Skrifberyming 36

Skrifberyming 36

1.  Toe hoor ek uit die hemel uit
'n sangstem groot soos die geluid
van golwe wat die seekus slaan,
en donder wat die stormpad baan.
Dit het my ore ook sag gestreel
soos siters waar hul sag op speel.

2.  Met duisenderlei stemme dring
die lied omlaag wat hulle sing.
Dit was 'n lied in nuwe toon
wat hulle aanhef voor die troon
en voor die hofstoet wat met glans
van vlammelig Gods troon omkrans.

3.  En buiten hul kon niemand meer
die klanke van die loflied leer,
so diep was hulle ingelei,
in gods geheim'nis ingewy!
Hul lewe, deur die Lam gekoop,
gaan soos 'n blanke lelie oop.

4.  Dis hulle wat, op aarde rein,
voor God nou maagd'lik kan verskyn,
as eerstelinge, aan God gewy
en aan die Lam, deur loskoop vry.
Agter die Lam kom hulle aan,
hul volg Hom waar sy voetstap gaan.

5.  Deur Gods genade in Christus ryk,
was hulle aan sy beeld gelyk:
geen valse skyn het hul verblind,
geen leu'n is in hul mond gevind,
geen letsel het hul aangekleef,
wat nou by God in reinheid leef.