‘n Gebed dat die HERE die eerbied vir sy Naam sal herstel

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2019-01-27
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 36-37
Preek Inhoud: 

As dit vandag oor die derde gebod handel, handel dit nie net oor ‘n woord nie.

Dit gaan nie net oor die woord wat die Naam van die HERE is nie.

Maar dit gaan oor die HERE self.  Iemand wat vloek, of laster, of onnodig sweer, gebruik nie net ‘n woord nie.  Maar hulle tas die HERE self aan.

Dit gaan oor die HERE self.  En vandaar dat die Kategismus so beklemtoon dat ons, elke keer as ons sy Naam gebruik, dit met vrees en eerbied moet doen.

Dit blyk ook uit die straf wat die HERE self aan die oortreding van die derde gebod gekoppel het, naamlik die doodstraf.  Dit is iets wat in ons tyd, in ons samelewing, amper surrealisties klink.  Hoe dikwels hoor ons nie daagliks dat die HERE se Naam ydellik gebruik word nie.  Op jou werk, in die winkel, op televisie, internet.  As die doodstraf hiervoor weer in werking gestel so word, hoeveel mense sou nie hang nie?  In sekere opsig staan die derde gebod en die nalewing daarvan myle vêr van die samelewing af, waarin ons tans funksioneer.  Hoe moet ons funksioneer, in ‘n maatskappy wat vir God en sy gebod nie die minste respek het nie?

Geliefde gemeente, kom ons kyk na ‘n soortgelyke situasie, lank gelede, soos die digter van Psalm 102 dit beskryf het.  Want inderdaad, ook in sy tyd moes hy in soortgelyke omstandighede leef.  Kom ons leer uit wat die Heilige Gees ons in hierdie psalm openbaar, hoe om te leef in ‘n wêreld wat hom nie aan God of gebod steur nie.

Tema: ‘n Gebed dat die HERE die eerbied vir sy Naam sal herstel

  • Pyn en magteloosheid in die hede
  • Hoop en vertroue op die toekoms
  • Pyn en magteloosheid in die hede

Die digter stel homself voor as ‘n ellendige.  Hierdie psalm is ‘n gebed van ‘n ellendige.  Die bidder beskryf sy toestand.  Hy gebruik daarvoor pragtige digterlike taal.  Beelde uit die skepping:  ‘n Pelikaan van die woestyn, wat vergeefs wag vir water.  ‘n Uil op die puinhope, verlate heeltemal alleen.

So ook ‘n eensame voël op die dak.  So het die digter ook gevoel.  Ver weg van die tempel, in ‘n plek waar die HERE se Naam onbekend is, of hoogstens gesmaad word, daar voel dit vir hom soos ‘n woestyn.  Weg van die HERE se lieflike Naam, wat soos koel water is, verdor sy lewe.  U knegte het sy klippe lief.

Klippe, dit verwys hier na die puinhope van Jerusalem.

‘n Gelowige se swaarkry is onlosmaaklik verbonde aan die swaarkry van God se volk.  Hierdie psalm het sy ontstaan in die tyd van die Babiloniese ballingskap.  Die digter het gesien hoe Sion in puin lê.  Die smaad en hoongelag van die vyand klink hom in die ore.

In die tweede deel van die psalm beskryf die digter die optrede van die vyand.  Hulle smaad hom.  Hulle gebruik sy naam as ‘n vloek.

Maar dan rig die digter hom op die HERE, dit gee hom nuwe moed.  U bly tot in ewigheid.  U gedenknaam is van geslag tot geslag.  Gedenknaam is ‘n pragtige uitdrukking.  Dit is tyd om genadig te wees.  Die HERE sal opstaan en Hom oor Sion ontferm.  Dan – as die HERE se tyd van ontferming aangebreek het, dan, sê die digter,  omdat die HERE Sion opgebou het. sal die digter en sy metgeselle, wat tans – so beskryf hy – kinders van die dood is – sal dan weer die Naam van die HERE loof in Sion.  Dan sal die heidene die Naam van die HERE vrees.  Ja ook toekomende geslagte sal die HERE loof.  Selfs koninkryke, volke sal almal saam vergader, om die HERE te dien.

