Psalm 14

Psalm 14

1.  Vermeetle dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy hart: "Daar is geen God."
Hul dade is afskuw'lik sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.

2.  God het die mens se werk betrag
uit hemelhoë-en helder dag,
of Hy ook by die mensekind
verstand mét ware Godsvrees vind.

3.  Maar almal het tot groter kwaad
in hul ontaarding God verlaat.
Van almal is hul dade sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.

4.  Is daar dan by die sondaarskind,
hul wat my volk soos brood verslind,
geen kennis van die waarheid meer,
dat hulle God nie soek en eer?

5.  Maar skielik het hul skrik gekom:
God slaan hul deur sy oordeel stom.
Maar oor sy volk, tot spot gemaak,
het Hy regverdig opgewaak!

6.  Hy is 'n rots om in te vlug
vir wie, ellendig, tot Hom sug.
Mag maar die bede nooit verstom:
"Laat Isr'els heil uit Sion kom!"

7.  As Isr'els God in hul ellend
sy volk se lotgeval wil wend,
sal Jakob jubel bly van gees,
en Israel sal vrolik wees.