Kort Verslag van die Sinode van die
Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
gehou te Johannesburg
op Vrydag 27 April 2001
BOUWERK
Die sinode is op Vrydag oggend, die 27ste April, byna ’n
jaar na die vorige normale sinode van die VGKSA, deur die voorsitter van die
sameroepende kerk te Johannesburg geopen. In sy openingstoespraak gebruik br
Henk Boessenkool die beeld van ’n bouwerk op een erf wat saam ’n eenheid
vorm. Hy beklemtoon die eenheid wat die Here deur sy Gees bewerk tussen kerke
wat elkeen tog op sy eie plek weer ’n eie taak en verantwoordelikheid het om
te vervul.
Die verwondering en vreugde word uitgespreek dat dit weer
vir ons as kerkverband nodig is om ’n ad hoc sinode te mag hou. Dit gee
’n groot vreugde in die kerke om te kan sien hoe die Here ons taak en roeping
in hierdie land ook bevestig met sulke konkrete vrugte soos by die ontvangs van
’n kerk in die een kerkverband. Die vergadering kon sy werk verder verrig
onder die uiters bekwame voorsitterskap van ds C Kleijn.

Die moderamen: Ds E Viljoen (assessor),
Ds C Kleijn (voorsitter) en br P Bouwman (skriba)
Drie van die sendelinge, t.w. di. Visser, Bosman en
Boersma kon die sinode dien met hulle insette as adviseurs. Verder was ’n
aantal broeders uit Mamelodi teenwoordig as waarnemers. Hulle kon die verloop
van die sinode volg deur ds Bosman wat deurlopend kommentaar en vertaalwerk vir
hulle kon doen. Daar word gehoop dat op hierdie manier daar ook by die broeders
uit die sendingsgemeentes verdere stimulasie sal kom om saam met die kerkverband
te besin oor die vorming van ’n multikulturele verband van kerke.
Twee predikante uit die NG Kerkverband was ook as
waarnemers teenwoordig in hul persoonlike hoedanigheid. Hulle vervul beide ’n
leidinggewende rol binne die Werkgemeenskap vir Kerkreformasie. Hierdie
werkgemeenskap bestaan hoofsaaklik uit predikante van die NG Kerk wat deur die
hou van seminare en werkswinkels, mee wil werk aan die geestelike en teologiese
herstel na die afval wat veral binne die NG Kerk plaasgevind het. Daar was met
hierdie broeders ’n wedersydse herkenning en bemoediging in die gesprekke wat
tussen die sittings van die sinode gevoer kon word. Die gesprekke het duidelik
laat blyk dat die enigste manier van ware kerkreformasie uiteindelik sal moet
uitloop op die skeiding tussen geloof en ongeloof. Die band wat kerke aan mekaar
bind, is bevestig en gedemonstreer toe alle afgevaardigdes en adviseurs hul
instemming met die gereformeerde belydenis getoon het deur op te staan.
BEGELEIDING
Die versoek van die Gereformeerde Christelike Kerk te
Springs om deel te word van die verband van die VGKSA is daarna in oorweging
geneem. Hierdie proses het bestaan uit drie stadia. Eers moes vasgestel word of
die sinode oor voldoende betroubare inligting beskik om die aansoek te oorweeg.
M.a.w. die eie deputate en visitatore van die VGKSA se werk is eers deur die
sinode in oorweging geneem. Op grond van die aanvaarding daarvan, kon die
oorweging van die inhoudelike van hierdie verslaggewing plaasvind om te kom tot
’n toelating van die kerk tot die verband van kerke. In die laaste plek volg
dan nog die ondersoek na die insigte en oortuigings van die predikant van die
kerk, ds PJ Retief, oor die Gereformeerde leer en kerkregering. Slegs op grond
van ’n positiewe uitslag van laasgenoemde kan die predikant dan ook as
volwaardige bedienaar van die Woord in die verband van kerke funksioneer op
vergaderings en op uitnodiging die Woord in die ander susterkerke bedien.
Tydens die oorweging van die verslaggewing van die
deputate, is eenparig deur die sinode uitgespreek dat daar ’n meer
gestruktureerde begeleiding nodig is van kerke wat hulle by die verband van
kerke wil voeg. Daar bestaan duidelik ’n behoefte aan duideliker afsprake oor
verdeling van verantwoordelikhede sonder om ’n prosedure wat waterdig op alle
situasies kan pas, vas te stel. Deputate Werk onder verontrustes kry dan ook ’n
opdrag van die sinode om hierin die kerke op die volgende sinode met ’n
prosedurevoorstel te dien vir oorweging. Nogtans was die sinode tevrede dat op
grond van beskikbare inligting
verkry van deputate en die visitasieverslag wat in camera
voorgelees word, voortgegaan kon word met die ondersoek. Daar word wel
afgespreek om die beskikbare inligting aan te vul met ’n geleentheid vir
afgevaardigdes om regstreeks vrae te vra aan die afgevaardigdes van die kerk te
Springs by die sinode.
