Kort Verslag van die eerste sitting* van die
Sinode van die
Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
gehou gedurende 24 tot 27 Mei 2005 in die
kerkgebou van Pretoria-Maranata
BidstondMaandag 23 Mei 2005 lei ds. P. Nel, as konsulent van
Maranata, die bidstond uit Markus 9:30-51 en Lev. 2:11-16 ter voorbereiding van
die Sinodesitting die volgende dag.
Opening & konstituering
Op dieselfde aand open oudl. F.J. van Dijk die sinode namens die roepende
kerk uit Rom. 12:1-3 en 9-21. Pretoria-Maranata rapporteer dat die geloofsbriewe
in orde is. Van Klassis A was teenwoordig: Di. C. Kleyn, R.M. Retief en E.
Viljoen en ouderlinge H.H. Schuring, J. van der Linden en J.A. Smit terwyl L.H.T.
Bosker later in J. van der Linden se plek verskyn het. Van Klassis B is
afgevaardig: Di. M.P. Magagula, T.K. Mogale en P. Nel en as ouderlinge P.
Bouwman, H. Snijder en F.J. van Dijk. As adviseurs word na die tafel genooi di.
C.F. Nicholson, J.A. Breytenbach P.G. Boon, J. Mhlanga, K.J. Kapteyn en J. van
der Linden. Di. J. Bosman en P.J. Retief het verskoning gevra.
Moderamen, adviseurs & waarnemers
Die moderamen word verkies met as voorsitter ds. C. Kleyn, tweede voorsitter ds.
P. Nel en as sekretaris oud P. Bouwman. Die vergadering word gekonstitueer. Van
die Free Reformed Churches of Australia is br. G.B. Veenendaal teenwoordig en
van die Canadian Reformed Churches is prof. Dr. C. van Dam afgevaardig. Hulle
word deur die voorsitter verwelkom en kry ook sitting as adviseurs. Op Donderdag,
tydens die behandeling van die rapport Kontak Binnelandse Kerke, was di. B.
Fourie en N. Smit namens die Gereformeerde Kerke van Suid Afrika aanwesig as
waarnemers. Ds. H. Hefer het as waarnemer namens die verontruste NG Kerke
verskoning gemaak en niemand van die Free Church of South-Africa het opgedaag
nie. Alle afgevaardigdes en adviseurs betuig hul instemming met die
Gereformeerde Belydenisskrifte deur op te staan. As notularis is br. A.W. Herder
benoem. Tydelike kommissies
Tydelike kommissies word aangewend vir die hantering van finansies,
beswaarskrifte en Teologiese Opleiding. Tydens die vergadering sal Engels
gebesig word en waar nodig kan getolk word. Die sinodehandelinge sal in
Afrikaans opgestel word, met ‘n vertaling daarvan in Engels. Waar nodig is sr.
M. Hordyk beskikbaar as tolk in die vergadering. Lede uit die moderamen, oudl.
P. Bouwman en ds. P. Nel, se dienste is ook beskikbaar. Groeteboodskappe
Op Dinsdagaand 24 Mei 2005 kry prof. Dr. C. van Dam (CanRC) en oudl. B.
Veenendaal (FRCA) onderskeidelik geleentheid om namens hulle kerke groete oor te
dra. Op Donderdag oggend 26 Mei 2005 kry die afgevaardigde van die Gereformeerde
Kerke in Suid Afrika, ds. B. Fourie geleentheid om namens die kerke die groete
oor te dra. 'n Nuwe brongerigte Bybelvertaling Die Sinode neem met
dank kennis van die positiewe verwikkelinge rondom 'n volgende Afrikaanse
bron-georiënteerde vertaling en wys weer deputate aan vir Bybelvertaling. Hulle
kan as konsulente betrokke wees namens die kerke. Nuwe Klassisindelings
Die Sinode besluit dat die Klassisse as volg ingedeel word: "Klassis Noord"
bestaande uit Mamelodi, Pretoria, Pretoria-Maranata en Soshanguve-Noord (Sameroepende
kerk) en "Klassis Suid" bestaande uit Bethal, Johannesburg, en Kaapstad (Sameroepende
kerk). Die eerste vergaderings van die onderskeie klassisse moet voor September
2005 deur die aangewese kerke saamgeroep word. Die ou argief van Klassis A moet
oorgedra word aan Kaapstad en die ou argief van Klassis B aan Pretoria-Maranata.
