Psalm 57

Psalm 57

1.  Wees my genadig, o my God! Ek soek
'n skuilplek in die dag van nood en stryd -
daar waar u vleu'ls hul oor my uitgestrek het,
diep in hul skadu, soek ek veiligheid,
totdat die onheil weer verbygetrek het.

2.  Ek roep tot God, die allerhoogste HEER,
wat tot die end getrou by my sal staan,
wat my sal help terwyl 'n ruwe bende
hul smaadgeroep nog oor my op laat gaan.
Hoe goed en trou is God in my ellende!

3.  Ek is hier by 'n volk van leeue-aard.
Hul tande staan soos spiese in hul mond;
hul tong is skerp soos skerpgeslypte swaarde.
verhef U, HEER, hoog bo die hemelrond,
en straal tog neer u glorieglans op aarde!

4.  Hul het 'n strik en kuil vir my berei,
my siel laat buig by so 'n bitter lot.
Maar in die vangkuil wat hul slim berei het,
is hul gevang! Nou rus my hart in God.
en 'k juig, omdat Hy my so wys gelei het.

5.  Waak op, my eer! Waak op, my harp en luit
Laat my die rooidag wek met sanggeluid!
U wil ek loof tot by die verste volke.
U guns en trou straal bo die hemel uit.
Verhef, o God, u eer bo lug en wolke!