Die psalm sluit af met die innige versoek of die HERE dit tog in sy tyd sal doen.  Hy bid: neem my nie weg in die helfte van my dae nie.  En dan, tot slot, kyk die digter weer op in die oneindige blou van God se ewigheid.  Ook as dit nie al in sy tyd gebeur nie, besef hy:  Hulle – die vyande – sal vergaan, maar U sal bly.  Alle mense verslyt soos ‘n kleed.  Maar U bly dieselfde, u jare het geen einde nie.  En die HERE sal ook sorg dat sy kinders se nageslag voor Hom sal bly bestaan.

Gemeente, in hierdie psalm leer ons onder andere drie dinge.  Hoe die HERE eis dat sy Naam oor die hele aarde deur almal eerbiedig moet word.  Tweedens, hoe elke gelowige se naam direk aan die Naam van die HERE verbonde is.  En derdens, hoe Sion se naam ook direk aan die HERE se Naam verbonde is.

God se Naam en die van sy kerk onafskeidelik verbonde.  Lê die kerk in puin, dan sal sy Naam ook gelaster word.  Bid jy, soos die digter, ook vir die goeie naam van sy kerk?  Hoe diep pynlik moet die situasie van Christus se kerk ons ter harte gaan.

So ook die HERE se Naam en die van ons, sy kinders.  Bid jy, God se kind, net soos die digter van Psalm 102, vir die gedenknaam van die HERE?  Dat sy naam op aarde gerespekteer word?

Wat daar in vers 9 staan, is vandag herkenbaar.  Die digter sê dat die vyand sy naam as ‘n vloek gebruik.  Waar die HERE se Naam gelaster word, word die Naam van sy kerk, en van sy kinders, ook gelaster.  Is dit nie baie waar vir die situasie in met name die Westerse wêreld, wat al hoe verder van die HERE sy Woord afdwaal nie?  Kerkmense voel half skaam om daarvoor uit te kom dat hulle aan die kerk behoort.  Hulle voel skaam om die naam van hulle kerk te noem.  Hulle verswyg op hulle werk hulle kerklidmaatskap.  As iemand in hulle omgewing die HERE se Naam laster, voel hulle half skaam om iets daarvan te sê.  Hoekom skaam?  Is hulle skaam omdat, wanneer hulle die misbruik sou aanspreek, die laster ook teen hulle sou keer?  Wel, dit is presies wat die digter van Psalm 102 meegemaak het.  Dit was vir hom diep pynlik.  Want hy het wel die klippe van Jerusalem liefgehad.  Al was Jerusalem net ‘n hoop klippe, ‘n puinhoop, nog steeds het die digter daardie plek so liefgehad.  Geld dit ook vir u?  Hoeseer Christus en sy kerk in ons tyd gespot word, belaglik gemaak word, as ouderwets afgemaak word, doen dit u pyn?

Die digter, in ballingskap, het die heeltyd die gespot om hom heen gehoor.  Die laster van die HERE se naam.  Die spot met die HERE se volk.  Hy kon op daardie stadium niks daaraan doen nie.  Hy het magteloos gevoel, dit het hom diep gekrenk.

Is dit ook soos u voel, as u dikwels magteloos staan teenoor mense wat God se Naam ondeurdag en lasterlik gebruik?  As ‘n buurman, of ‘n kollega, of dalk selfs ‘n familielid, die HERE se Naam vloek, of neerhalende dinge sê oor Christus se kerk, of oor gelowige mense.  Maak dit u seer?  Konfronteer u sulke mense met die waarheid, soos dit in die derde gebod staan, naamlik dat wie die HERE se Naam ydellik gebruik, nie ongestraf sal bly nie?

Soms voel dit vir ons, dat al sê ons wat, en al waarsku ons wat, mense gewoon nie omgee nie.  Hulle gaan gewoon aan.  Sommiges sal om jou te treiter dit nog harder en nog meer doen.  Ander mense is dalk meer beleefd, en sal voortaan nie meer in jou nabyheid vloek nie.  Maar wat help dit, solank hulle nie oortuig is dat daardie gewoonte werklik sondig is?  En dat God hulle daarvoor sal straf?  So dikwels maak ons mee dat mense net hulle skouers optrek.  Dit wat God in sy wet sê, traak hulle nie.  

