Psalm 44

Psalm 44

1.  O God, het ons nie met
ons oor nie
en van ons vaders dit gehoor nie -
het ons dit nie van hul verstaan,
die werk deur U van ouds gedaan?
Hoe U die nasies met u hand
verdryf het en hul uitgeroei het,
terwyl u volk, deur U geplant,
hier welig deur u seen gebloei het!

2.  Hul swaard het hul dit
nie laat erwe,
hul arm geen seëpraal verwerwe.
Dit was ú hand, ú arm, die lig
wat afglans van u aangesig,
wat hul met guns en seen bestraal.
Gebied dan uit u hoë woning
die swaard van Jakobs seëpraal -
U self, o God, U is my koning!

3.  Met horings stoot ons
in die lende,
met voete trap ons neer die bende
van dié wat teen ons op wou staan.
U self, u Naam, het dit gedaan;
want ek vertrou nie op my boog
of swaard waarmee ek my omgord het;
U red ons, sodat voor ons oog
ons haters kragteloos geword het.

4.  Dus vlei daar daagliks
dank en ere:
U Naam loof ons vir ewig, HERE!
En tog het U ons nou verstoot,
U maak ons skaam, ons skande groot.
Want U, ons altyd so naby,
trek ons met leërs nou nie meer nie; 
ons wyk al voor die teenparty;
hul plunder ons, en niemand keer nie.

5.  Soos slagvee word ons
oorgelewer,
verwilder deur die wederstrewer.
HEER, U verkoop u volk verniet:
dié spotprys kan geen wins U bied!
U maak ons tot 'n spot en smaak
in ballingskap se donker ure,
'n spreekwoord van dié wat ons haat
en 'n veragting by ons bure.

6.  My skande is gedurig
voor my,
en smaadbesef maar altyd oor my;
want daar's 'n mond wat laster braak,
'n blik wat listig loer op wraak!
Dit alles het oor ons gekom;
tog het ons nie ons afgewend nie
of met bedrog gehandel om
u heilsverbond met ons te skend nie.

7.  Geen afgod het ons
hart bekoor nie,
ons voet ook nie u pad verloor nie;
tog kwyn ons in 'n woeste plek
waar diepe donker ons oordek.
Het ons Gods Naam dan ooit vergeet?
Tot afgodsdiens ons ooit begewe?
Sou God, wat harte ken, nie weet
en speur wat binne-in ons lewe?

8.  Om U ontwil moet ons
nou swerwe,
gemarteld moet ons heeldag sterwe;
om U ontwil dryf hul ons aan
soos vee wat na die slagbank gaan.
Ontwaak tog, HEER, dit is nou tyd!
Waarin verstoot U ons vir ewig?
Waarom deur u afwesendheid
ons pyn en smart nog meer verhewig?

9.  Waar skuil die lig wat
eers gestraal het,
wat van u aanskyn neergedaal het?
Waarom vergeet U ons ellend,
ons onderdrukking sonder end?
Die moed is min, die gees is dof;
ons vlees kleef aan die aard onmagtig.
Staan op en hef ons uit die stof,
wees aan u goedheid weer gedagtig!