Trek die volle wapenrusting van God aan!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-11-18
Teks: 
Efesiërs 6:10-20
Preek Inhoud: 

Preek: Efesiërs 6:10-20

Tema: Trek die volle wapenrusting van God aan!

Jongmense gaan vandag belydenis van hulle geloof aflê. Jou geloof, jou verbindtenis met Jesus Christus, is die kosbaarste besit in jou lewe. Hoe gaan julle eintlik hierdie besit verseker? As mens iets wil verseker, moet jy eers bewus wees watter risiko’s daar mag wees. As jy byvoorbeeld jou huis en alles daarin wil verseker, moet jy ’n vraelys invul. Het jou huis dalk ’n grasdak, met ’n verhoogde brandgevaar? Het jou huis se vensters diefwering? Het jou huis ’n alarminstallasie?

Nou wat is eintlik die risiko’s wat jou geloof bedreig? Jy doen vandag belydenis met die opregte intensie dat jy hierdie geloof jou hele lewe gaan vashou. Julle gaan nounou antwoord, onder andere op die vraag: “Is dit u voorneme om deur die genade van God in hierdie leer tot die einde van u lewe standvastig te volhard”. As ons om ons heen kyk, is daar heelwat mense wat hulle geloof nie standvastig tot die einde van hulle lewe vashou nie. Ooit het hulle belydenis gedoen, of soos dit in ons land ook genoem word, ooit is hulle aangeneem, dikwels terwyl hulle nog op skool was, maar dan, byvoorbeeld in hulle studentetyd, het hulle opgehou om kerk toe te gaan. Dalk nog met kersfees, as hulle by hulle ouers tuis was. So is daar baie mense om ons heen waarvan nie gesê kan word dat hulle standvastig in die geloof volhard het nie.

Wie sy geloof wil verseker, sal bewus maatreëls moet tref sodat jy nie self ook deel van hierdie statistieke word nie. Kyk mens na die statistieke van byvoorbeeld die NG Kerk, of die GKSA, dan krimp die lidmaatgetalle met duisende lede per jaar. Wie sê jy gaan nie ook dieselfde paadjie loop nie?

Dit laat my dink aan vers 12 wat ons gelees het: ons stryd is teen die bose geeste in die lug. Hier kan mens dink aan die tydsgees byvoorbeeld, ’n atmosfeer wat in die lug hang, in ons samelewing, wat gevaarlik en aansteeklik is, naamlik dat geloof en aktiewe kerklidmaatskap as oorbodig beskou word. Hierteen sal julle julle dus moet verseker, oftewel bewapen, soos die teks sê.

Ons lewe naamlik nie in ’n neutrale zone nie. Ons lewe te midde van ’n geestelike oorlog. As jy jouself nie bewapen nie, gaan jy sleg tweede kom. Ek moet dink aan wat die Amerikaanse president onlangs vir die Europeërs gesê het. Hy’t gesê: vryheid is nie goedkoop nie. ‘Freedom is not free’. Die Europese lande het die afgelope jare al hoe minder geld begin uitgee vir verdediging. Dit was as gevolg van die finansiële krisis, en omdat die Koue Oorlog mos iets van die verlede was. En nou vat Rusland sy kans.

Vryheid is nie goedkoop nie. Dit geld ook vir die geestelike lewe. Vrede, vryheid, voorspoed kom nie vanself nie. Dit kan slegs bereik word as daar genoeg teenwigte teen die kwaad is. So geld dit ook vir jou geloofslewe. Dit bly nie vanself goed nie. Maar slegs as daar genoeg bewapening is teen faktore wat dit skade kan berokken. Besuinig jy op jou geestelike wapenrusting, dan gaan jy tweede kom. Ons lewe nie in ’n neutrale zone nie. Ons lewe in ’n geestelike oorlogsituasie. En as jy nie jouself beskerm met die korrekte wapenrusting nie, dan gaan die satan sy kans vat. Wat daar in ons teks geskryf word oor die wapenrusting van God, het direk te make met ons geestelike stryd, ons geloofslewe. In die teks word ons opgeroep om aan te meld as troepe in God se leër. Die Here is die Generaal van die troepe. Onder sy sterke krag opereer ons op die oorlogsveld. Ons word opgeroep om standvastig te wees, terwyl baie slagoffers van satan rondom ons val. Ons moet standvastig bly in die geestelike stryd, en dit kan net as ons oë gevestig bly op Christus, ons Generaal en Aanvoerder. As jou oë op Hom gevestig is, bly jy ook besef dat jy jouself in ’n oorlogsituasie bevind. Want een van die taktieke van satan is dat mense begin ontken dat daar oorlog is. Maar, moenie in ontkenning lewe nie, moenie die taktieke van satan onderskat nie. Die oorlog is oral om ons, selfs in ons.