Kerkverbandelike administrateur Daar word besluit op die aanstelling
van ‘n kerkverbandelike administrateur, wat die administratiewe take sal vervul
wat betrekking het op die werk van sinodes en dan slegs op versoek van die
roepende kerk of in direkte opdrag van die sinode. Slegs direkte onkostes wat
aangegaan word, word gedek terwyl die pos nie 'n betaalde pos is nie.
Vulling van vakatures in deputaatskappe Die Sinode besluit dat soveel as
moontlik sekundi aangewys moet word vir kleiner deputaatskappe en ingeval die
sekundi nie beskikbaar is nie, het die deputaatskappe die bevoegdheid om
vakatures te vul, maar dan met goedkeuring van die klassisse.
Kerkverbandelike bydraes Omdat die jonger (sending)kerke kleiner inkomstes
het as die bestaande kerke kan 'n rigiede sinodale aanslag die jong kerke
finansieel kniehalter. Die sinode besluit daarom dat ‘n nuwe sleutel gevind moet
word om reg te doen aan die finansiële drakrag van die verskillende gemeentes en
dat ‘n limiet vasgestel moet word aan die totale kerkverbandelike onkostes. Dié
vasstelling moet voor die sinode se verdaging afgehandel word. Die amptelike
besluit kom daarop neer dat die kerkverbandelike verpligtings onder die kerke
verdeel word op ‘n skaal wat bepaal word deur die afsonderlike begrotings van
die kerke self. Die huidige som van die kerkverbandelike onkostes dien as limiet
en sal dan jaarliks met die inflasiesyfer aangepas kan word. Waar kerke, ondanks
die skaal, nie ten volle hulle bedrae tot kerkverbandelike kostes kan betaal nie,
kan dit via deputate hulpbehoewende kerke moontlik gemaak word, tot tyd en wyl
die skaalverdeling reggestel kan word. 'n Deputaatskap word aangestel om die
skaal te ondersoek, dit vas te stel en die kerke daarvan in kennis te stel.
Springs gemeente Die Sinode neem met droefheid kennis van die opheffing
van die gemeente van Springs en besluit om die deputate i.s. artikel 11 KO op te
dra om, indien Johannesburg sou aansoek doen om hulp, hierin die nodige middele
te verskaf ooreenkomstig die gemaakte afsprake. BETREKKINGE MET BUITELANDSE
KERKE (BBK) Canandian Reformed Churches (CanRC)
Free Reformed Churches of Australia (FRCA) en die
Gereformeerde Kerken Nederland (vrijgemaakt) (GKN(v)
Die sinode kontinueer sy susterskerkverhoudings met die CanRC en met die
FRCA en besluit om afgevaardigdes na hulle volgende sinodes te stuur. Net so
word die susterskerkrelasie met die GKN(v) voortgesit, met die opdrag aan
deputate om die kommerwekkende verwikkelinge in die GKN(v) met sorg dop te hou.
Verder word besluit om die opdragsfeer van die BBK te beperk tot die
onderhouding van die kerklike korrespondensie met susterkerke en om die kontakte
wat in Afrika bestaan te hanteer via die ICRC of die susterkerke (inklusief die
IRTT in Nederland). Die "Nuwe Vrygemaaktes" se aansoek om
susterskerkverhoudings
Die versoek om susterkerkrelasie vanaf die GKN(n) word nie toegestaan nie en
hulle word opgeroep om hulle onttrekking uit die GKN(v) te heroorweeg en om
eerder die kerklike pad met die GKN(v) voluit te loop. Reformed Churches of
New Zealand
Deputate word opgedra om kontakte te hou op die huidige vlak en so op hoogte bly
van sake. Kerke in Afrika
Daar sal 'n afgevaardigde na die volgende ICRC Sendingskonferensie, D.V. in
2007 in Kenia, gestuur word. Free Churches of SA waarnemers moet na die VGKSA
sinodes genooi word terwyl gepoog word dat die datums nie met die FCSA se
"General Assembly" (begin Mei) bots nie. Hulle "General Assembly" moet bygewoon
word met die oog op ‘n teologiese beoordeling. Kerke in Noord Amerika
Daar word besluit om op hoogte te bly met kerklike ontwikkelinge in
Noord-Amerika. Ander sake
Lidmaatskap van die ICRC word voortgesit. Die band met die Presbyterian
Churches of Eastern Australia (PCEA) word tans nie geïntensiveer nie, maar daar
moet wel op hoogte gebly word van verwikkelings in die kerke. Kontakte met die
Johannesburg Korean Church (JKC) en die sendelinge van Nam-Chun Presbyterian
Church Korea moet nagestreef word ter wille van verhoudingbou en moontlike
samewerking in teologiese opleiding. KONTAKTE MET BINNELANDSE KERKE (KBK)
Die Sinode besluit dat verslaglewering aan die GKN(v) oor die verwikkelinge in
die NG Kerk nietig verklaar word. Die VGKSA het opnuut haar hartlike begeerte
uitgespreek om waarlik een te wees met die GKSA in terme van Skrif en Belydenis.
