verseker dat die nodige ondersteunende dokumentasie wel aan die Kwestor verskaf word.
  • In uitsonderlike gevalle waar die gemeentes betalings namens die Kwestor doen moet verseker dat daar behoorlike goedgekeurde dokumentasie is en behoort die gemeentes verder afskrifte daarvan aan die Kwestor te verskaf.
  • Gemeentes wat ‘n ander bedrag oorbetaal as die bedrag aangevra deur die Kwestor moet ‘n behoorlike rekonsiliasie doen tussen die bedrag aangevra en die bedrag betaal. Dit is die verantwoordelikheid van die betrokke gemeente aangesien hulle al die dokumentasie het.
  • Die Kwestor behoort verder alle debiteure wat afgeskryf is, aan die Sinode voor te lê vir ratifikasie.

ARGIEFBEWARENDE KERK

Die Sinode besluit om opnuut ‘n argiefbewarende kerk, Pretoria, aan te wys met dieselfde opdrag, met dien verstande dat dit gebeur in samewerking met die kerkverbandelike administrateur.

KONTROLE VAN DIE ARGIEF

Die Sinode besluit om opnuut ‘n kerk, Johannesburg, aan te wys vir die kontrole met dieselfde opdragte as voorheen.

KERK OM 'N DAG VAN VEROOTMOEDIGING UIT TE ROEP

Die Sinode besluit om ‘n klassis, Klassis Suid, aan te wys vir die uitroep van ‘n dag vir verootmoediging, met dieselfde opdragte as voorheen.

TEOLOGIESE OPLEIDING

Nadat 'n tydelik kommissie op sinode aangewys is, om met alle rolspelers in die besluitvorming oor die toekoms van die T.O. te konfereer en terug te rapporteer aan die vergadering, word die volgende besluit:

Die sinode verklaar dat dit die kerke se roeping is om verantwoordelikheid te aanvaar vir die opleiding van teologiese studente en dat dit wenslik is om een opleiding daar te stel. Tweedens spreek hy sy dank uit vir die reuse werk wat gedoen is sedert die oprigting van 'n eie T.O. in 1997. Derdens verklaar die sinode dat die gedaante van die T.O. nou moet verander en dat daar gewerk moet word na iets soos 'n teologiese opleidingsintituut (TOI) met 'n voltydse direkteur wat onder supervisie van 'n raad, aangestel deur die sinode, funksioneer. Daar word dus deputate aangestel met die opdrag om duidelike planne hieroor uit te werk in samewerking met relevante instansies; die finansiële implikasies en moontlikhede van befondsing te ondersoek; 'n geskikte persoons- en posbeskrywing te doen ten einde die regte persoon as direkteur aan te kan stel; dié persoon moet vir ten minste drie jaar aangestel word. Dit moet gebeur voor einde November 2005 sodat die sinode opnuut kan vergader, einde Januarie 2006. Die sinode besluit verder om weg te doen met die beginsel dat kuratore saamgestel moet word uit proporsionele verteenwoordiging vanuit die gemeentes en om eerder ses deputate as kuratore aan te wys, op regionale basis, met ten minste die helfte bestaande uit leraars.

Met betrekking tot die huidige Sotho-sprekende studente word besluit dat die huidige reëling met MTC gehandhaaf word; aan die studente aan te beveel dat hulle ten minste BA Honneurs slaag (of sy gelyke) met Grieks en Hebreeus II; om die teologiese opleidingsinstituut sorg te laat aanvaar vir 'n tipe MTC plus vir dié studente en om die sendende kerke in Pretoria gebied te versoek om die studente te begelei tydens hulle studies.

Met betrekking tot die studente in die Kaap besluit die sinode om a) die kerkraad in die Kaap te versoek om die verantwoordelikheid vir hulle te aanvaar totdat dit moontlik is om hulle onder die sorg van die TOI te plaas. b) Om die sendende kerk aan te moedig om ernstig te ondersoek hoe daar meer van bestaande instansies gebruik gemaak kan word (binne die grense van verantwoordelikheid), terwyl ook die moontlikhede van lang-afstand-onderrig en/of telematiese onderrig en om sulke studente intensief te begelei in die proses. c) Om die sendende kerk te versoek om meer gebruik te maak van individuele leraars wat van elders en vanuit ons kerke kom en beskikbaar is, ingeslote moontlike kandidate vir die bediening. d) Om kerke te versoek om hulle leraars vir 'n periode vry te stel sodat hulle die lesings kan aanbied.

Met betrekking tot die blanke studente besluit die sinode dat hulle, tot tyd en wyl, gebruik maak van die bestaande teologiese skole in Hamilton of in Kampen.

Laastens besluit die sinode om kuratore aan te stel om:

  1. toesig te hou oor die opleiding by MTC;
  2. aan te bly op die raad van MTC om die situasie te monitor en positiewe insette te gee en
  3. samewerking te beplan tussen die bestaande opleidings-entiteite en interaksie tussen die studente, in oorleg met die verteenwoordigers van die sendende kerke en van die sendelinge.

AFSLUITING

Verskillende sinodelede spreek hulle dank uit vir die goeie samewerking, vir die werk van die moderamen en die assessor spesifiek vir die goeie leiding van die voorsitter. Die skriba spreek sy dank uit vir die werk gedoen deur die notularis.

Kaapstad word aangewys om die volgende Sinode, wat D.V. in 2008 gehou word, saam te roep. Die definitiewe tydstip word gewoonlik deur die kerk bepaal, maar word voorlopig vasgestel vir Mei 2008.

Die vergadering word afgesluit deur die ondervoorsitter, Ds. P. Nel, uit Lukas 17:1-10.

DV IN JANUARIE 2006 VOLG DIE RES.
Pieter Nel

* Die tweede deel, gerig op die afhandeling van die opdrag tot deputate kuratore, sal DV aan die einde van Januarie 2006 plaasvind.

Enige navrae of kommentaar, kontak die