Psalm 83

Psalm 83

1.  O God, wees nie altoos
so stil en dadeloos
teenoor die onheilsmanne!
Hul steek met groot gerug
die hoof op in die lug
en dreig met onheilsplanne.
Teen ons smee hul verraad,
teen U, ons toeverlaat,
by wie ons, skuilgeboë,
teen storm en onweerswind,
'n skuil- en rusplek vind
uit krag van u vermoë.

2.  "Die slagorde opgestel!
Roei uit van Israel
die naam en die gedagte!
Versamel Edomiet,
Woestynstam, Moabiet
en Ismaels geslagte!
Gébal en Amalek
moet saam met Ammon trek."
By Filistynse magte
het nou, belus op buit,
ook Assur aangesluit -
die arm van Lots geslagte.

3.  Wil hul verdelg, verban,
o God, soos Midian,
soos Jabin en sy helde:
hul is gestuit, gestort,
het slyk en mis geword
op Endors vrugb're velde.
Maak hulle soos weleer
die Midians-vorste, HEER,
die saamverbonde konings.
Hul wat nou sê: "Komaan,
laat ons Gods volk verslaan
en intrek in Gods wonings!"

4.  Soos stoppels voor die wind,
verwilder hul geswind,
en jaag die vlugtelinge! 
Storm op die bendes los
soos vlamme in berg en bos
wat waai in wilde kringe!
Laat hulle voor U swig!
Oordek hul aangesig
met skaamte en skrik en skande,
dat hul erken u mag
en buig voor u gesag
as Hoogste oor alle lande.