Psalm 32

Psalm 32

1.  Welsalig wie van skuld en straf onthewe,
die woord mag hoor: jou sondes is vergewe.
Want God wat groot is in barmhartigheid,
het hom vergewe en skeld die skuld hom kwyt.
Welsalig wie die HEER geen enkel stonde
toereken wil die boosheid van die sonde
en wie se gees, van alle valsheid vry,
voor God ootmoedig al die skuld bely.

2.  Toe ek voor U al worst'lende verstom het,
geen boetgebed my uit die hart gekom het,
het my gebeent', verskrik deur my geklag,
verswak en uitgeteer die ganse dag.
U hand het swaar gedruk op al my lede:
bedags geen rus, en snags geen stem van vrede;
my krag het weggedroog van uur tot uur
soos velde deur die somersonnevuur.

3.  Ek het bely, o HEER - in sielerou nie
my hart gegrendel of my mond weerhou nie.
Ek het bely wat my van U vervreem,
U het my skuld genadig weggeneem.
Dus kom Gods volk, dus kom al sy bemindes
om Hom te soek terwyl sy guns te vind is;
die lewensee mag met sy golwe slaan,
dit deer hul nie, dit raak hul selfs nie aan.

4.  U is dit, HEER, wat tot my hulp gereed is, 
'n skut en skerm in alle angs en leed is,
in nood my red, met jubels my omring,
en in my gees weer vreugde laat ontspring.
Maar nee, o God, u goedheid reik nog verder!
U sê: Ek wil jou oppas soos 'n herder,
en wil jou voet op veil'ge pad laat gaan,
waarop my oog jou altyd gadeslaan.

5.  Wil soos 'n perd nie wees wat opwaarts steier;
Of soos 'n muil wat ons sy dienswerk weier,
wat mensehand moet dwing met toom en tuig
tot hy sy krag in diensbetoon moet buig.
Die goddelose man het baie smarte;
maar wie op God vertrou van ganser harte,
hom sal gewis, ook onder kruis en druk,
die guns van God 'n krans vleg van geluk.

6.  Regverdiges, laat hoor die blye tyding!
Sing voor die HEER 'n lofsang van bevryding,
'n sang wat juig oor skuldvergiffenis.
Sing, wie opreg van hart en wandel is!