Psalm 85

Psalm 85

1.  U het, o HEER, u land weer guns bewys
en Jakobs saad uit knegskap op laat rys:
hul misdaad, wat u heil'ge toorn verwek,
was weg; hul sondes almal toegedek.
U het u gramskap eind'lik afgeweer;
die hitte van u toorn was daar nie meer.
O God van heil, besoek nou weer u land,
en laat u toorn nie meer teen ons ontbrand.

2.  Sal dan u toorn ons altyddeur oordek -
die onweerswolk wat, grimmig uitgestrek,
ons lewenslig oordonker dag aan dag?
Sal dit nog rus op kind en nageslag?
Werk U nie meer in ons die lewensgees,
dat ons, u volk, in U verblyd kan wees?
Toon ons u goedertierenheid, o HEER,
en wek in ons verlossingsvreugde weer.

3.  Ek sal nou wag en luister, want ek weet
dat God die HEER sy volk nie sal vergeet.
Hy sal, wanneer sy gunsgenote smeek,
hul roepstem hoor en weer van vrede spreek.
Maar laat sy volk dan nie onagsaam weer
die voetstap na die pad van dwaasheid keer;
Gods heil's naby - dat luisterryk en skoon
die heerlikheid weer in ons land kan woon.

4.  Genade en trou sal dan mekaar ontmoet;
die reg sal vrede met 'n kus begroet;
getrouheid spruit dan uit die aarde weer,
geregtigheid sien van die hemel neer.
Die goeie ontvang ons dan weer uit Gods hand
as halme buig op vrugbare akkerland.
Geregtigheid gaan voor Gods aangesig
en bloei omhoog waar Hy sy voetstap rig