Skrifberyming 29

Skrifberyming 29

1.  Bo lug en wolke 't ek gehoor
die "Halleluja" van 'n koor
wat aarde en swerk laat beef het.
Dit was die stem, die lofgeskal
van eng'leskare sonder tal
wat bruisend my omsweef het.

2.  "Die heil en heerlikheid en eer
en sterkte aan onse God en Heer!
Hy het as Vonnisspreker
die aartsverleidster neergestort;
van mart'laarsbloed, al weggedord,
is Hy die strenge Wreker."

3.  En nogeens het die sangerskring
hul "Halleluja" neergesing
en daardie doem verhewig.
Vir haar wat alles wou verderf,
sal nou die pyniging nie sterf:
haar rook gaan op vir ewig.

4.  Die oudstes, om die troon geskaar,
en viertal wesens wonderbaar
het neergeval tesame.
Hul het die sterke God aanbid
wat op sy hoë magstroon sit,
met "Halleluja, Amen!"

5.  'n Stem het uit die troon gegaan.
Dit spoor tot strenger spanning aan
al wie Gods lof gesing het:
Laat wie God vrees en dien, Hom eer
totdat sy glans en glorie weer
die groot heelal deurdring het.

6.  Aanswellend soos 'n onweerskoor,
het ek die sangerstem gehoor
van die verloste skare -
geweldig soos 'n donderslag,
swaar soos die dreuning in die nag
van opgesweepte bare.

7.  Hul sing die "Halleluja" weer.
"Want, " sê hul, "onse God en Heer
is aan sy Woord gedagtig:
die groot verlossingsdag is daar,
Hy het die koningskap aan vaar
en heers as God almagtig.

8.  "Laat ons verheug wees en verblyd,
en gee aan God die heerlikheid!
Na leed wat ons gely het,
staan nou die bruilofsmaal gereed,
waarvoor die Lam se bruid haar kleed
van fynste stof berei het.

9.  "Die skoonheid is aan haar gegee,
God het haar met die kleed beklee
van reine en regte dade
En - salig hy wat tot die maal
deur God genooi word en mag straal
in daardie lofgewade."