Daarom, trek die volle wapenrusting van God aan. Wapenrusting van God – want hierdie is nie ’n gewone oorlog nie. Dit is ’n oorlog wat nie met ’n gewone swaard gewen kan word nie. Petrus het Jeus probeer verdedig met ’n gewone swaard, in die tuin van Getsémané. Maar Jesus het Petrus verbied om daarmee voort te gaan. Dit help nie. Daardie swaard sal nie ’n verskil maak in die oorlog nie. Petrus het ’n ander, ’n beter swaard, nodig gehad. Gespesialiseerde toerusting. Want die oorlog is nie teen mense, teen vlees en bloed nie, maar teen die owerheid, die magte, die wêreldheersers van die duisternis, die bose geeste in die lug. Oor hierdie geavanseerde toerusting, hierdie spesiale swaard, lees ons naamlik in die teks. Dit is die swaard van die Gees, die Woord van God.

Die bose geeste in die lug word nie met ’n gewone swaard gedood of op ’n afstand gehou nie. Daarvoor het ons die Woord van God nodig. Met wêreldheersers van die duisternis verwys Paulus spesifiek na die afgode van sy tyd. Die heidene, die Grieke en Romeine, het verskillende gode gehad. Dus, sê Paulus, ons stryd is nie teen die mense nie, maar teen die afgode van die donker heidense wêreld. Teen die bose geeste in die lug.

Met bose geeste in die lug kan ons dink aan die feit dat baie mense die son en maan en sterre as gode vereer het. Paulus verwys hier na bose geeste, demone, wat in diens staan van satan, wat die heidense volke verlei het tot die verering van son, maan en sterre. Geskape dinge wat die heidene begin verafgod het onder invloed van die bose geeste in diens van satan. Die Christene in Klein-Asië, aan wie Paulus hierdie Efesiërsbrief skryf, was omring deur afgodstempels. Die hele bevolking het die afgode vereer. En as hulle as Christene dit nie gedoen het nie, is hulle skeef aangekyk, om die minste te sê. Soms is  teen hulle gediskrimineer, soms selfs vervolg. Dink aan wat met Paulus gebeur het, toe sy prediking in Efese die verering van die godin Diana geaffekteer het. Toe Demetrius die silwersmid al hoe minder afgodsbeeldjies van haar kon verkoop. Paulus en sy metgeselle het net net lewend daarvan afgekom.

Geen wonder Paulus roep die lesers van sy brief op om hulleself te bewapen nie. As julle wil standhou, het julle wapens nodig. Nie in die eerste plek fisiese wapens nie, maar geestelike wapens. Gordel julle met die waarheid. ’n Gordel was deel van die standaarduitrusting van ’n soldaat.

Dieselfde het gegeld vir die borswapen, oftewel borsplaat. Die borsplaat van geregtigheid. Dis nou, wel te verstaan, nie jou eie geregtigheid nie, maar Christus s’n. Sy geregtigheid is soos ’n borsplaat. Watter aanval ook teen jou geloots word, dit sal afkets. Kritiek om wie jy is en hoe jy lewe hoef jou nie depressief te maak nie. In Christus weet jy dat jy regverdig is, en dat niemand jou kan beskuldig nie!

