Psalm 125

Psalm 125

1.  Die wat op God vertrou,
al kom die vyand aan,
is soos die Sionsberg
wat altyd vas bly staan.

2.  Die hoë berge is
net soos 'n vaste skans
rondom Jerusalem:
geen vyand het daar kans.

3.  So is die HEER rondom
sy volk in ewigheid -
'n berg wat vas bly staan
in dag van storm en stryd.

4.  Hy sal sy Sion wat
op sy verlossing wag,
nie ewiglik laat bly
in tirannieke mag;

5.  nie ewiglik laat bly
in so 'n droewe staat;
laat hul maar net die hand
nie uitstrek na die kwaad!

6.  o HEER, wat hul verdoen
wat afwyk van u baan,
doen goed aan wie opreg
die reguit weë gaan. 

7. Ek bid vir Israel.
Mag vrede-u volk oorsweef!
En mag u vrede bly
solank hul hier sal leef!