Psalm 7

Psalm 7

1.  HEER, my God, by wie ek skuiling,
redding soek - my teenparty
wat my jaag op al my spore,
dring gedurig naderby.
As u hand my nie verlos nie,
sal hul lewend my verslind,
soos 'n leeu die arme skaaplam
wat hy sonder herder vind.

2.  HEER, my God, wat is my sonde?
Het die skuld my aangekleef
dat ek kwaad hom aangedoen het
wat met my as vriend wou leef?
Nee, ek het die hand van vriendskap
reddend na hom uitgesteek,
ook al was die band van vriendskap
deur sy vyandskap verbreek.

3.  As ek met 'n valse weegskaal
leed vir guns en kwaad vir goed
aan my vyand toegeweeg het -
laat sy wraak my dan ontmoet.
Laat hom my dan jaag en inhaal
en my lewe nie verskoon,
my vertrap, my eer verneder
en my in die stof laat woon.

4.  HEER, ontwaak en keer sy gramskap
met die vuurskerm van u wraak!
Daag hom voor u regtersetel;
laat my tot my reg geraak!
Straal u vonnis voor die oë
van die volke op hom neer!
Keer dan majesteitlik, HERE,
na die eewge hoogtes weer.

5.  Hoor, o Regter van die volke!
Doen aan my, o God, tog reg!
Bid ek wél, o hoor my bede
na die waarheid van my weg!
Straf die goddelose bende,
stel hul boosheid perk en paal!
Help my, U wat hart en niere
met u kennislig deurstraal.

6.  Soos 'n held met skild gewapen
aanstap sonder kommernis,
so voel ek by God my veilig
wat my skild en helper is.
Want Hy is die hoogste regter
wat die lyder reg verskaf;
elke dag ontvlam sy wraakvuur
wat die onregwerkers straf.

7.  As die vyand in sy oormoed
hom nie in sy loop laat stuit,
dan ruk God, hoewel lankmoedig,
eindelik sy slagswaard uit.
Dan span Hy sy boog en mik Hy
met sy pyle, skerp en spits;
en die vyand voor hy neerplof,
sien die dodelike blits.

8.  Want hy was van onreg swanger,
moeite-en leu'ns het hy versin;
en nou stort hy self, die grawer,
in sy eie vangkuil in.
Sal ek dan die HEER nie loof nie
en sy Naam nie hulde bring?
Vir sy groot verlossingsdade
sal 'k die Allerhoogste sing.