Psalm 68

Psalm 68

1.  Die HEER sal opstaan tot die stryd;
Hy sal sy haters, ver en wyd,
laat wegvlug voor sy oë.
Hoe hoog die mens se trots mag gaan,
hy sal geen oomblik kan bestaan
voor God se alvermoë.
As U, o HEER, in mag verskyn,
sal hul soos rook en damp verdwyn,
deur stormwind voortgedrewe.
Soos was wat smelt voor hitte en vuur,
het almal voor Gods glans geen duur
wat goddelooslik lewe.

2.  Maar al Gods volk, in Hom verheug,
sal opspring in hul sielevreug
en huppel voor sy oë;
sy mag, wat alle mag oortref
en uit verneedring hul verhef,
sal nooit hul val gedoë.
Hef tot Gods eer 'n danklied aan;
verhoog, verhoog voor Hom die baan;
sing, al wat leef, sy ere!
Berei die weg, in Hom weer bly
wat deur die wye vlaktes ry:
sy Naam is HEER der here!

3.  Hoog bo die onreg wat hier woel,
staan God se heil'ge regterstoel,
van waar Hy in ontferming
die weduwees hul reg verskaf,
die wees se onderdrukkers straf
en waak tot hul beskerming.
Wie eensaam is, hom stel Hy in
die volheid van 'n huisgesin.
Hy breek die slawebande
van wie hier in gevang'nis smag;
Maar wie Hom hoon in sy gesag,
dié woon in dorre lande.

4.  O God, toe U uit slawerny
u volk na Kana'n heen wou lei,
om voor u oog te huppel,
het onweer hul vooruitgestreef,
die aarde het gesidderbeef,
die hemel het gedruppel.
Selfs Sinaï se ruwe top
skrik uit sy vaste eeuslaap op,
voor Isr'els God aan bewe.
En toe u erfdeel mat was, HEER,
stuur U die reëndruppels neer
wat dit weer laat herlewe.

5.  U kudde, HEER, het daar gewoon;
U was die land, so vrugbaar-skoon,
'n vriend'like Beskermer;
U het ellendiges die land
laat erwe deur u goeie hand,
o Israels Ontfermer!
Ja, daar was ryke juigenstof,
om God se wonders en sy lof
met jubelsang te melde.
Die lofsang van 'n vrouekoor
klink al die stryders in die oor
en ruis oor berg en velde.

6.  Die koninge, hoeseer gedug,
het voor die onweer weggevlug
wat U teen hul verwek het.
Die manne kom terug met buit;
die vrouens deel die roofskat uit
asof hul meegetrek het.
Maar straal daar vrede op Isr'el neer,
dan skitter hy in luister weer,
tot nuwe skoon herbore -
net soos die duif met silwerwit,
en goud wat op sy vere sit
by helder sonneglore.

7.  Laat Basans hemelhoë rots
hom ophef in sy yd'le trots
met al sy bulte en berge;
wat spring jul, berge, rug aan rug,
geweldig in die hoë lug
om Sions kruin te terge?
God self het hierdie berg begeer,
om daar in lig, in glans en eer,
volmaakter, skoner, witter
as sonneglans en sonneskoon
vir ewig by sy volk te woon
en voor hul oog te skitter.

8.  Gods eng'lemagte bo die swerk
het, tien en tien maal duisend sterk,
slagvaardig uitgeswewe;
by hulle is sy majesteit
'n Sinaï in heiligheid,
deur bliksemlig omgewe.
U het omhoog gevaar vol eer;
die kerker was u buit, o HEER,
en gawes u beloning
wat neerdaal op die mensekind;
selfs wie opstandig is, dié vind
by U, o HEER, 'n woning.

9.  Geloofd sy God met diep ontsag,
want Hy oorlaai ons dag aan dag
met ryke seëninge.
Wie sou Hom dan nie dank bewys,
die God van saligheid nie prys,
met al die hemelinge?
Dié God van volle saligheid
versterk ons in die dag van stryd
en dra ons deur die lewe.
Hy kan en wil en sal in nood,
selfs as ons sidder vir die dood,
volkome uitkoms gewe.

10.  Gewis, hoe hoog die nood mag gaan,
God sal die vyandskop verslaan,
die skedel so doemskuldig
wat God se heiligheid wou tart,
en daar hy in die kwaad volhard,
sy skuld vermenigvuldig.
Die HEER het self ons toegeseg:
"Ek sal deur mag en wyse oorleg
uit Basan jul vergader;
wanneer jul deur die diepte tree,
dan sal geen golfslag van die see
jul veil'ge voetstap nader.

11.  "Dan sal jul uit die ballingskap
weer bly oor jul verdrukkers stap
op die bebloede velde;
jul honde sal die bloedplas lek
wanneer God weer sy ywer wek
om onreg te vergelde."
O grote God, gedugte HEER,
U gange is vol roem en eer
in Isr'els heiligdomme.
Die sangers gaan die spelers voor,
en rondom juig 'n blye koor:
die maagde met die tromme.

12.  Loof God in sy gemeente alom,
o volk, uit Jakob voortgekom,
die eerste stammevader.
Hoe vrolik gaan na Sions top
die stamme uit hul wonings op
om voor Gods troon te nader!
Die kleinste, Benjamin, is daar,
'n vors weleer; en Juda's skaar
met al die leeuestryders;
ook Sébulon en Naftali
wat vir geen vyand sidder nie -
van ouds die volksbevryders.

13.  Ons prys U, HEER, in sang en lied.
U het u sterkte ons gebied
toe 't nag was, lank gelede;
U het gehoor na ons gebed,
U het ons roemryk uitgered -
o hoor nou weer ons bede!
Dan pas die vorste tot u eer
en om u huis ontwil, o HEER,
eerbiedig op u wenke.
Hul sal U dan van alle kant,
selfs uit die allerverste land,
vereer met hul geskenke.

14.  Omgord U, HERE. tot die kryg
teen hom wat soos 'n ondier dreig
met al die oorlogsbendes -
die volk wat stukke silwer bring
net soos 'n onderworpeling,
maar loer op ons ellendes.
Gewis, ons sien hul al verstrooi
wat hunker na die oorlogsprooi.
Maar uit die pragpaleise
van Nylgebied en Moreland
kom manne wat tot God die hand
sal strek met eerbewyse.

15.  O Koninkryke, sing Gods lof!
Laat psalme oprys uit die stof -
dis God wat uitgetrek het!
Hy ry, bekleed met eer en mag,
hoog deur die hemel van sy krag
wat Hy met storms bedek het.
Die donderstemme, swaargedug,
verkondig in die hoë lug
sy mag voor al die volke.
Gee sterkte aan God - sy hoogheid is
oor Israel, sy erfenis;
sy mag is in die wolke.

16.  Hoe vreeslik is U, HEER, alom
uit u verhewe heiligdom,
omring deur sterkte en ere!
Dis Isr'els God wat wonders werk
en wat sy volk met krag versterk:
U loof ons, HEER der here!