Psalm 38

Psalm 38

1.  Straf tog nie in ongenade
my misdade,
HEER, verdra my met geduld.
Wil tog nie in toorn ontsteek nie
en U wreek nie
op my sonde en sondeskuld.

2.  In my dring u strafgerigte,
HEER, soos skigte
wat my hart deurboor soos staal.
Ja, die hand wat hul gedryf het
in my lyf, het
self ook op my neergedaal.

3.  Niks is aan my sonder wond nie,
niks gesond nie,
om u grimmigheid, o HEER!
Om my ongeregtighede
is geen vrede
in my beend're immermeer.

4.  Want my hoof is gans bedolwe 
in die golwe
wat my sonde oor my stort;
al die golwe en die bare
met hul sware
druk het my te swaar geword.

5.  Al my kwale en my plae
wek mishae
en 'n walging, my te sterk.
Ag, hoe lelik is die wonde
van die sonde
as mens op sy dwaasheid merk!

6.  Krom en gans'lik neergeboë
voor u oë
gaan ek heeldag in die rou.
In my lende is ontsteking
en verbreking -
niks is heel meer aan my nou.

7.  Uitgeteerd deur al my klagte
is my kragte
gans verbrysel en tot niet.
In my hart se afgrond ruis dit,
aaklig bruis dit -
daarom brul ek in verdriet.

8.  HEER, U weet hoe hart en sinne
staan daarbinne
as ek worstel in my leed.
Voor U is my sugte en sorge
nie verborge,
daar U alles sien en weet.

9.  Ag, hoe skud my hart en bewe;
uitgelewe
is my krag en opgeteer.
Oë, gans en al ontluister,
skemerduister,
sien geen daglig amper meer.

10.  Ver van my, uit diep mishae
vir my plae,
het my vriende weggegaan.
Selfs verwante wil nie bly nie
naby my nie,
maar hul staar van ver my aan.

11.  En my vyand lê sy lae;
in my plae
dreig hy met die laaste slag.
Same spreek hul, same veins hul,
en bepeins hul
my verderf die ganse dag.

12.  Maar daar is in my geen oor nie
wat wil hoor nie:
soos 'n dowe hou 'k my dom.
Hul kom my van kwaad beskuldig,
maar geduldig
hou ek mond en lippe stom.

13.  Want U, HEER, ontferm U oor my,
en verhoor my.
Op U bou 'k - wat my ook tref.
Laat my vyand nooit oor my nie
hom verbly nie -
om my wank'ling hom verhef.

14.  Want in al my teënhede
dreig my skrede
altyd weer om uit te gly.
HEER, ek kerm in onvermoë
voor u oë,
en my smart is steeds voor my.

15.  Ja, 'k bely voor U my sonde
onomwonde
en bekommerd oor my kwaad.
Maar my vyand lewe pragtig,
altyd magtig
en in hoog verhewe staat.

16.  Dié wat goed vergeld met boosheid
en godd'loosheid, 
hul word groot en sterk in mag;
hul omsluit alkant my weë,
staan my teë,
omdat ek u wet betrag.

17.  Wil my, HEER, in hierdie lewe
nie begewe;
wees nie ver van my gebed!
Hoor die roepstem van 'n lyder,
o Bevryder
wat my altyd uit wou red!