Kort Verslag van die Sinode van die
Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
gehou te Johannesburg
vanaf 29 April tot 3 Mei 2002
Opening
Die roepende kerke te Johannesburg het vir Maandag 29 April 2002 ‘n erediens
belê om die verrigtinge van die sinode aan die goeie leiding van die Here op te
dra. Ds. Kleyn het as konsulent van Johannesburg in hierdie erediens voorgegaan.
Hy het die Woord van die Here verkondig vanuit Sagaria 4 met die boodskap dat
die bou en instandhouding van die kerk van die Here alleen uit die krag van die
Gees van die Here gedoen kan word. Die feit dat die sinode nie die opskrifte van
die koerante gehaal het nie, is geen rede vir ons om min te verwag van die werk
wat die Here in en deur ons wil doen nie.
Daarna het die voorsitter van die kerkraad van Johannesburg, br. Henk
Boessenkool, die vergadering van die sinode geopen met ‘n kort toespraak. In
besonder word opgemerk dat ons as kerkverband nou reeds vyftig jaar saam leef in
Suid-Afrika, dat ons vir die eerste keer die sinode begin met afgevaardigdes van
ses kerke en dat dit ‘n besondere geleentheid is dat twee van die sendingkerke
daarna mag uitsien om waarskynlik in die nabye toekoms as selfstandige gemeentes
te funksioneer. ‘n Groot deel van die sinode se opdrag is daarom ook om te gaan
besin oor die manier waarop daar vorming gegee behoort te word aan die
multikulturele kerkverband wat in die een geloof verder met mekaar wil leef.
Hierna is die moderamen verkies met ds C Kleyn as voorsitter, ds E Viljoen as
assessor en A. Anhodts as skriba. Alle afgevaardigdes en adviseurs toon hul
instemming met die gereformeerde belydenis deur op te staan. Onder die adviseurs
was ook br. B. Veenendaal van ons Australiese susterkerke, die Free Reformed
Churches of Australia, en ds. F. Bijzet van ons susterkerke in Nederland. Op
voorstel van Pretoria-Maranatha word br. F.J. Koning en ds. J. Tempelman wat
vanuit Nederland op besoek is met die oog op sendigvisitasie as adviseurs
ontvang wat die sendingsake betref.
Groeteboodskappe
Dit is altyd geweldig bemoedigend wanneer ons susterkerke in die buiteland
meeleef tydens ‘n sinodesitting. Vanjaar was ons bevoorreg om beide uit
Nederland en uit Australië ‘n amptelike afgevaardigde te kon ontvang. Ds. Bijzet
kon trouens as afgevaardigde in Nederland na die sinode in Zuidhorn hierheen kom
om regstreeks die groete en bemoediging van die kerke daar aan ons oor te bring.
Die goeie band wat daar die afgelope paar jaar gevestig is met die kerk in
Australie, kon hierdie jaar uitgebou word deur die teenwoordigheid van br. B.
Veenendaal. Hy het die sinode kom dien met adviese en ons persoonlik kom
verseker van die hartlike meelewing en voorbidding vir ons van die kerke daar.
Instelling van klassisse
Van die kerkraad van Johannesburg was daar ’n voorstel om gesien die
uitbreiding van die kerkverband, tog weer te oorweeg om klassisse in te stel. In
die oorweging van hierdie voorstel het die besinning rondom die vorming van ‘n
multikulturele kerkverband meegewerk, maar is daar in elk geval eenoarig gevoel
dat meer gereelde vergaderings van die kerke die meelewing van kerke in die
kerkverband met mekaar ten goede sou kom. Verder sal dit redelik eenvoudig word
vir sendinggemeentes wat selfstensig word, om eers in te skakel by klassisse
waar die sendende kerk reeds is. Verder kan sendinggemeentes selfs voor
instituering nou reeds as waarnemers makliker op klassisse meeleef en op hiedie
manier ervaring opbou en saam met die ander kerke groei. p te skort totdat ’n
beter teen die invoering van gesange in die eredienste
Die klassisse is soos volg ingedeel : Klassis A bestaan uit die kerke van
Kaapstad, Pretoria en Springs. Klassis B word saamgestel uit die kerke van
Johannesburg, Bethal en Pretoria-Maranata. In die oorweging van die samestelling
van die klassisse is uit die aard van die saak geen geografiese indeling gevolg
nie. Tog is die samestelling ook nie heeltemal arbitrêr nie. Beide klassisse het
een sendende kerk. Een van die jonger kerke in die kerkverband en dan is die
oorblywende “ouer” gemeentes oor die twee klassisse verdeel.