In hierdie opsig, gemeente, kan ons iets leer uit Psalm 102.  Want daar was die digter ook in sulke omstandighede.  Dis nie dat die digter stilgebly het nie.  Ons kan aanneem dat hy vir sy God en die heiligheid van sy Naam opgekom het.  Ons kan aanneem dat hy homsef nie medeskuldig gemaak het, soos die Kategismus dit stel, deur stil te bly of deur dit toe te laat nie.  Maar ten spyte daarvan, die vyand het hulle net nie daaraan gesteur nie.  Die vyand het niks gedink van God se Naam nie.  Die vyand het God se volk selfs gespot.  Hulle het gedink hulle het hierdie volk asook hierdie volk se God in hulle mag!  Ja die vyand het sy naam as ‘n vloekwoord begin gebruik.  Heeltemal magteloos, dis soos die digter die situasie ervaar het.  Vandaar dat hy so intens bid, sy klagte uitstort voor die aangesig van die HERE.  Dis net nog die HERE self wat iets hieraan sal kan doen.

In vergelykbare omstandighede is ons as gelowiges vandag dikwels ook.  Maak nie saak wat ons sê en doen, hoe ons ook al waarsku, mense verander nie.  Mense sal uit reaksie selfs nog meer laster.

Wat in hierdie omstandighede belangrik is, gemeente, is dat ons die situasie ook beleef soos die digter dit beleef het.  Dit het by hom immense pyn en verdriet veroorsaak, oor hoe die HERE se Naam gelaster word, en in die verlengde daarvan, die naam van sy volk.  ‘n Plek waar daar deesdae geweldig veel gevloek word, is op televisie, in films.  Is dit iets wat by jou pyn en verdriet veroorsaak?  Of is jy al so gewoond daaraan, dat jy dit amper nie meer hoor nie?  Dit sou nie ‘n goeie teken wees nie.  ‘n Film waar God se naam aanhoudend gevloek word, watter gelowige kan met genot na so ‘n film kyk?  Dit moet iets wees wat, net soos by die digter van Psalm 102, baie pyn veroorsaak.  Mens kan nie veel daaraan verander nie.  Ook die buurman of kollega wat vloek, die persoon in die winkel of waar ook al, dit help nie altyd om mense daarop aan te spreek nie, soms veroorsaak dit net die omgekeerde.  Maar wat in alle gevalle wel by jou moet gebeur, is dat dit jou pyn moet doen.  Dat dit jou moet laat opkyk tot God, in afhanklikheid, pleitende dat Hy iets daaraan wil doen.

Soos dit in die verlede was, so is dit ook vandag.  Dit is wat hierdie psalm aan ons openbaar.  Daar is ‘n korrelasie tussen die toestand van God se kinders, en die eerbied vir sy Naam.  Ons sien om ons heen, hier en in baie voormalig Christelike lande, hoe die kerk agteruitboer.  Dikwels het die kerk self afvallig geword.  Dikwels het die kerk self nie meer eerbied vir God se Naam en God se Woord nie.

Die kerk self leef nie meer heilig, d.w.s. volledig toegewyd aan God se Naam nie.  En as dit gebeur, dan verdwyn uit die res van die samelewing ook al hoe meer die eerbied vir God se Naam.  Waar in die verlede daar streng strawwe gestaan het op die publieke lastering van God se Naam, kyk net hoe die situasie in ons tyd is.  Wie Jesus Christus, wie God almagtig bespot, hoef niks te vrees nie.  God word gestroop van al sy eerbied.  Hy wat die aarde gegrondves het, wie se hande die hemele geformeer het, selfs dit mag nie meer van Hom gesê word nie, in elk geval nie op skole en universiteite nie.  Hoe lank nog, HERE, sal u die skending van u heilige Gedenknaam toelaat?

