Psalm 56

Psalm 56

1.  Genade, o God! Ek hoop op U alleen.
Die vyand staan met trots en haat my teen;
hy veg, verdruk, vertrap. Waar moet ek heen?...
Op U, my God, vertrou ek.
U gee u woord, dit sal my nooit begewe,
daar leef ek mee, dit dra my deur die lewe;
ek gee my hart, tot U omhooggehewe -
wat sou ek vlees dan vrees?

2.  My heil en vrede 't hulle my ontvoer.
My aan te val, my inwag, skelm beloer,
my kwaad doen - dis wat hul gedagtes roer.
Die toeleg is my lewe!
Hul ongeregtigheid, hoe menigvuldig!
Hul skuld, hoe groot! Bly hul dan nog onskuldig?
Hul trots, hoe hoog! Is U dan nog geduldig?...
Werp volke neer, o God!

3.  Hoe hulle my op elke vlugpad kwel,
U weet dit, HEER; my trane 't U getel,
dit in u Boek op eewge skrif gestel.
Só was U my gedagtig!
My vyand vlug, U, Redder van my lewe,
U is by my en sal my nooit begewe.
My hart is stil, tot U omhooggehewe.
Wat sou ek vlees dan vrees?

4.  Toe smart reeds bruisend oor my heen wou slaan,
het ek, o HEER, geloftes U gedaan.
En nou, nou dink ek dankbaar-bly daaraan
en bring my dankbetaling.
My siel 's gered: geen dood wat ek gewaar nie.
Niks wat my hinder om op U te staar nie,
o grote Lewenslig!