In afwyking van die reëling van die Kerkorde Artikel 41, verminder die
frekewensie van vergaderings van 4 na twee per jaar. Die oorwegings hiervoor was
veral gebasseer op die kosteeffek wat die hoër frekwensie van vergaderings sou
hê. Die afspraak is dat beide klassisse voor 1 Novenber 2002 hul eerste
vergadering sal afhandel. ‘n Verdere uitwerking van hierdie besluit, is dat die
sinodes nou slegs elke drie jaar saamgeroep sal word.
Huweliksbevestigings
‘n Beswaarskrif van Pretoria-Maranata teen ‘n vorige besluit om die
huweliksbevestiging nie in ‘n erediens te laat plaasvind nie, is van die hand
gewys. Die argument van Maranata was dat die besluit ‘n kerk sou bind bo wat die
Skrif van ons vra, indien ons as kerke hierdie afspraak handhaaf. Die sinode het
egter geen gronde ontvang wat kon oortuig dat die besluit van 1990 in stryd met
die Skrif is nie.
Betrekkinge met Buitelandse kerke
Alle bestaande susterkerkverhoudings met kerke in die buiteland word
voortgesit. Deputate het verder magtiging ontvang om na beide die Free Reformed
Churches of Australia en die Gereformeerde Kerken in Nederland se volgende
sinodes ‘n afgevaardigde te stuur. Die rede vir die afvaardiging na die
laasgenoemde kerke se sinode wat nou reeds in sitting is in Zuidhorn, is dat
daar ‘n besinnig tydens hierdie sinode sal plaasvind oor die voorstel van
Nederlandse deputate om ‘n susterkerkverhouding met die Gereformeerde Kerke van
Suid-Afrika (GKSA) aan te gaan.
IKGK
Daar is eenparig besluit om ons lidmaatskap van die Internasionale
Konferensie van Gereformeerde Kerke voort te sit. Hierdie is ‘n uitstekende
geleentheid waar bande met gereformeerde kerke van regoor die wêreld onderhou
kan word. Die opwindende nuus is dat ons die opdrag het om die volgende
konferensie van al die kerke in 2005 te reël en aan te bied in Suid-Afrika.
Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA)
Ongelukkig vir die vordering in ons verhouding met die GKSA, was dit vir ons
deputate nodig om besware te handhaaf teen die voorkoms en toleransie van
skrifkritiek binne die GKSA. Deputate is in proses om hierdie besware met die
deputate van die GKSA in samesprekings te bespreek. Die verslag van deputate was
van so ‘n aard dat op grond daarvan besluit is om die gesprek met die GKSA voort
te sit met die uitdruklike doel om ons besware teen beweerde skrifkritiek by
hulle uit te klaar, die funksionering van die kerklike tug te bespreek en om die
GKSA aan te moedig om ‘n meer duidelike antitetiese houding teenoor die openlike
leerstellige dwalinge binne die Nederduits Gereformeerde Kerk te openbaar.
Liturgiese musiek
Beswaarskrifte wat die sing van gesange in die erediens as onskriftuurlik
beskou, is deur die sinode van die hand gewys. Die sinode het verder gevoel dat
die sing van gesange verstaan moet word teen die groter agtergrond van die
funksionering van die lied in die Nuwe Testamentiese erediens. Nuwe deputate is
aangestel om ‘n deeglike en diepgaande studie te doen oor hierdie saak waarmee
die kerke gedien kan word in hul oorwegings rondom die funksionering van die
liturgiese musiek en sang. Gesange moet geselekteer word en een jaar voor die
volgende sinode reeds aan kerke gestuur word vir hul kommentaar.
Sending, -opleiding en kerkverband
Die besluit om klassisse te vorm het die oorwegings rondom die inskakeling
van sendinggemeentes wat uiteindelik selfstandig word, sterk gestempel.
