Psalm 143

Psalm 143

1.  O HEER, ek roep, hoor my gebede.
Daar is in my geen stilte of vrede!
Ek smeek tot U, o hoor my nou!
Ek pleit op u geregtighede,
en ek verlaat my op u trou.

2.  Ag, reken met u kneg nie af nie,
en wil my na u wet nie straf nie;
want niemand wat voor U bestaan,
kan pleit-of regsgrond ooit verskaf nie,
dat hy u vonnis sou ontgaan.

3.  Die vyand volg my op my skrede,
hy trap my afgesloofe lede
en laat my woon in duisternis,
soos een wat dood is, lank gelede
uit die herinn'ring uitgewis.

4.  My gees versmag by so 'n benouing,
my hart verstyf by die aanskouing;
en ek herdenk die beter dag
van u genadige aanskouing
van redding deur u wondermag.

5.  Ek hef my hande na die hoë,
ek kwyn voor U in onvermoë
net soos 'n dorstige akkerland,
wat in die son lê uit te droë
en gloei in hitte en somerbrand.

6.  Verhoor my, HEER; wil nie meer wag nie;
en laat my gees tog nie versmag nie!
Verberg u aanskyn nie vir my,
dat ek soos die nie word geag nie
wat in die kuil het afgegly!

7.  Laat by die eerste môreglore
u goedheid fluister in my ore!
Op U vertrou ek, laat my tref
die veil'ge pad en regte spore,
daar ek my siel tot U verhef!

8.  Verlos my, HEER, van hinderlae;
en wil my leer u welbehae.
Ek skuil by U, vat U my hand,
en laat u Gees in al my dae
my voortlei in 'n veil'ge land.

9.  Laat hier u guns my nooit begewe;
skenk om U selfs wil my die lewe!
En laat my siel weer wees verblyd,
van sy benoudheid wees onthewe.
Ek pleit op u geregtigheid.

10.  Laat dit die vyand nooit geluk nie.
Vernietig hul, laat my nie buk nie;
bring almal om wat my beveg.
Laat hulle nie meer my verdruk nie,
want, HEER, ek is, ek is u kneg!