Psalm 148

Psalm 148

1.  Loof uit die heemle, loof die HEER!
Loof in die hoogtes, sing sy eer!
Loof, heil'ge eng'le, om sy troon,
die God wat in die hoogte woon!
Loof almal saam, o leërmagte,
wat Hom omring as troue wagte!
Loof, blink gesternte, maan en son:
Hy is van alle lig die bron.

2.  Loof, hemel van die heemle hoog,
en waters van die wolkeboog,
wat van die aarde 't opgevlug
tot in die boonste, ligte lug!
Want op sy woord is hul geworde;
Hy 't hul bevestig en 'n orde
vir ewig en altoos gegee -
geeneen van hul sal dit oortree.

3.  Loof van die aard; die HEER se Naam,
o walvis, met die dieptes saam!
Loof, sneeu en damp! Loof, vuur en hael
wat uit die onweershemel daal!
Loof, wind wat aanstorm oor die velde
en bruisend ons sy woord kom melde!
Loof, berg en bult, en boom en vrug,
en seders van die hoë lug!

4.  Loof, wilde diere en alle vee;
en al wat kruip, loof almal mee!
Loof, voëls in die vrye lug!
Loof, volke en konings hooggedug!
Loof, regters in jul regsgedinge;
die maagde met die jongelinge!
Sing, oud en jonk, verruk van vreug -
wees in die God van heil verheug!

5.  Laat almal saam die HERE prys:
sy Naam alleen het hoog gerys;
oor aarde en hemel, ver en wyd,
sien ons sy glans en majesteit.
Hy wou die horing vol vermoë,
die glorie van sy volk verhoë:
Sing dan, o volk, met hoog geskal
die lofsang van die groot heelal!