Die bede vir verandering op pad na God se koninkryk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-04-21
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 48
Preek Inhoud: 

“Laat u koninkryk kom …”

Met hierdie bede vra ons die hemelse Vader om dinge hier op aarde te verander, eerstens wat betref onsself, tweedens wat betref die kerk, en derdens wat betref die duiwel.

Maar voordat ons hierby stilstaan, laat ons eers die vraag vra:

Wat is God se koninkryk eintlik?

Aan die einde van Sondag 48 staan die woorde: “totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.”

Maar wat is God se ryk?

Dit is belangrik om hieroor duidelikheid te hê, voordat ons hierdie bede verder behandel.

God se koninkryk is naamlik nie net die kerk nie.

God se koninkryk omvat die hele wêreld.

Dit is wel ‘n feit, dat baie mense dit tans nie wil weet nie, in hulle opstand teen God.

Vanuit hierdie opstandige mensdom, te midde waarvan ons ons bevind, bid ons deur die Gees gedrewe:

O Vader in die hemel, laat u koninkryk kom!

En, soos ek genoem het, volgens die Kategismus bid ons hiermee vir verandering.

 

Tema: Die bede vir verandering op pad na God se koninkryk

1 Verandering wat betref onsself

2 Verandering wat betref die kerk

3 Verandering wat betref die duiwel

 

 

1 Verandering wat betref onsself

Sondag 48 begin by onsself.

As jy die wêreld wil verbeter, begin by jouself.

Dus bid ons met hierdie bede:

Regeer ons so deur u Woor en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.

Ons het vanaand ‘n gedeelte uit die Skrif gelees oor die volg van Jesus.

Oftewel: Dat ons ons hele lewe aan Hom onderwerp.

Jesus het vir iemand gesê: Volg My.

Maar die persoon het geantwoord:

Staan my toe om eers te gaan en my pa te begrawe.

Hy vra dus vir Jesus of hy ‘n rukkie kan wag om te begin met die volg van Jesus.

Hy het nog daarteen opgesien.

En as dit die geval is, vind mens gou verskonings.

Staan my toe om eers my pa te begrawe.

Jesus antwoord dan daarop:

Laat die dooies hulle dooies begrawe, maar gaan jy heen en verkondig die koninkryk van God.

Gemeente, hierdie oproep van Jesus om Hom te volg, moet ons nie verkeerd verstaan nie.

Daarmee bedoel Jesus nie dat hierdie man ook ‘n dissipel soos een van die twaalf moet word nie.

Maar wel, soos Hy oproep: Gaan jy heen en verkondig die koninkryk van God.

 

Uit dieselfde Skrifgedeelte het ons ook oor ‘n ander persoon gelees, wat Jesus nie letterlik soos die twaalf gevolg het nie, maar wat tog ‘n volgeling van Jesus was.

Wat selfs in sy Naam bose geeste uitgedryf het!

Jesus is dus nie onbarmhartig in die sin dat jy nie die begrafnis van jou ouers mag bywoon nie.

Maar Jesus kyk tot in die hart van ‘n mens.

En as jy nog nie gereed is om Jesus te volg nie, ja, dan sal jy maklik 101 verskonings kan uitdink.

En almal van hulle sal ook geloofwaardig klink!

Maar Jesus het daardie man dus deursien.

En op so ‘n onnosel verskoning, gee Jesus dan ook ‘n dom antwoord:

Laat die dooies hulle dooies begrawe.

Jy het ‘n pragtige verskoning, niemand kan van jou verskil nie, want wie op aarde sal jou verbied om jou pa te gaan begrawe?

Watter baas sal nie sy werknemer af gee vir die begrafnis van sy eie pa nie?

MAAR, sê Jesus, wat die hart aansien, wil jy My werklik volg?

Sien jy in My die Vors van die lewe, wat oppad is na Jerusalem om daar die ewige dood te oorwin?

Watter verskoning sal jy môre weer uitdink?

 

Ons vind in hierdie gedeelte nog ‘n ander verskoning.

Weer ‘n ander het gesê: Ek sal U volg, Here, maar laat my eers afskeid neem van my huisgenote.

Die oorspronklike Griekse woord kan mens nog breër vertaal:

Laat my tog afskeid neem van my huis.

Dit wil sê, my familie en my besittings.

Maar ook by hierdie man sien Jesus die hart aan.

Niemand, wat die hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

‘n Boer wat steeds agterom kyk as hy ploeg, trek krom vore, en maak van sy landery ‘n chaos.

 

As ons hierdie bede bid, moet die verandering dus by onsself begin.

Regeer ons so deur u Woord en Gees, dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp.

Volg My! sê Jesus.

Moenie steeds nuwe verskonings uitdink nie.

Ja, Here, ek sal U volg, met heel my lewe, met al my geld en besittings, maar laat my toe om eers nog te spaar vir ‘n nuwe motor.

Daarna sal ek U volg, met al my geld en goed.

Of: Ja, Here, ek sal U volg, maar ek wil ook nog lekker kuier met my familie wat nie by die kerk is nie en wêrelds lewe.

