Psalm 15

Psalm 15

1.  Wie styg so hoog in heil en eer,
dat hy met U, die grote Koning,
met U, die allerhoogste HEER,
kan op u heil'ge berg verkeer
en intrek in u heil'ge woning?

2.  Dié wat, opreg in sy gemoed,
na Gods verhewe eis wil handel,
hom vir bedrog en leuen hoed;
en is dit voor- of teëspoed,
die waarheid spreek in hart en wandel.

3.  Dié wat nie steun op agterklap,
geen kwaad doen aan sy metgesel nie;
nie uit verborge vyandskap
met laster op die lippe stap,
en dit nie aanhoor of vertel nie.

4.  Dié wat hom van die manne keer
wat God en sy bevel nie vrees nie;
maar die godvrugtiges wil eer,
en in sy eed nie valslik sweer,
of aan sy woord ontrou wil wees nie.

5.  Dié wat geen hoop op roof wil stel
en woekerwinste nie begeer nie,
geen omkoopgeld hom af laat tel
om wie onskuldig is, te kwel -
hy sal nie wankel immermeer nie.