Skrifberyming 27

Skrifberyming 27

1.  Ek geloof in God die Vader
wat almagtig, wys en trou,
Skepper is van alle dinge
en dit nog in wese hou.
Ek geloof in Jesus Christus,
wat ons in aanbidding eer:
Eengeboorne van die Vader,
in sy hoogheid onse Heer.

2.  Hy wat deur die Gees ontvang is
- die geheimenis is groot! -
en gebore is uit Maria,
uit die maagdelike skoot.
Wat gely het toe Pilatus
onregsvonnis het gevel -
kruis en doodsmart ondergaan het,
al die angste van die hel.

3.  Wat die derde dag verrys het,
daar die dood Hom nie kon hou;
na die hemel opgevaar het
deur die diep, onpeilb're blou.
Wat nou sit, met eer en sterkte
aan Gods regterhand omgeef,
tot Hy weerkom as die regter
van wat dood is en wat leef.

4.  Ek geloof, met stille aanbidding,
in die Heil'ge Gees wat my
in my sondedood gewek het,
my as Trooster leer en lei.
Ek geloof 'n heil'ge eenheid,
wêreldwyd, in Christus een,
wat sy roepstem sal vergader,
deur die lange eeue heen.

5.  Ek geloof aan die gemeenskap
heilige verbintenis
van wie almal saam 'n eenheid,
in hul Heer een liggaam is.
Ek geloof die skuldvergewing,
weeropstanding van die vlees,
en 'n lewe in eewge duurte,
as die dood nie meer sal wees.