Nogmaals: Jesus sien wat in jou hart aangaan.

Hy is baie direk:

Laat die dooies hulle dooies begrawe!

Niemand wat die hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.

As ons die tweede bede bid, bid ons dus allereers vir verandering in onsself.

Dat ons eie lewe onder die heerskappy staan van sy Gees en Woord.

 

Is dit wat jou lewe, jou lewenskoers, bepaal?

Christus se Gees en Woord?

Daardeur word jy bekwaam gemaak om ‘n burger van hierdie koninkryk te wees.

Christus het opgestaan, dit herdenk ons vandag op Paasfees.

Die mees noodsaaklike, die mees wesenlike verandering, het op daardie Paassondag plaasgevind, die Christus die dood oorwin het.

En omdat dit waar is, roep die Skrif ons op: “Daarom my geliefde broeders, wees standvastig, onbeweeglik, altyd ooorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” (1 Kor 15:58)

 

Die bede vir verandering op pad na God se koninkryk is nie net ‘n bede vir verandering wat betref onsself nie, maar ook wat betref die kerk.

Daarna gaan ons nou in die tweede plek kyk.

 

2 Verandering wat betref die kerk

In die tweede plek het hierdie bede te make met die rol en posisie van die kerk in die wêreld.

Bewaar en vermeerder u kerk.

Laat dit vooraf net duidelik wees: Die kerk is nie die koninkryk nie.

Dit sou ‘n versmalling van God se koninkryk beteken.

Die kerk is wel die begin van God se koninkryk op aarde.

In die kerk geld al die omgangsvorme, die reëls en die voorregte van die koninkryk.

In die kerk word daar geluister na die Koning.

Vanuit die kerk is die Koning besig om die omliggende gebied te wen vir sy koninkryk.

 

Met die tweede bede bid die kerk:

Here, Aanvoerder in die stryd, bewaar tog u kerk!

Wil U sorg dat u kerk nie die onderspit delf nie, maar vermeerder in die vyandelike gebied.

Soms voel die kerk eensaam en geïsoleer.

Met die tweede bede bid ons dat die Aanvoerder ons weer perspektief gee op die hele stryd.

Soms sien ons, hier waar ons veg, net vyande om ons heen.

Dit kan ons moedeloos maak.

Maar ons kan opgelug asemhaal, as daar kontak is met ons Aanvoerder deur die gebed.

Ons kan opgelug asemhaal as ons hoor dat sy kerk steeds groei, selfs in lande waar Christene vervolg word.

In ‘n land soos China word die een na die ander kerk gestig.

Ook hier in Afrika.

Dit gee ons moed as ons fokus op die katolisiteit van Christus se kerk.

Dit beteken dat sy kerk wêreldwyd is.

Dit gee ons moed om hier waar ons geplaas is, die goeie stryd te bly stry.

Ons besef dan opnuut weer:

God verhoor wel ons gebede.

Hy is besig om sy kerk te bewaar en selfs te vermeerder.

 

En as ons dit bid, verwag ons wel genoeg van sy almag?

Hierdie bede is ‘n bede vir verandering.

Betreffende jouself, ook betreffende die kerk.

Verwag jy dat God in staat is om ook jou te verander?

En ook jou bure, en die mense in ons area?

 

Ons het ‘n gedeelte uit die Skrif gelees waaruit duidelik word dat Jesus se dissipels die koninkryk eintlik geblokkeer het.

Hulle het onderling geredekawel oor wie die belangrikste was.

As mens dit doen, fokus jy nie op wat om jou heen aangaan nie.

Jesus het toe doelbewus ‘n kind nadergetrek en by Hom laat staan, en gesê:

Wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees.

Vervolgens blyk egter dat Johannes dit nog steeds nie verstaan het nie.

“Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf; en ons het hom belet, omdat hy U nie saam met ons volg nie.” (vers 49)

Hierdie laaste opmerking van Johannes is opvallend: met ons.

Blykbaar volg hierdie persoon wel vir Jesus, hy dryf selfs bose geeste in sy Naam uit.

Maar hy loop nie saam met ons nie.

Laat ons as kerk onsself ondersoek, of hierdie houding nie in ons hart ook leef nie.

As jy ware kerk van Christus wil wees, laat dit uit jou diensbare houding blyk, laat ander dit van jou sê, moenie dit self uitbasuin nie.

Laat ons die doel voor oë hou.

Christus se doel.

Sy doel is nie die voortbestaan van ‘n denominasie nie.

Sy doel is die vestiging van sy koninkryk.

Heel die aarde moet vir Hom gewen word.

As dit goed is, het ‘n kerk vensters en deure wat oop staan na die samelewing.

Dit is hoekom ons bid: bewaar en vermeerder u kerk.

Verander u kerk.

Gee u kerk die regte ingesteldheid.

Jesus se opmerking aan sy dissipels is veelseggend:

“wie nie teen ons is nie, is vir ons” (vers 50).

