Psalm 69

Psalm 69

1.  Help my, o God, want ek vergaan!
Ek het in modder ingegly 
waar daar geen staanplek is vir my;
en oor my storm die waters aan.
Ek roep my hees, my oog versmag,
waar ek vergeefs op U bly wag.

2.  Meer as die som wat ek kan tel,
en meer as my geringe krag,
vermeerder hul in tal en mag
wat my, onskuldig, neer wil vel.
Hul laat my sonder oorsaak boet.
Dit jaag en storm deur my gemoed!

3.  Voor U alleen wil 'k skuld bely.
My dwaasheid, ag, die klaag my aan.
Maar laat om my beskaamd nooit staan
wie op U wag. U weet ek ly
en dra my smaad geduldig-stil
om U, o HEER, om U ontwil!

4.  Ook my geslag verwerp my, want
'n ywer vir u huis en eer -
dit het my soos 'n vuur verteer
en in my soos 'n vlam gebrand;
smaadwoorde sonder maat of tal
het, HEER, om U op my geval.

5.  Ek kwel my siel met vas en ween,
maar dit het my tot smaad geword;
met sakkleed het ek my omgord,
maar is 'n spot vir iedereen.
Die praters praat op straat van my,
en dronkaards sing hul lied daarby.

6.  Maar my gebed is tot U, HEER!
Daar is 'n tyd dat U verhoor:
in grote goedheid, neig u oor,
en deur u trou, verlos my weer.
Verlos my uit die modderpoel
en waterstroom wat om my spoel.

7.  Wil, HEER, die waters om my stuit,
laat nie die dieptes my verslind;
die put waarin ek my bevind,
laat hom sy mond nie bo my sluit.
Verhoor my, want u guns is goed,
u medelye 'n owervloed.

8.  Aanskou my in barmhartigheid:
dit is vir my benoud en nou.
Verhoor my, HEER, verhoor my gou,
en maak dit om my heen weer wyd.
Die skande en smaad wat my onteer,
my vyand self, U ken hul, HEER.

9.  Die smaad het my die hart gebreek;
ek beef en wag op medely;
maar tevergeefs, geen troos vir my.
Hoe ek al mom erbarming smeek,
gal het hul my as spys gegee;
asyn - hul les my dors daarmee.

10.  Hul tafel - maak dit tot 'n strik:
dat hul hul ondergang daar vind!
Slaan met u straal hul oë blind,
en laat hul heupe altyd swik!
Stort grimmigheid oor hulle uit,
'n toornvuur wat hul vaart sal stuit!

11.  Maak van hul laer 'n woesteny,
want hul belaster en verjaag
wie deur u smartwond is geplaag.
Vergroot hul skuld, spreek hul nooit vry;
wil uit u Boek hul naam uitwis
waarin u volk geskrywe is.

12.  Al is ek, HEER, in pyn en nood,
u hulp sal soos 'n skild verrys!
Daarvoor bring ek U lof en prys,
ek maak U in my danklied groot.
Dit sal die HERE allermees
as offer welgevallig wees.

13.  Sagmoediges sal dit aanskou
en bly wees as hul dit beleef.
Laat dié wat hul tot God begeef, 
herleef, met frisse krag bedou.
God hoor hul wat behoeftig is
en kwyn in die gevangenis.

14.  Laat aarde en hemel Hom dan prys,
die see en al wat dit deursweef!
Want God sal Sion laat herleef,
en Juda's stede sal herrys.
Dan vind Gods volk 'n erfdeel weer
en wonings wie sy Naam vereer.