Psalm 135

Psalm 135

1.  Prys die Naam van onse HEER!
Hef tesaam die lofsang aan!
Loof sy goedheid, gee Hom eer,
al wie in sy voorhof staan!
Loof Hom by die heugenis
van sy Naam wat lieflik is.

2.  Loof die HEER se goedheid luid,
al wie in sy voorhof kom!
Want Hy kies vir Jakob uit,
Is'rel tot sy eiendom.
Bo al wat die mens vereer - groot,
dit weet ek, is die HEER.

3.  In die hoogte sit die HEER;
daar doen Hy wat Hom behaag;
Hy stuur sy bevele neer,
en sy wil geskied omlaag.
See en aarde luister stil,
met die dieptes, na sy wil.

4.  Hy wat wolke en dampe stuur
van die aard' se verste end,
Hy's dit wat die bliksemvuur
in die onweerswolke wend.
Hy bring winde deur sy woord
uit sy skatgewelwe voort.

5.  Hy 't sy strafbevel gegee:
eersgeborenes verslaan,
van die mens af tot die vee.
Wonders het Hom voorgegaan -
tekens van sy strenge hand
in jou midde, Egipteland!

6.  God het Faro's mag weerstaan.
Volke en konings het beswyk.
Sihon het Hy neergeslaan
met die vors van Basans ryk.
Kana'ns ryke 't neergestort,
vir Gods volk 'n buit geword.

7.  Na die veertig jaar van swerf
het die HEER vir Israel,
vir sy volk die land laat erf
na sy vaste bondsbestel.
HEER, U Naam verduur die tyd:
dit bestaan in ewigheid!

8.  U Gedenknaam, HEER, sal leef
tot die verste nageslag.
U sal nooit u volk begeef,
maar U hou oor hul die wag.
En U knegte, skoon ontrou,
U sal hul in liefde aanskou.

9.  Gode van die heidendom,
goue of silwerbeeltenis,
waar die mens sy knie voor krom,
niks as eie maaksel is:
daar 's 'n mond, maar sonder taal;
daar 's 'n oog, maar sonder straal.

10.  Ore het hul, maar die 's doof
vir die klank van stem of taal;
ook 'n mond, maar afgodshoof
kan daarmee nie asemhaal.
Laat die wat hom dien en vrees,
soos die afgod, net so wees.

11.  Huis van Isr'el, loof die HEER!
Huis, van Aron, loof die HEER!
Huis van Levi, loof die HEER!
Almal wat Hom vrees en eer -
laat dit klink op hoogste toon:
"Loof God wat in Sion woon!"