Klassisse vergader gereeld en die ideale vergadering waar “nuwe” kerke wat hulle
by die kerkverband voeg, ondersteun kan word. Die sinode moedig selfstandige en
nie-selfstandige kerke aan om gereeld mekaar te ondersteun en in vergadering
bymekaar te kom. Geen druk moet op die sendingsgemeentes uitgeoeffen word ten
opsigte van ‘n werkwyse van saamvergader met die bestaande kerke nie. Op die
sendigsterrein word die sendingsgemeentes begelei om op ‘n verantwoordelike
manier saam met die ander kerke verantwoordelikheid vir mekaar te aanvaar in die
bewaring by die evangelie van Christus. In oorleg met die sendende kerk sal die
gemeentes wat selfstandigwording nader, uitgenooi word om waarnemers na die
vergadering van die klassis te stuur. Hier kan uiteindelik oorleg gepleeg word
oor sake waarvan die sendingsgemeentes graag bespreking en ondersteuning verwag.
Wat die opleiding van broeders uit die sendinggemeentes betref, is besluit dat
hierdie opleiding ‘n saak is wat die hele kerkverband aangaan. Kerkverbandelike
integrasie beteken ook dat die opleiding ‘n saak van die kerke gesamentlik is.
‘n Finale besluit oor die opleiding van die broeders uit die Sothosprekende
gemeentes en uit Belhar, sal alleenlik saam met daardie gemeentes geneem moet
word. Intussen neem die sinode enkele beginselbesluite ten opsigte van die
opleiding en tref interrimreëlings daarvoor. Die huidige opleidingsituasie van
die Sothosprekende broeders, word onder beheer van die kerke geplaas. Dit
beteken dat kuratore hierin ‘n toesighoudende funksie sal moet vervul. Moontlike
samewerking tussen die bestaande opleiding van die kerke en die program van
Mukhanyo moet deur die kuratore ondersoek word. Tegelykertyd moet kuratore in
samewerking met die Sothosprekende kerke die moontlikheid van een opleiding
ondersoek.
Beroepbaarstelling
Laastens, maar verseker nie die minste belangrik nie, was die groot
hoogtepunt van die beroepbaarstelling van drie broeders. Twee broeders wat hul
opleiding voltooi het aan die Mukhanyo Teologiese Skool onder toesig van die
betrokke sendelinge en kerkraad van Maranata is deur die sinode ondersoek en met
vrymoedigheid beroepbaargestel met die oog op oorweging van beroepe uit die
eventueel selfstandige sendiggemeentes. ‘n Heel unieke toneel het hom afgespeel
terwyl br. Magagula sy preekvoorstel in Sotho gelewer het en dit vir die sinode
in Afrikaans getolk is. Eweneens is sy eksaminering op dieselfde manier gedoen.
Brs. T.K. Mogale en M.P. Magagula is na volledige kerklike ondersoek met ‘n
gevoel van groot blydskap en verwagting beroepbaar gestel.
Ewe groot vreugde was daar toe br. Jopie van de Linden, die eerste student van
die Teologiese Skool van die VGKSA, geeksamineer kon word en met dankbaarheid en
groot vrymoedigheid beroepbaar gestel kon word. In al drie hierdie
beroepbaarstellings, sien ons met dankbaarheid en verwondering die sorg en
onderhouding wat die Here self gee in die voortgaan van die uitdra van die blye
Evangelie.
Sluiting
’n Paar laaste sake was om die opdragte vir die deputate vas te stel,
deputate te benoem en ‘n brief aan die president vas te stel. Pretoria-Maranata
is verder aangewys om die sameroepende kerk te wees vir die volgende sinode, wat
as die Here dit wil in die jaar 2005 gehou sal word. Die kerk van Johannesburg
word bedank vir die gasvrye ontvangs en versorging terwyl ds Kleyn bedank word
vir die uiters bekwame leiding waarmee hy opgetree het as voorsitter van die
vergadering. In ‘n baie goeie en hartlike broederlike sfeer kon al die besluite
geneem word. Van die Here verwag ons sy seën sodat hierdie besluite ook werklik
sal kan dien tot die groei van sy kerk en koninkryk in Suid-Afrika. Alle eer,
dank en lof kom die Here toe vir die hartlike eenheid in die geloof waarin
vergader kon word.
ds E Viljoen
|