Psalm 145

Psalm 145

1.  U Naam, o HEER, so hoog in heerlikheid,
wil ek verhef vir ewig en altyd;
u Konings-eer wat alle krone oorstraal,
wil ek verhoog in onvermoeide taal.

2.  Die HEER is groot, daar is geen sanggeluid
wat ooit sy lof in volle waarde uit!
Dit is 'n see waar niemand in kan meet,
dit is 'n vloed waar ons geen grond van weet.

3.  Omdat, o God, in die geheimenis
vir ons vernuf geen grond of einde is,
daarom prys ons u werk, u daad van krag,
van kind tot kind, tot in die nageslag.

4.  Die skitterglans wat uit u majesteit
u wonderwerk bestraal met heerlikheid,
gedugte krag wat ons van angs laat vrees,
u grootheid, HEER - dit sal my lofsang wees.

5.  Hul sal, o HEER, u goedheid bly herdink
en vir u heil die jubels op laat klink:
genadig, goed, lankmoedig soos weleer,
barmhartig en 'n redder is die HEER.

6.  Al wat deur Hom die aansyn mag geniet,
is met 'n stroom van goedheid mild oorgiet.
Daarbuite juig, gehoor en ongehoor,
sy kreatuur - 'n ganse skeppingskoor!

7.  Maar bo hul uit weerklink 'n ander prys:
Gods gunsvolk sing sy roem op klaarder wys,
dat elke volk kan hoor die groot gerug
van heerskappy wat wegdreun deur die lug.

8.  U magdaad blink - 'n son aan die gewelf!
U koninkryk is ewig soos Uself.
Tog help U, HEER, wie hier voor onheil swig,
wie neerstort, word deur U weer opgerig.

9.  Daar 's oë wat in sterk verlange smag,
hul wag op U, ja, alle skeps'le wag:
U spysig hul, u wonderhand alleen
versadig hul en strooi 'n volle seen.

10.  Die Heer is reg in al sy weg en werk,
sy goedheid ken, die wêreld deur, geen perk.
Hy is naby die siel wat tot Hom sug,
Hy troos die hart wat skreiend tot Hom vlug.

11.  Hy gee die wens van almal wat Hom vrees;
op hul geroep wil Hy 'n redder wees.
Sy hand verdelg die goddelose, maar
die wat Hom liefhet, sal die HEER bewaar.

12.  Maar nou, my siel, waar eindig ooit Gods eer?...
Nog sal ek uitroep: Lof! Lof aan die HEER!
Laat alle vlees vir ewig en altyd
sy Naam verhef so hoog in heerlikheid!