Sb 8

Skrifberyming 8

1.  Aan U, o Lam van God, 'n nuwe lofgesang!
Want U is waardig om die wonderboek te ontvang
en oop te breek - die boek van toekoms en verlede
en van wat word, geskrif van Gods verborgenhede.
U 's waardig, U alleen, omdat die werk volbrag is,
toe U as offer vir ons sondeskuld geslag is

2.  U 't van die hemel hoog op aarde neer wou daal,
en ons vir God gekoop uit alle volk en taal.
Die losprys was u bloed, wat U vir ons gestort het,
waardeur ons, rein gewas, 'n priestervolk geword het
en konings in die ryk van onverstoorb're vrede,
om God te dien en eer in eind'lose ewighede.

3.  Toe sien ek hoog bo my die skaar van eng'le staan
en 'k hoor hul sanggeluid wat deur die hemel gaan. 
Hul staan wyd om die troon, self heerskappye en magte,
rondom die oudstes en die gérubs groot van kragte;
ontelbaar is hul tal, dis duisende maal duisend,
en 'k hoor hul koorgesang soos baie waters bruisend:

4.  "Die sondelose Lam, vir sondeskuld geslag,
is waardig om te ontvang die rykdom, wysheid, krag,
en eer en heerlikheid en dankb're seëninge!
En al wat leef en roer, al die geskape dinge
op aarde en diep omlaag, of in die hoë hemel,
al wat die see bewoon en in sy dieptes wemel -

5.  die ganse skepping sing met krag van jubeltoon:
"Aan Hom wat heerlik is, hoog op die wêreldtroon,
en aan die Lam van God, self eewge Skeppings-Here,
sy ewig lof en prys en krag en roem en ere!"
Met "Amen, Amen!" het die gérubs opgeswewe.
Die oudstes het aanbid voor Hom wat ewig lewe.