Psalm 64

Psalm 64

1.  O God, verhoor nou my gebed
wanneer ek smeek en roep, en red
my van die mens wat my belaag
en met sy skrik my wil verjaag!

2.  Verberg my vir die sluwe raad
en wilde woeling vn wie kwaad
teen my versin. Hul tonge smee
hul spits soos swaarde, skerp van snee.

3.  Soos pyle lê hul woorde reg;
soos pyle vlieg hul skielik weg,
om heim'lik uit 'n skuilgewes
opregtes in die siel te kwes.

4.  'n Fyn beraamde plan is klaar;
gespan het hul èn strik èn snaar.
Die mens, in sondelus verward -
hoe diep, hoe grond'loos is sy hart!

5.  Maar God se pyl lê ook al klaar,
en - skielik is hul wonde daar.
Hul éie tong verklaag hul al;
geheime kragte bring hul val.

6.  Al wie dit aansien, skud die hoof;
hul vrees en moet Gods werke loof
as hul aanskou èn nou èn weer
hoe God dit àl tot glorie keer.

7.  Regverdiges sal bly van gees
en vrolik in die HERE wees;
hul sal, daar Hy die wag wil hou,
met roemtaal op die HEER vertrou.