Psalm 20

Psalm 20

1.  O, mag die HERE u verhoor
in dag van nood en stryd!
En mag die Naam van Jakobs God
u dek in oorlogstyd!

2.  Mag Hy sy heil en bystand stuur
uit hoë heiligdom,
en u uit Sion ondersteun,
van waar u hulp sal kom.

3.  Mag Hy aan al u offers dink
van fynste spys, en nou
u offerbrand wat voor Hom geur,
met welgevalle-aanskou!

4.  Mag Hy, die ryke God, u gee
al wat u hart verlang!
Vervulling van wat u beraam -
mag u dié guns ontvang!

5.  Ons wil oor u oorwinning juig -
die vaandels jubel mee!
Ons loof die Naam van onse God.
Mag Hy u wens u gee!

6.  Nou weet ek dat die HERE sy
gesalfde sal verhoor;
uit heil'ge hemel antwoord Hy,
tot magsdaad aangespoor.

7.  Daar is wat op hul strydwaens roem,
op oorlogsperde trots;
maar ons sal ons beroem in God,
ons toeverlaat en rots.

8.  Hul almal 't inmekaargesak,
geval, voor ons geswig;
maar ons het kragvol opgestaan
en ons weer opgerig.

9.  Verlos die koning, troue HEER,
en sterk hom in die stryd!
Verhoor ons as ons tot U roep
in druk en oorlogstyd!