Psalm 40

Psalm 40

1.  Ek het die HEER lank in my druk verwag -
Hy het sy oor tot my geneig.
Toe ek bedruk was en bedreig,
Het Hy geluister na my jammerklag.
Hy wat aan my gedink het,
toe ek so diep gesink het
in modderige slyk,
Hy laat my rotsvas staan,
Hy laat my veilig gaan -
My voetstap sal nie wyk.

2.  'n Nuwe lied ruis oor my lippe nou,
'n Lofsang Gode toegesing.
'n Ganse skaar wat my omring,
sal 't sien en vrees en op die HEER vertrou.
O soete Godsbetroue!
Welsalig en behoue
wie wegvlug derwaarts heen,
op leuenaars nie ag,
van trotsaards niks verwag, 
maar steun op God alleen!

3.  Grootmagtig was u daad. Hoe meld my mond
u wonders so oneindig ryk?
Wie is op aarde aan U gelyk?
Wie kan, o HEER, u grootheid ooit deurgrond?
Geen gawe of offerande,
gebring deur mensehande,
was ooit u wil of eis.
U het my oor deurboor,
dat ek u woord kan hoor
as hoogste dankbewys.

4.  Net om u wil te doen soos in u Boek
die wonderskrif wat nooit vergaan -
dit klaar van my geteken staan,
dit wil ek, HEER, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande
in will'ge offerande -
al wat ek is en het;
diep in my ingewand
waar liefde-en ywer brand,
draag ek u heil'ge wet.

5.  Nou sal ek u geregtigheid laat hoor:
daarvan in groot vergadering
vryuit die blye boodskap bring,
uit dankbaarheid tot sanglus aangespoor.
U trou wat nooit beswyk het,
u heil wat ons geblyk het,
u guns oneindig groot -
sal ek my hulde bring
in groot vergadering
van vriend en gunsgenoot.

6.  Ek pleit, o HEER, op u barmhartigheid.
Bly met u liefde en trou om my,
want ramp en onheil is naby
en om my heen. En in my hart is stryd.
Die sonde uit ver verlede
oorval my matte skrede;
my oog het glans nòg gloed.
Hoe groot 's my sondes al!
hoe eind'loos in getal!
In my 's geen krag, geen moed.

7.  Mag dit, o HEER, mag dit U maar behaag
om my te red. Verhoor my gou!
Oorlaai met skaamt' my vyand nou
wat na my soek, my met sy strik belaag.
Wil hulle rugwaarts slinger -
my vyand en bedringer
wat op my lewe mik.
As onheil my bedreig
laat dan hul spotlag swyg,
oorweldig hul met skrik!

8.  Laat wie U soek, o God, my hulp in nood,
met almal wat u heil ervaar
in sielsangs en in doodsgevaar,
nou sing en sê: "Die HEER alleen is groot!"
Al is ek arm, ellendig,
Hy dink aan my bestendig.
Hy is die HEER by wie
daar redding is vir my.
U 's tot my hulp naby.
My God, vertoef tog nie!