Psalm 1

Psalm 1

1.  Welsalig hy wat op die spoor nie gaan
waar sondaars lok; wat op hul pad nie staan,
of neersit waar die spotglans in die oog is,
waar spotters vrolik spot met al wat hoog is;
maar wat Gods wet in stille mymering,
by dag en nag, weer in gedagt'nis bring.

2.  Hy is 'n boom wat diep en vas geplant,
sy wortels uitsprei by die waterkant;
en mild versorg deur vrugb're lentelugte,
sy volle drag laat sien van somervrugte.
Geen onspoed wat hom in sy werk sal stuit:
wat hy begin, voer hy voorspoedig uit.

3.  So is die sondaar nie; sy aardse tyd
is wisselspel en onbestendigheid.
Hy's soos die kaf aan stormwind prysgegewe;
in nietigheid, so eindig hy sy lewe;
hy hou nie stand waar God se volk Hom eer,
of waar die straf tot weervergelding keer.

4.  God ken die pad waarop sy volk moet gaan;
sy oog is dit wat hulle gadeslaan
en met sy lig hul lewenspad bestraal het;
maar sondaarspad wat van Hom weggedaal het -
dit moet vergaan; onkeerbaar in hul spoed,
loop hul oplaas 'n afgrond tegemoet.