Psalm 91

Psalm 91

1.  Wie toevlug neem in veil'ge hut
en skuil by die Alhoë,
hy word beskadu en beskut
deur God se alvermoë.
O HEER, my Rots, op wie ek bou,
by U is't my die beste;
my toevlug waar ek stil vertrou,
in nood my veil'ge veste.

2.  Daar's nette, waar jou voet ook gaan,
soos van die voëlvanger;
uit donker plekke waai jou aan
'n stroom van pesdamp swanger.
Maar eewge vleuels sweef oor jou,
geruis van reusevlerke;
rondom jou is Gods eewge trou,
die harnas van die Sterke.

3.  Geen vrees, wanneer by donker nag
die skrik 'n mens laat bewe;
geen vrees, wanneer die pyl oordag
geswind kom aangeswewe.
Geen vrees, wanneer die dood sy prooi
verslaan in middagstonde,
of as die pes sy gifkiem strooi
by nagtelike ronde.

4.  Al val daar duisend deur die pes,
die nagtelike swerwer,
al val tienduisende gekwes,
verslaan deur die verderwer -
jy staan daar onbeskadig, pal;
net maar dat jy gesien het
hoedat die goddelose val,
die loon wat hul verdien het.

5.  Wie toevlug neem in veil'ge hut
en skuil by die Alhoë,
hy word beskadu en beskut
deur God se alvermoë.
In onheilsnag sal geen geweld
jou pad onveilig maak nie,
jou reistent, eensaam in die veld,
geen kwaad of plaag genaak nie.

6.  Rondom jou ruis die eng'levoet
met liggewiekte treë,
hul kom die wand'laar tegemoet
en lei hom op sy weë.
Hul bied op Gods bevel hom aan
die hulp van will'ge hande,
en dra hom, waar die reispad gaan
oor ruwe rotserande.

7.  Hoog sal jy oor die leeukop stap,
vertree die roofbespringer;
jy sal op slang en adder trap
wat sluipend om jou slinger.
"Hy het my lief, hom maak Ek vry
wat dierbaar in my oog is;
Ek waak oor hom, want hy bely
my Naam wat hoog en sterk is.

8.  "Hy roep, en Ek beskerm hom daar,
totdat die nood verby is;
Ek lei hom na die hoogtes waar
'n eerkrans hom berei is.
Die menseleeftyd, vlug en kort,
verleng Ek uit genade,
sodat hy blye aanskouer word
van al my reddingsdade."