Plaaslike kerke moet deeglik ingelig word oor die historiese gesprekke tussen
die GKSA en VGKSA, soos weergegee in die deputateverslag. Die verslag moet eers
met die deputate GKSA oorlê word om korrektheid te verseker. Die kerke moet ook
kennis neem dat die kontakte van die GKSA met die NGK en NHK geen nuwe saak in
die gesprek tussen die twee kerke is nie. Die volgende opdragte word aan die
deputate gegee:
- Die GKSA moet via haar deputate gevra word om ‘n konfessioneel gebaseerde
beoordeling te gee van haar verhouding met die Nederduits Gereformeerde Kerk
(NGK) en die Nederduits Hervormde Kerk.
- Sy moet ook via haar deputate versoek word om haar siening van kerk en
kerkverband in die lig van Skrif en Belydenis konkreet te beskryf.
- Die Sosiohistoriese metode moet in die lig van die hermeneutiese
uitgangspunte soos vasgestel op die GKSA se sinode van 1988 met die deputate
van die GKSA bespreek word.
- Die aard van die binding van die GKSA aan die gereformeerde belydenis moet
tussen deputate van die VGKSA en GKSA bespreek word.
- Navraag moet gedoen word by die GKSA deputate wat hulle verhouding met die
Suid-Afrikaanse Raad van Kerke inhou.
- Die besluit van die jongste sinode van die GKSA, om vroue tot die amp van
diaken toe te laat, moet geëvalueer word in gesprekke.
- Die moontlikhede van maniere vir samewerking met die GKSA soos bv. die
tussen kerkelike raad (TKR), moet ondersoek word.
Die Sinode besluit om geen nuwe deputate vir werk onder verontrustes aan te
stel nie, maar die werk by kerkrade aan te beveel. Die rede is omdat die
eerste vloedgolf van verontrusting in die NGK'e verbygegaan het en baie
verontrustes het reeds ‘n ander tuiste gevind. Daar blyk weinig verontrustes
te wees wat hulp van buite hul eie kerkverband verlang. Die opkomende
verontrusting in die GKSA lê op ‘n ander vlak as dié van die NGK'e en val
eerder op die werkterrein van KBK. Die kerke in Australië moet van die
verandering in kennis gestel word. Die VGK Bethal ontvang eerste
verantwoordelikheid vir die verdere hantering van die beskikbare fondse,
siende dat hulle moontlik werk onder verontrustes oorweeg. SENDING
Die sinode neem met dankbaarheid kennis dat die kerk van Mamelodi reeds vanaf
2004 die verantwoordelikheid vir die sendingwerk in Nellmapius by Maranata
oorgeneem het en die kerk van Mamelodi daarmee ook sendende kerk geword het en
‘n gedeelte van die Maranata begroting oorgeneem het.
Die Sinode besluit om Mamelodi en Soshanguve-Noord formeel te vra om deel
te wees van die nasionale samewerking rakende sending en om die akkoord te
teken, om as sendingbydrae in Suid-Afrika ’n minimum bedrag van R90 per siel
vir 2005 te vra en verhoog dit daarna jaarliks vir R5 per siel en om Artikel
22 van die Akkoord van Samewerking tussen die samenwerkende kerken in
Nederland en die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid Afrika te wysig, sodat a)
die sendende kerk nou jaarliks visitasie doen en b) die SDSL met
afgevaardigdes uit ZDNL driejaarliks visitasie doen. c) Daar sal verder elke
vyf jaar 'n strategiese beplanningsessie gehou word, beplan deur die SDSA in
samewerking met die ZDNL.
Daar word verder besluit dat die Sendingdeputate in samewerking met
Deputate Hulpbehoewende Kerke (Artikel 11) sal omsien na passende finansiële
reëlings van nuut geïnstitueer kerke vanuit die sendingwerk indien die huidige
finansiële afboureëlings nie voldoende blyk te wees vir die gemeentes nie.