Trek ook skoene aan. Die skoene aan julle voete van die bereidheid vir die Evangelie van vrede. Elders, in die brief aan die Romeine, skryf Paulus oor die lieflike voete van hulle wat boodskappers is van die Evangelie. Het jy daardie bereidheid aan jou voete? Is jy bereid om vir die evangelie ’n myl, ’n ekstra myl, ja jou hele lewenspad te stap?

Neem ook die skild van geloof in jou hand. In die psalms lees ons dikwels dat God ’n beskermende skild is vir sy kinders. Dink aan Psalm 84: ’n son en skild is onse Heer (Ps 84:6 berymd). Hierdie skild van geloof word ons aangebied om die brandende pyle van die Bose te blus. In die oorlogsvoering van daardie tyd is daar naamlik brandende pyle gebruik.

Voordat die vyand die pyl geskiet het, het hulle hom eers aan die brand gesteek. Waar die pyl dan val, verroorsaak dit ’n brand in die stad of kamp van die opponente. Hulle het natuurlik die pyle met skilde probeer keer. En omdat daardie skilde van dierevelle gemaak was, kon hulle ook begin brand! Daarom dat kort voor die stryd begin is, al die skilde in water geweek is. So kon die vurige pyle onmiddelik geblus word. Vandaar hierdie uitdrukking in vers 16: dat julle die vurige pyle van die Bose kan uitblus. Die Bose, wat hier met ’n hoofletter geskryf is, verwys na die Duiwel. Hy is die aanvoerder van al die bose geeste in die lug. Sy brandpyle is dodelik akkuraat. Maar die geloof, daardie vasstaande kennis en vaste vertroue, soos julle op katkisasie geleer het, is bestand teen satan se pyle!

Verder bied Christus in sy wapenrusting aan ons ook die helm van verlossing. Daardie helm beskerm jou kop. In jou kop is jou brein. Daardie helm beskerm dus ook jou gedagtes. As Christus beheer oor jou gedagtes oorgeneem het, kan geen slegte destruktiewe gedagtes, geen angstige gedagtes meer jou kop binnedring nie. Alle twyfel, alle sombere gedagtes, word gevange geneem, en word uitgeban. Alle denkpatrone word in diens gestel van Christus, wat jou met sy eie bloed vrygekoop het van Satan! Wat ’n bevryding. Dit is eers egte vryheid! As jou kop skoon is. As daar opbouende gedagtes in jou kop is. Liefde vir God en jou naaste!

En dan is daar, soos ek reeds eerder in die preek genoem het, die swaard van die Gees.  God se Woord is naamlik die swaard van die Gees. Dit is die wapen waarmee aangeval word, en waarmee die stryd besleg word. In 2 Korinthiërs skryf Paulus: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.” (2 Kor 10:3-5) Die Woord van God is dus ons wapen by uitstek. Dis die swaard van die Heilige Gees. Hierdie wapen pas ons daarom soos goud op, hierdie wapen gaan ook absoluut onmisbaar wees om julle lewe te beskerm. Daarom bid ons, Regeer ons deur u Woord en u Gees dat ons hoe langer hoe meer ons aan U onderwerp. Vernietig die werke van die duiwel en alle heerskappy wat hom teen U verhef, en verder ook alle bose planne wat teen u heilige Woord bedink word (Heidelbergse Kategismus Sondag 48). Inderdaad, satan is geslepe. Noudat hy sien dat hierdie wapen – die swaard van die Gees oftewel die Woord – so effektief is, probeer hy hierdie wapen op allerlei maniere te ondermyn. Want wat is meer skadelik as om die Woord self te ondermyn. Is dit nie presies wat in ons samelewing besig is om te gebeur nie? Mense het nie meer respek vir die Woord nie. Sogenaamd het die wetenskap bewys dat die Woord ouderwets is. As die Woord sê dat egskeiding sondig is, die wetenskap weet beter. As die Woord sê dat ’n homoseksuele lewensstyl sondig is, die samelewing steur hulle nie daaraan nie. As die Woord sê dat Sondag ’n rusdag moet wees, wie neem dit nog ernstig op? Dus nogmaals, hierdie hoogs effektiewe wapen, die swaard van die Gees, pas ons op soos goud.En ons bid: vernietig die bose planne, of dit nou van politici kom of van teoloë of van mense wat hulleself wetenskaplik noem, of van wie ook al af kom, vernietig die bose planne wat teen u heilige Woord bedink word.

