Psalm 34

Psalm 34

1.  In weelde en ongeluk,
altyd sal ek die HERE prys;
altyd vir Hom my lof laat rys,
in voorspoed en in druk.
Hom sal'k die ere skenk,
tot roemtaal kragtig aangespoor.
Sagmoediges, hul sal dit hoor
en aantree op my wenk.

2.  Kom, maak die HERE groot!
Laat ons sy Naam 'n lofsang wy,
aan Hom wat groot is en naby,
die helper in die nood.
Ek het in my gebed
Die HEER gesoek en Hy het my
in antwoord op my noodgeskrei,
uit al my vrees gered.

3.  Hul oog was op die HEER,
en - vreugde 't van hul uitgestraal;
nou wek by hul geen smaderstaal
'n blos van skaamte meer.
Ellendiges maak Hy
wanneer hul in verdrukking kerm,
en niemand hom oor hul ontferm -
uit hul benoudheid vry.

4.  Gods sterke Engel wil
'n laer van beskutting wees
óm almal wat die HERE vrees.
Hy maak hul onrus stil.
Ervaar dan en aanskou
hoe waaksaam God is en hoe goed.
Hoe salig is 't in my gemoed
as ek op Hom vertrou!

5.  O heil'ge volk van God,
geheilig om sy volk te wees,
jul hoef geen honger ooit te vrees,
God waak oor julle lot.
Die jong leeu, groot van moed,
ly honger op die skrale jag,
maar hulle wat die HEER verwag,
ontbreek dit aan geen goed.

6.  Kom kinders, hoor na my!
Die HEER se vrees wil ek jul leer. 
Wie is 't wat lewensduur begeer
en dae wat hom verbly?
Laat tong en lippe vra
na waarheid, en ontwyk die kwaad;
soek wat God wil: die regte daad,
en jaag die vrede na.

7.  God wend sy aangesig
teen hul wat sy bevel weerstaan,
Hy laat hul naam met hul vergaan
deur hoogste strafgerig;
maar Hy sien gunstig neer
op die regverdige geslag;
Hy neig sy ore tot hul klag
en red hul altyd weer.

8.  Die HEER's die hart naby
wat gans verbroke is en verskeur.
Die gees wat diep verslae treur,
verlos, bemoedig Hy.
Hoe kom hul altyd weer,
die teëspoede van wie hier
regverdig leef; maar Gods bestier
red hulle keer op keer.

9.  Sy beend're word bewaar:
God sorg dat daar geeneen van breek.
Maar wie hom haat - die onheil wreek
dit op die skuldenaar.
Die HEER sal hul bewaar,
sy volk wat op sy hulp vertrou.
Hy sal hul in sy guns aanskou
en skuldig nooit verklaar.