Die dissipels het vinnig met hulle oordeel klaargestaan.

Dink aan wat ons gelees het ten aansien van die Samaritaanse dorp.

Die mense van daardie dorp het nie vir Jesus ontvang nie.

Die rede was omdat Hy op pad was na Jerusalem.

Dit was nogal onverdraagsaam.

 

Ons sou vandag sê: broeder x wil nie vir broeder y op Sondag groet nie, omdat hy nie kerk toe gaan nie, of dalk: omdat hy op pad is na die verkeerde kerk.

Dieselfde houding het die Samaritane dus gehad.

Hulle was anti Jerusalem.

Maar dieselfde houding sien ons ook by die dissipels.

Wel, as hulle ons nie wil groet nie, as hulle ons nie wil ontvang nie, nou goed dan: dan mag wat ons betref vuur uit die hemel neerdaal op hulle.

Maar dan sien ons weer dieselfde reaksie by Christus.

Hy het omgedraai en sy dissipels bestraf.

Die oordeel lê in God se hand, nie in ons s’n nie.

Die dissipels moes hulle houding verander.

Hoe sou hulle anders uitgestuur kon word om sy apostels te word, en die Evangelie te bring aan die wat nou nog vyandig was?

 

Ja gemeente, die tweede bede is ‘n bede vir verandering, ook wat betref die kerk.

Bewaar en vermeerder u kerk.

Dit kan gebeur as die kerk die regte ingesteldheid het.

As die kerk geregeer word deur die opgestane Christus se Gees en Woord.

Dan sal sy ‘n lig op ‘n berg wees.

Dan sal sy die volmaakte lewe in die koninkryk reeds in die hede begin in praktyk bring.

En dit sal aantrekkingskrag hê, hoe dan ook.

 

(Die bede vir verandering op pad na God se koninkryk

1 Verandering wat betref onsself

2 Verandering wat betref die kerk)

 

3 Verandering wat betref die duiwel

Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan.

Fnuik alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word.

Hier kry ons dus sig op die eintlike vyand.

Ons is soms geneig om mense tot ons vyand te maak wat glad nie ons vyand is nie.

En in daardie proses verloor ons die eintlike vyand uit die oog.

Terwyl ons stry teen hulle wat ons nie kan uitstaan nie, sluip die duiwel by die agterdeur binne.

Dit is ‘n effektiewe strategie van die vyand.

So lei hy sy teëstander af.

Hy laat ons dink dat die eintlike front van die stryd elders is, hy verlei ons om agteraf skermutselinge te voer teen hulle wat eintlik ons bondgenote is.

Daardeur verwaarloos ons die eintlike front waar die stryd wel gevoer moet word.

Terwyl ons stry teen hulle wat ons irriteer, roof die satan ondertussen ons eie seuns en dogters, broers en susters weg.

En dit omdat ons blind is vir die satan se destruktiewe werk in ons eie lewens.

 

Dit bring ons terug by die eerste punt:

Dat ons begin deur onsself steeds meer aan Christus te onderwerp.

Die persoonlike bekering, die daaglikse verootmoediging voor God en ons naaste, laat ons dit nie afskeep nie.

Gemeente, laat ons die duiwel nie onderskat nie.

Hy is dikwels slimmer as mens dink.

Jy kan nie alleen teen hom standhou nie.

Dit is so belangrik dat jy elke dag weer terugval op Jesus Christus.

Dat jy elke dag vir Hom bid: Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan.

Fnuik die kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word.

By hierdie sin dink ons weer terug aan die tweede punt, die bede vir verandering van die kerk.

Want in die kerk klink die Woord.

Ons bid met hierdie bede:

Gee tog dat die Evangelie ook in die toekoms suiwer en kragtig verkondig mag word.

Niks meer en niks minder.

Die pragtige maar ook so konfronterende Evangelie!

Sodat ons en ons kinders ook in die toekoms in staat sal wees om die eintlike vyand raak te sien.

 

Ek vat saam, gemeente:

Die tweede bede is ‘n bede vir verandering in die hede, op pad na God se koninkryk.

Laat U koninkryk kom, dit vereis verandering by onsself.

Laat U koninkryk kom, dit vereis verandering in die kerk.

Laat U koninkryk kom, dit is ook ‘n bede dat Christus vir eens en vir altyd die satan onder sy voete sal vertrap.

Op hierdie Paasdag, waarop ons Christus se opstanding uit die dood herdenk, weet ons dat dit eendag sal gebeur.

As Hy die dood kon oorwin, dan sal Hy die werke van die duiwel ook kan vernietig.

Daarom sien ons met verlange uit na sy toekomstige dag, as Hy terugkom en sy volmaakte ryk eens en vir altyd op aarde sal vestig.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 46:1,2

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed (afgesluit met sing van Onse Vader)

Ps 46:3

1e Tafel: Skriflesing: Lukas 9:46-62, Ps 46:4

Lofverheffing & Gebed

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 48

Preek

Ps 46:5,6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 118:3,7

Kollekte

Ps 99:1,4,5

Seën