Oor gebed gepraat, dit is die enigste wapen wat nog sterker is as die swaard van die Gees. Gebed. Dit is waaroor Paulus dan ook in die laaste verse van ons teks skryf. Gebed en waaksaamheid. Om presies te wees, waaksaamheid is die produk van gebed. Deur reëlmatig jou oë te sluit in gebed, word jou oë geopen vir satan se aanvalle. Gebed maak ons waaksaam. Wie nie bid nie, raak aan die slaap – geestelik. Wie bid, bly fiks en waaksaam. Paulus roep op tot gebed. As ons bid, is dit nie net vir onsself nie – dit natuurlik ook – maar soos die teks sê: vir al die heiliges.

Vir die hele leër van Christus, vir al sy troepe. Paulus vra ook spesifiek dat daar vir hom gebid word. In daardie dae was hy ’n soldaat op die voorfront.

As daar iets met hom sou gebeur, sou dit die voortgang van die evangelie baie skade kon berokken. Ook vandag moet ons bid vir ons voorgangers. As die satan dit byvoorbeeld regkry om ’n predikant te laat afdwaal, is dit ’n gevoelige slag vir die kerk van Christus, ’n smet op die evangelieverkondiging.

Maar vandag bid ons spesifiek ook vir julle. Ons bid dat julle hierdie wapenrusting elke dag sal dra, sodat julle die sonde sal kan weerstaan, sodat julle diensbaar en heilig kan lewe. Gebed is die sterkste wapen. En hierdie kragtige gebed bid ons vandag vir julle. En in die toekoms, veral in moeilike tye, mag julle terugdink vandag, hierdie erediens, en hoe ons vir julle gebid het, en daaruit mag julle krag put.

Toe die apostel Paulus hierdie brief geskryf het, en spesifiek gevra het dat daar vir hom gebid word, was dit op die oomblik toe hy as gevangene in Rome was.Hy het hom daar voorberei om die keiser te ontmoet. Hy het homself mos op die keiser beroep. Dis die rede hoekom hy as gevangene na Rome gebring is. En nou berei hy homself voor, as hy die keiser sien, om nie net vir sy eie vrylating te pleit nie – eintlik kon hy al lankal vry gewees het – maar veral om te getuig van die Evangelie. Dat as hy daardie geleentheid kry, as ’n gesant in kettings, dat hy met vrymoedigheid sal kan sê dit wat hy moet sê. En ek is seker, toe die dag aanbreek dat hy voor die keiser verskyn het, die magtigste man van daardie tyd, dat Paulus toe gedra is deur die gebede van al die heiliges.

Ek sluit af met die oproep van die tema: Trek die volle wapenrusting van God aan! Gordel van die waarheid. Borswapen van die geregtigheid. Skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Skild van die geloof. Helm van verlossing. Swaard van die Gees, die Woord van God. En gebed.

Inderdaad, gebed is die kragtigste wapen. Hoeveel manne het al in die stryd staande gebly omdat hulle ma’s vir hulle gebid het! Laat daaglikse gebed die bousteen wees vir julle lewe. Want gebed is die verbindingslyn met julle Verlosser, Jesus Christus. Fokus op Hom, verwag alles van Hom.Julle is sy eiendom. Hy gee deur sy Gees en Woord aan julle die sekerheid van die ewige lewe. Hy werk in julle die gewillige bereidheid om voortaan vir Hom te lewe!

Amen.

 

 

 

 

 

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 47:1,3,4

Wet

Ps 119:42

Gebed

Skriflesing: Handelinge 19

Ps 18:1

Teks: Efesiërs 6:10-20

Preek

Ps 18:14,16

Formulier Openbare Geloofsbelydenis

Seën uit 1 Petrus 5:10-11

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 84:1,2,5,6

Seën