Sb 16

Skrifberyming 16

1.  Salig die wat arm van gees is
en van God hul wysheid leer,
want die koninkryk der heemle
is hul erfdeel, sê die Heer.

2.  Salig die wat kwyn in droefheid,
in hul weedom troosteloos,
want hul droefheid word tot vreugde
as die Heer hul hart vertroos.

3.  Salig die wat stil-sagmoedig
hier geen hoogheid wil verwerf,
want 'n aarde sonder moeite,
nuut-herbore, sal hul erf.

4.  Salig die wat, dors en honger,
smag na die geregtigheid,
want vir hul is daar versading,
laafnis na die dag van stryd.

5.  Salig die wat nou, barmhartig,
hul ontferm oor die wat ly,
want hul sal, as God gaan oordeel,
self barmhartigheid verkry.

6.  Salig die wat rein van hart is
en die oog omhoog bly hou;
as die newels weggetrek het,
sal hul klaar hul God aanskou.

7.  Salig is die vredemakers
in 'n wêreld oud van twis;
"seuns van God" sal hul genoem word
as 't weer vrede op aarde is.

8.  Salig die wat hier vervolg word
en vir reg en waarheid ly,
want die koninkryk der heemle
is vir hul as loon berei.

9.  Salig die wat hier gesmaad word,
onder lyde lydsaam-stil;
die wat wegkwyn onder laster
en dit dra om Christus wil.

10.  Juig, want hul het die profete
ook gemartel en gehoon!
Juig en Jubel! Uit die hemel
wink die skone oorwinnaarsloon.