ONDERSOEK
Uit die ondersoek het dit duidelik geblyk dat ons hier te
doen het met ’n kerk wat volgens die Woord van die Here en die Gereformeerde
belydenis wil lewe. Met groot dankbaarheid en verwondering is kennis geneem van
die pad wat die Here met hulle as gemeente gestap het van afskeiding van lidmate
uit die NG Kerk tot vorming van ’n gemeente as deel van die Afrikaanse
Protestantse Kerk tot noodsaaklike onttrekking aan ’n kerkverband wat met ’n
onskriftuurlike kerk- en kerkregeringsbegrip leef. Die kerk te Springs het
duidelik ’n besondere bewoënheid oor die lotgevalle van die Afrikanervolk,
maar wil kerk van Christus wees saam met almal wat in die eenheid van die ware
geloof met hulle leef.
Na deeglike oorweging van alle motiewe en oortuigings wat
verder uitgespel is in antwoord op die stel van regstreekse vrae aan die
afgevaardigdes van die Kerk te Springs, word met vrymoedigheid en eenparigheid
besluit om die kerk te ontvang binne die verband van Vrye Gereformeerde Kerke.
Deur die voorsitter, ds Kleijn, word ’n woord van hartlike verwelkoming aan die
broeders gerig. Die feit dat ons as kerke almal vir mekaar gegee word om mekaar
met ons gawes te dien word besonder beklemtoon. Die kerke het elkeen sy eie
geskiedenis wat beteken dat besondere fyngevoeligheid en hartlike liefde altyd
voorop sal moet staan in ons omgang met mekaar. Die wete dat ons almal gekoop is
deur dieselfde kosbare prys van die bloed van Christus, sal ons altyd weer tot
diensbaarheid en nederigheid moet bring. Daarna kon die sinodelede mekaar nog
die seën van die Here toewens deur samesang uit Psalm 134.

Die voorsitter Ds C Kleijn verwelkom
die Springs gemeente in die kerkverband.
DS P J RETIEF
As laaste stap in die prosedure, is ondersoek gedoen na
die predikant van die Gereformeerde Christelike Kerk te Springs. Ds Retief dien
die kerk nou reeds ongeveer tien jaar as predikant. Om nou ook in die wyer
verband van die VGKSA te mag dien, moes ondersoek gedoen word na sy oortuigings
oor die Gereformeerde leer en kerkregering. Besondere aandag is gegee aan die
Skrifgesag, die leer oor die uitverkiesing, verbond en die kerk. Wat die
kerkregering betref, is veral vanuit die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikels
30 - 32 nagegaan wat ds Retief se geloofoortuigings en -insigte is.
Ook hier het uit die vraagstelling en antwoorde duidelik
geblyk dat daar ’n ander geskiedenis deur ds Retief deurleef is as meeste van
die dienende predikante in die VGKSA. Duidelik vir almal was die weg wat die
Here ook met hom gegaan het. In sy persoonlike lewe, maar ook as bedienaar van
die Woord. Die sinode kon daarna met vrymoedigheid ds Retief as bedienaar van
die Woord in die kerkverband ontvang. Sy mondelingse getuienis en onderneming om
die Here volgens sy Woord en die gereformeerde belydenis te dien, kon hy
bevestig deur die drie Formuliere van Eenheid te onderteken in die
teenwoordigheid van al die afgevaardigdes.
SAAM GROEI
Die agenda is afgerond deur ’n bespreking van maniere
waarop die kerke almal steeds nader aan mekaar kan groei. Die kerke het teenoor
mekaar openhartig erkenning gegee dat die kerkverband hoe langer hoe meer
bestaan uit kerke wat nie ’n eenvormige geskiedenis deel nie. Hulle sal mekaar
steeds beter moet leer ken en verder leer vertrou en liefhê en ondersteun.
Daarvoor is onmiddellik tydens die sinode behalwe die normale vasstaande
afsprake volgens die kerkorde, informele reëlings getref vir die hartlike
ontvangs en verder saam groei van die Vrye Gereformeerde Kerk te Springs in haar
nuwe kerkverband.
SLUITING
Die kerk van Johannesburg is nog bedank vir die hartlike
en gasvrye ontvangs en versorging en ds Kleijn vir sy bekwame en wyse leiding van
die vergadering. Die vergadering kon ten spyte van die heel indringende manier
waarop vrae gevra en sake bespreek is, in ’n hartlike broederlike sfeer
plaasvind. Vir hierdie groot gawe kon die Here met groot dank al die lof
ontvang.
ds E Viljoen
|