(Tema: ‘n Gebed dat die HERE die eerbied vir sy Naam sal herstel

  • Pyn en magteloosheid in die hede)
  • Hoop en vertroue op die toekoms

Geliefdes, hoewel mens hierdie selfde terneergedrukte stemming in Psalm 102 vind, eindig dit nie daarmee nie.  Want wat ons ook uit hierdie psalm leer, en dit is baie hoopgewend, is dat God self die eerbied vir sy Naam sal herstel.  Nou is Israel nog kaal en uitgeskud deur die vyand.  Van stad en tempel beroof.  Sonder enige reg en geregtigheid.  Maar die dag sal kom dat die HERE die hulpgeroep van sy volk sal beantwoord.  Die dag sal kom dat hulle gebed verhoor word.  Wie nou lewe sal dit miskien nie meer sien nie.  Self, vrees die digter, sal hy hierdie ryke toekoms moontlik nie meer aanskou nie.  Die 70 jaar ballingskap was lank, dit het gevoel soos oneindig vir elkeen wat aan die HERE se Naam en die HERE se tempel verknog was.

Maar laat dan ten minste sy en sy tydgenote se gelowige verlange opgeskryf word.  Hulle blywende vertroue te boek gestel word.  Hulle pleidooi vir die heiligheid en reputasie van God se Naam, en die reputasie van sy volk, onafskeidelik daarmee verbonde.  Sodat wanneer uiteindelik Israel se verlossing gekom het, die geslag wat dan leef daarvan kennis kan neem. En die HERE dubbel kan dank en des te meer loof.

Wel, hierdie psalm is opgeskryf.  En die komende geslagte, tot op vandag, vind inderdaad in die woorde van die digter ekstra rede om die HERE te loof.  Ekstra rede om op Hom te vertrou, dat Hy sy eie Naam en die van sy kinders sal herstel.  Ons kan beaam, dat die HERE, ter wille van sy Naam, die digter se wense, ja sy grootste drome selfs, in vervulling laat gaan het.  Ja daar was gebedsverhoring!

Want lank nadat die digter oorlede is, na die ballingskap, het God steeds voortgegaan om sy Naam op aarde te heilig.  Dit waarna die digter verlang het om te sien, daarvan kan ons getuig, as ons terugkyk.  Daar het naamlik ‘n terugkeer uit die ballingskap gekom.  Die dag het aangebreek dat daar weer ‘n begin gemaak is met die herbou van die tempel.  Die dag het aangebreek dat die herboude tempel weer ingewy is, en dat die HERE met sy heerlikheid weer daar sy intrek geneem het.  En daarna, eeue later, het ‘n nog veel groter ding gebeur!  Die HERE God het self na sy tempel gekom.  En sedertdien was die tempelgebou nie meer nodig nie.  God se eie Seun het dit aangekondig:  “Daar kom ‘n uur wanneer julle nie ... in Jerusalem die Vader sal aanbid nie ... daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid” (Joh 4:21-23).  Vanaf toe, met die aanbreek van die nuwe verbond, het die HERE daarvoor gesorg dat sy Naam oor die ganse aarde, onder elke volk, taal en nasie geëer, aanbid en verheerlik word.

En in ons tyd mag ons veral vashou aan die belofte van Christus se wederkoms.  Op daardie dag sal Hy as Regter alle mense vonnis.  Ja, van elke ligsinnige woord sal die mense dan moet rekenskap gee.  Die vloekwoorde gons ons nou dikwels om die ore.  Christus, aan God se regterhand, vergeet nie ‘n enkele vloekwoord nie, nie ‘n enkele keer as mense ligsinnig en ondeurdag sweer nie.  Nie ‘n enkele keer as mense, soos deesdae, nie meer belangstel om ‘n eed in sy Naam af te lê, omdat hulle nie meer in sy bestaan glo nie.  Die dag sal kom dat sy Naam in ere herstel word.  Asook die naam van almal wat Hom liefgehad het.

Dan sal Christus se heerlike Naam die aardbodem oordek, soos die waters die bodem van die oseaan.  En dan sal hulle wat sy Naam dra, saam met Hom heers.  Soos Psalm 102 profeteer, die laaste vers: Hulle nageslag sal voor u aangesig bly bestaan.  ‘n Heerlike belofte vir elkeen wat sy Naam van harte liefhet.  Elkeen wat pyn en verdriet voel as sy Naam tans op aarde gelaster word.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 102:1-3

Gebed

Skriflesing: Psalm 102

Ps 102:4-7

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 36-37

Preek

Ps 102:8-10

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 102:11,12

Seën