LITURGIESE MUSIEK Die voorstel dat die sinode die deputaatskap vir
Liturgiese musiek nie herbenoem nie word afgewys. Deputate word die opdrag
gegee om eers self die hersiene Totius beryming te toets voordat dit aan die
kerke gestuur word vir toetsing. Hulle moet kontak maak met die betrokke
deputate van die GKSA met die bedoeling om ons kerke se begeerte, om die
Totiusberyming te behou, aan hulle oor te dra; om ons samewerking met die
taalkundige hersiening, waar moontlik, aan te bied; om te kom tot samewerking
by `n gesamentlike uitgawe van die Psalmboek met die hersiene Totius beryming
en om uit te vind of die hersiene Totius beryming deur ons kerke gebruik kan
word vir ons eie kerkboek, indien `n gesamentlike uitgawe nie moontlik sou
wees nie. Deputate kry ook die opdrag om ’n deeglike en diepgaande studie oor
die lied in die erediens te verrig om die kerke daarmee te dien.
HULPBEHOEWENDE STUDENTE Die Sinode besluit op die daarstelling van 'n
dokument, 'n vorm vir die aansoek om 'n beurs, waarin aansoeke vir
ondersteuning in die toekoms deur deputate artikel 19 beoordeel kan word. Dit
is belangrik dat die volle finansiële gegewens van studente, wat uit die
onderskeie gemeentes afkomstig is, uitgeklaar moet word. Indien die aansoeker
ook vanuit ander bronne gerugsteun word moet dit verklaar word in die
aansoekvorm. In die geval waar daar vanuit die sending aansoek gedoen word,
moet op die gewone wyse via die aansoekvorm en met volle opgaaf van bronne,
aansoek gedoen word by deputate artikel 19. Studente van selfstandige kerke
vanuit die sending kan dus ook aansoek kan doen by deputate art 19.
HULPBEHOEWENDE KERKE Die Sinode besluit om opnuut deputate aan te stel
met dieselfde opdragte. KORRESPONDENSIE MET DIE OWERHEID Die Sinode
besluit om opnuut deputate aan te stel met dieselfde opdragte. DEPUTATE
I.S. ARTIKEL 49 KERKORDE Die Sinode besluit om opnuut deputate aan te
stel met die vorige opdragte. Bykomstig is die belangrike opdrag om die
kerklike eksamens so te ontwerp dat dit nie 'n blote herhaling is van die
eksamens wat reeds tydens opleiding afgelê is nie, maar ontledings om te
bepaal of die kandidaat geskik is as predikant in die gemeente van Christus.
SINODALE KWESTOR Die Sinode besluit om opnuut kwestor aan te stel met
dieselfde opdrag. KONTROLE VAN DIE KWESTOR Die Sinode besluit om
opnuut 'n kerk, naamlik Bethal, aan te stel met die vorige opdragte. Die
volgende ter sake aanbevelings is gemaak en word ter wille van die gemeentes
in die kort verslag opgeneem:
- Ondersteunende dokumentasie – Die onderskeie Deputate behoort te
verseker dat die nodige ondersteunende dokumentasie wel aan die Kwestor
verskaf word.
- In uitsonderlike gevalle waar die gemeentes betalings namens die Kwestor
doen moet verseker dat daar behoorlike goedgekeurde dokumentasie is en
behoort die gemeentes verder afskrifte daarvan aan die Kwestor te verskaf.
- Gemeentes wat ‘n ander bedrag oorbetaal as die bedrag aangevra deur die
Kwestor moet ‘n behoorlike rekonsiliasie doen tussen die bedrag aangevra en
die bedrag betaal. Dit is die verantwoordelikheid van die betrokke gemeente
aangesien hulle al die dokumentasie het.
- Die Kwestor behoort verder alle debiteure wat afgeskryf is, aan die
Sinode voor te lê vir ratifikasie.
ARGIEFBEWARENDE KERK Die Sinode besluit om opnuut ‘n
argiefbewarende kerk, Pretoria, aan te wys met dieselfde opdrag, met dien
verstande dat dit gebeur in samewerking met die kerkverbandelike
administrateur. KONTROLE VAN DIE ARGIEF Die Sinode besluit om
opnuut ‘n kerk, Johannesburg, aan te wys vir die kontrole met dieselfde
opdragte as voorheen. KERK OM 'N DAG VAN VEROOTMOEDIGING UIT TE ROEP
Die Sinode besluit om ‘n klassis, Klassis Suid, aan te wys vir die uitroep
van ‘n dag vir verootmoediging, met dieselfde opdragte as voorheen.
