Psalm 89

Psalm 89

1.  Van goedertierenheid sal ek vir ewig sing,
en aan u trou, o HEER, altyd my hulde bring;
want soos 'n tempel wat op vaste grond verrys het,
so rys die eewge guns wat U aan ons bewys het;
en soos die hemelboog nooit uit sy stand sal wyk nie,
so seker sal u trou nooit wankel of beswyk nie.

2.  Ek het my trouverbond, so het die HEER gespreek,
met Dawid opgerig, en sal dit nooit verbreek.
Uit vrye guns sal dit My nimmermeer berou nie,
niks die vervulling van my eed aan hom weerhou nie:
Jou nageslag, o vors, bevestig Ek vir ewig,
jou rykstroon bou Ek op, van kind tot kind gestewig.

3.  Die hemel loof, o HEER, u wonderbare mag;
die eng'le prys u trou en waarheid dag en nag.
Want in die hemel is daar niemand U gelyk nie;
geen seraf wat voor U die vleuel nie moet stryk nie.
U's groteliks gedug en eind'loos in vermoë,
u onverbreekb're trou omring U voor hul oë.

4.  U tem die woeste see, dit luister na u wil;
hoe hoog die storm mag gaan, U wink en dit is stil!
Ook Rahab is verslaan; net waar u arm geswaai het, 
lê vyande verstrooi, soos kaf wat weggewaai het.
Die aarde en hemel, HEER, die volheid wat daarin is,
is uwe, daar U self hul oorsprong en begin is.

5.  Die noorde 't U geskep, die suide daarmee saam;
hier jubel Tabor, daar juig Hermon in u Naam.
U het 'n arm met mag; u hand het groot vermoë,
u regterhand is hoog, u troon bly onbewoë:
geregtigheid, die skraag u troon aan alle kante,
en guns en waarheid is u troue troongesante.

6.  Hoe salig is die volg wat luister na u woord,
hul wandel in die lig wat van U afstraal, voort.
Hul sal hul in u diens, waaraan hul toegewy is,
die ganse dag verheug, omdat hul in U bly is;
hul prys u grote krag wat alle krag oortref het,
en u geregtigheid wat hul weer opgehef het.

7.  U tog, U is hul roem, hul sieraad en hul prag,
wat hul beklee met sterkte en onverwinb're mag.
Uit vrye guns alleen, uit eewge mededoë,
hef ons die hoof omhoog, weer sterk deur Gods vermoë.
Want God is ons 'n skild, die weerkrag van ons lewe;
en onse Koning is deur Isr'els God gegewe.

8.  U het voorheen, o HEER, u goddelike lig
laat uitstraal voor ons heen in sienersvergesig;
U 't van 'n saak gemeld in donker nog verlore:
My hulp verleen Ek aan 'n held deur My verkore,
aan Dawid, aan my kneg, met kosb're salf oorgote,
wat Ek verhoog het uit sy stam- en ryksgenote.

9.  My hand sal hom bewaak, bestendig dag en nag;
my arm sal hom in nood versterk met moed en krag.
Val hom die vyand aan, dit sal hul nie geluk nie;
die man van onreg sal hom nooit kan onderdruk nie;
wie hom beangstig, of dit ooit teen hom wil wae,
die sal my hand besoek met strafgerig en plae.

10.  My goedertierenheid, hom altyd trou naby,
sal in die donker nag sy helder leidster bly.
My Naam sal vir hom wees 'n altyd sterke toring,
en in my krag swaai hy die hooggehewe horing.
Ek sal sy hand laat heers oor lande wydgeleë,
my goedertierenheid bewys Ek hom vir ewig.

11.  Hy sal dit uitroep: HEER, U is my Vader trou,
my God, my Rots van heil waar ek alleen op bou.
Hy is vir My 'n seun tot hoogste rang gebore,
wat Ek tot koning van die konings het verkore.
Vir hom bly my verbond vir altyd vas en stewig,
my goedertierenheid bewys Ek hom vir ewig.

12.  Ek sal sy nageslag en troon nooit laat vergaan,
sy heerskappy laat duur so lank die hemel staan.
Maar wil sy kinders nie my wette onderhou nie,
bly hul aan my bevel en regte nie getrou nie,
maar dwaal hul verder af in hul onheil'ge weë -
Dan kom my tugtiging op sondaarspad hul teë.

13.  Dan sal Ek oor hul kwaad my strenge roede hef;
my hand sal nie verskoon, maar streng hul boosheid tref.
Nogtans sal Ek van hom my goedheid nimmer wend nie,
nog wankel in my trou, of ooit my waarheid skend nie.
Ek wil nie afgaan van my heilige verbond nie,
nog ooit herroep die woord wat uitgaan uit my mond nie.

14.  'k Het by my heiligheid aan Dawid trou gesweer,
beloftewoord wat Ek bevestig altyd weer;
sy nageslag en troon sal voor My wees onendig,
net soos die son se lig so glansryk en bestendig;
net soos die maan so vas. En bo die hemelboë
staan die Getuie, in getrouheid onbewoë.

15.  En nou?... U het verstoot, U het in toorn verag
hom wat gesalf was, in sy late nageslag!
Het U u kneg vergeet, dink U aan u verbond nie?
Lê nie sy koningskroon ontheilig teen die grond nie?
U gooi sy mure om en breek sy vestingwalle,
al wie verbygaan, roof en spot na welgevalle.

16.  Sy teëstander, HEER, het U bo hom verhef,
sy vyand bly gemaak, sy swaard kan nie meer tref;
sy heldehart is weg, geen krag meer in sy hand nie; 
sy glanse het verbleek, sy troon hou nie meer stand nie;
sy jeug het U verkort deur smaad wat hom oordek het.
Hoe lank nog?... HEER, hoe brand die vlam wat U gewek het!

17.  Gedenk, o HEER, hoe swak ek is: hoe kort van duur,
hoe nietig my bestaan, die dood wink ieder uur.
Wie leef daar wat die dood nie eenmaal sal aanskou nie?
Geeneen wat teen die mag sy lewe kan behou nie.
Skenk ons u guns, o HEER, help ons in donker stonde
na u beloftenis, aan Dawids huis verbonde.

18.  Gedenk, o HEER, die smaad waarmee hul ons oorstort,
hoedat ons siel deur volk op volk gepynig word.
Gedenk hoe skande en skimp die voetstap begelei het
van hom wat U gesalf, as vors Uself gewy het.
Nogtans, o HEER, u trou die volg U in u gange -
geloofd sy dus u Naam, en "Amen" sê my sange!