Psalm 74

Psalm 74

1.  Waarom, o God, vind ons geen medely?
Waarom verdryf u toorn ons altyd verder
Ons is u kudde, U die kuddeherder
wat deur u hand ons uit en in wou lei.

2.  Dink aan u volk, aan u gemeente weer,
wat U voorheen as gunsvolk uitgelei het,
die stam wat U as erfdeel toe verkry het
aan Sions berg, u woonplek van weleer.

3.  Hef op u voete na die eewge puin!
Dit is u heiligdom wat neergestort het,
van plunderaars geheel 'n prooi geword het!
Hoog rys hul vaandel nou op Sions kruin.

4.  Hul hamers het die houtwerk neergeslaan;
hul byle het geswaai, gekap, gekerwe,
hul ruwe hand die tempelskoon bederwe,
verdelgingsvuur oor alles heen laat gaan.

5.  U heiligdom is deur die vuur geskend;
niks kon sy glans teen hul geweld beveilig.
Die pronkpaleis, u woning, is ontheilig,
tot puin en as het hul dit omgewend.

6.  Hul het gesê:"Laat ons met ruwe hand
hul almal saam verdruk deur strafgerigte."
Hul ruwe vuis het al die Godsgestigte,
u Naam tot hoon, verbrysel en verbrand.

7.  Ons sien geen tekens in die donker uur
van u verbond, en daar s geen profete
wat ons meer troos of bring die dieper wete
hoe lank ons druk en hartseer nog moet duur.

8.  Hoe lank, o God, sal nog die teenparty
ons smaad en tart? Sal dan in ewighede
u Naam beskimp word in sy lasterrede?
Wat toef U nog en trek u hand tersy?

9.  Strek uit u hand, die regterhand so sterk,
vernietig hul, die skenders van u woning!
U is, o God, van ouds af tog my Koning,
U wat op aard' verlossingswonders werk.

10.  Mag die ontwaak, u hand, en hul verstrooi -
U wat voorheen in stormsee al die drake,
seemonsters, Leviatans ope kake
oorweldig het, die roofgediert' ten prooi.

11.  U guns, o HEER, was oor ons van omhoog,
't sy U fonteine uit 'n rots laat spring het,
of waters, wat uit dieptes saamgedring het,
'n volle stroom, deur U is uitgedroog.

12.  Aan U behoort die son wat ons bestraal,
die sterrenag is maaksel van u hande,
die see wat spoel langs vasgestelde strande;
die jaarseisoen het U vir ons bepaal.

13.  Gedenk hieraan, o God van grote krag:
Vermeetle tonge het u Naam gelaster;
die vyand, van u vrees en diens verbaster, 
het U geterg, gehoon in u gesag.

14.  Gee aan gediert' wat om ons roof en skeur,
die lewe van u tortelduif nie oor nie;
laat dit nie wees asof U ons nie hoor nie,
asof U ons vergeet het altyddeur.

15.  Ons is omring deur skrik en duisterheid:
uit donker plekke loer die onheilsmagte.
Maar bo ons skyn die helder sterrewagte
van u verbond, waarop ons voor U pleit.

16.  Mag ons, o HEER, u bystand maar erlang!
Maak ons in ons gebedsroem nie verleë.
Staan op, o God, en stap u vyand teë,
sodat ons U kan grootmaak in gesang.

17.  Vergeet nie, HEER, die onverdraag'bre hoon,
die spotgeroep van al u teenpartyders,
rumoerigheid van al u magsbestryders,
wat tartend opstyg na u hemeltroon.