Psalm 55

Psalm 55

1.  Verhoor, o God, verhoor my klagte,
as ek, gekwel in my gedagte,
geen rus kan vind of plek van vrede.
Net onrus is daar in my hart:
ek dwaal, ek duisel, voel verward.
Verberg U nie, maar hoor my bede!

2.  Ek hoor die roep van goddeloosheid.
Hul wentel op my in my broosheid
hul onreg af. Verward van sinne,
sien ek hoe hul in vyandskap
my die verkrimpte hart vertrap;
'n doodskrik val op my van binne.

3.  Ag, was ek nou, deur angs omgewe,
maar soos 'n duif, omhoog gehewe -
ek sou met snelle vleuelslae
wegvlieg tot waar die wildernis
my skuiling bied, waar 't veilig is
teen alte felle onweersvlae.

4.  Verwar hul spraak! By dae en nagte
omsingel, HEER, ontroue wagte
die Sionsvesting op sy mure.
En in die stad - daarbinne is
geweld en onheil, moeite en twis.
O, wat deurleef ek donker ure!

5.  Dis nie 'n vyand wat my smaad nie,
of trotse haters wat my haat nie -
dán sou ek stil my leed gely het!
Maar dis my vriend wat my nou kwel,
met wie ek, as my metgesel,
my in Gods heiligdom verbly het.

6.  Kom, dood en doderyk, verdelg hul!
O aarde, ontsluit jou en verswelg hul
nog lewend, in jou diepste gronde,
in allerswartste duisternis,
waar daar geen end of weerkeer is,
tot straf van hul vermeetle sonde!

7.  Ek roep. Tot God klim nou my bede.
Hy sal verlos, Hy gee my vrede.
By aand en môre en middag hoor Hy;
Hy red my siel met sterke hand
wanneer die stryd teen my ontbrand -
met menigtes staan hul teenoor my.

8.  Hoog bo die mens, hier groot-vermetel,
staan ewig God se regtersetel.
Hy sal sy volk nooit laat verdruk nie.
waartoe hul straf lank opgeskort,
daar 't tog met hul nooit ander word
wat voor Gods hoogheid nie wil buk nie?...

9.  Hy wat sy hande uitgesteek het
teen my, ons vriendskapsbond verbreek het -
sy bottergladde tong bied vrede,
sy hart is stryd! Soos olie gly
sy woorde, maar hul steek en sny
soos swaarde, glimmend uit die skede!

10.  Wil met jou sorg jou nou begewe
tot God, beskermer van jou lewe.
Ek sal nie wankel. Maar dié manne
wat my bestry - vernietiging
sal God die HERE oor hul bring.
Die dood oorval hul met hul planne.