Psalm 4

Psalm 4

1.  Verhoor my, HEER, in donker dae,
God van my reg, send troos vir my!
U wat my voer uit hinderlae,
hoor my uit vrye welbehae.
O manne wat my nou bestry,
hoe lank nog word in teënhede
my eer in skande omgekeer?
Hoe lank is jul met nietighede,
met ydelheid en wind tevrede?
Word leuentaal deur jul begeer?

2.  Weet dat die HEER vir Hom tevore
'n gunst'ling afgesonder het,
en dat hy, deur God self verkore,
nooit op sy swerftog is verlore,
maar dat die HEER hom hoor en red.
Beef dan, o dienaars van die sonde,
oortree nie teen sy heil'ge wil.
Deursoek jul hart in stille stonde,
as eensaamheid omsweef jul sponde,
verwag die HEER en wees net stil.

3.  Wil jul aan Hom 'n offer gewe?
Die offer wat die HEER aanskou,
is in opregtheid reg te lewe,
en Hom alleenlik aan te klewe,
op Hom alleen jul hoop te bou.
Hoe baie vra terneergeboë:
Waar vind ons ooit die ware goed?
Verhef oor ons u Vaderoë,
sien op ons neer in mededoë,
verlig ons hart en ons gemoed!

4.  U het my hart meer vreug gegewe
as ander smaak in volop-tyd,
as hul deur skyngeluk verhewe,
by mos en koring lustig lewe
en fees hou in kortstondigheid.
Ek sal gerus gaan slaap in vrede
en ongestoord lê ek my neer;
want U alleen verhoor my bede,
U waak oor my in teënhede,
dat ek kan veilig woon, o HEER!