TEOLOGIESE OPLEIDING Nadat 'n tydelik kommissie op sinode aangewys is,
om met alle rolspelers in die besluitvorming oor die toekoms van die T.O. te
konfereer en terug te rapporteer aan die vergadering, word die volgende
besluit:
Die sinode verklaar dat dit die kerke se roeping is om
verantwoordelikheid te aanvaar vir die opleiding van teologiese studente en
dat dit wenslik is om een opleiding daar te stel. Tweedens spreek hy sy dank
uit vir die reuse werk wat gedoen is sedert die oprigting van 'n eie T.O. in
1997. Derdens verklaar die sinode dat die gedaante van die T.O. nou moet
verander en dat daar gewerk moet word na iets soos 'n teologiese
opleidingsintituut (TOI) met 'n voltydse direkteur wat onder supervisie van
'n raad, aangestel deur die sinode, funksioneer. Daar word dus deputate
aangestel met die opdrag om duidelike planne hieroor uit te werk in
samewerking met relevante instansies; die finansiële implikasies en
moontlikhede van befondsing te ondersoek; 'n geskikte persoons- en
posbeskrywing te doen ten einde die regte persoon as direkteur aan te kan
stel; dié persoon moet vir ten minste drie jaar aangestel word. Dit moet
gebeur voor einde November 2005 sodat die sinode opnuut kan vergader, einde
Januarie 2006. Die sinode besluit verder om weg te doen met die beginsel dat
kuratore saamgestel moet word uit proporsionele verteenwoordiging vanuit die
gemeentes en om eerder ses deputate as kuratore aan te wys, op regionale
basis, met ten minste die helfte bestaande uit leraars.
Met betrekking tot die huidige Sotho-sprekende studente word
besluit dat die huidige reëling met MTC gehandhaaf word; aan die studente
aan te beveel dat hulle ten minste BA Honneurs slaag (of sy gelyke) met
Grieks en Hebreeus II; om die teologiese opleidingsinstituut sorg te laat
aanvaar vir 'n tipe MTC plus vir dié studente en om die sendende kerke in
Pretoria gebied te versoek om die studente te begelei tydens hulle studies.
Met betrekking tot die studente in die Kaap besluit die sinode om
a) die kerkraad in die Kaap te versoek om die verantwoordelikheid vir hulle
te aanvaar totdat dit moontlik is om hulle onder die sorg van die TOI te
plaas. b) Om die sendende kerk aan te moedig om ernstig te ondersoek hoe
daar meer van bestaande instansies gebruik gemaak kan word (binne die grense
van verantwoordelikheid), terwyl ook die moontlikhede van
lang-afstand-onderrig en/of telematiese onderrig en om sulke studente
intensief te begelei in die proses. c) Om die sendende kerk te versoek om
meer gebruik te maak van individuele leraars wat van elders en vanuit ons
kerke kom en beskikbaar is, ingeslote moontlike kandidate vir die bediening.
d) Om kerke te versoek om hulle leraars vir 'n periode vry te stel sodat
hulle die lesings kan aanbied.
Met betrekking tot die blanke studente besluit die sinode dat
hulle, tot tyd en wyl, gebruik maak van die bestaande teologiese skole in
Hamilton of in Kampen.
Laastens besluit die sinode om kuratore aan te stel om:
- toesig te hou oor die opleiding by MTC;
- aan te bly op die raad van MTC om die situasie te monitor en positiewe
insette te gee en
- samewerking te beplan tussen die bestaande opleidings-entiteite en
interaksie tussen die studente, in oorleg met die verteenwoordigers van
die sendende kerke en van die sendelinge.
AFSLUITING
Verskillende sinodelede spreek hulle dank uit vir die goeie samewerking,
vir die werk van die moderamen en die assessor spesifiek vir die goeie
leiding van die voorsitter. Die skriba spreek sy dank uit vir die werk
gedoen deur die notularis.
Kaapstad word aangewys om die volgende Sinode, wat D.V. in 2008 gehou
word, saam te roep. Die definitiewe tydstip word gewoonlik deur die kerk
bepaal, maar word voorlopig vasgestel vir Mei 2008.
Die vergadering word afgesluit deur die ondervoorsitter, Ds. P. Nel, uit
Lukas 17:1-10.
DV IN JANUARIE 2006 VOLG DIE RES.
Pieter Nel
* Die tweede deel, gerig op die afhandeling
van die opdrag tot deputate kuratore, sal DV aan die einde van Januarie 2006
plaasvind. |