Lewe uit die regverdiging deur die geloof

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-09-02
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 23
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 23

Kan mens ‘n lening by God kry? Daar is mense wat so leef. As hulle gebore word, kom hulle kerk toe om gedoop te word. As hulle gaan trou, kom hulle weer in die kerk. Soms as dit nagmaal is, of Kersfees, of miskien met ’n begrafnis, kom hulle ook in die kerk. En uiteraard ook met hulle eie begrafnis.

’n Lening by God afsluit.

Soos wat mens by die bank ‘n lening afsluit, as jy ’n huis wil koop. Aan die begin besoek jy die bank, maar as die lening eers goedgekeur is, hoef jy die bank nie weer van binne te sien nie. Ek glo in liewe Jesus en dat Hy my  sondes vergewe, en verder hoef ek nie aandag daaraan te skenk nie. Mense wat so lewe, het nie ’n lewende band met Christus nie. Hulle het Hom nie van harte lief nie. Hulle gaan met Hom om soos wat mens met ’n bank omgaan. Jy kom in die kerk om ’n lening af te sluit, waardeur jou toekomstige sondes gedek word, en dan kan jy weer jou gang gaan. Soos dit die beroep van ’n bankier is om lenings beskikbaar te stel, so is dit die beroep van Jesus om sondes te vergewe. Dis waarvoor jy Hom nodig het en nie meer nie. In hierdie preek verkondig ek u God se Woord en wil vir u verduidelik dat jy nie so met jou Heiland, Jesus Christus, kan omgaan nie.

Tema: Lewe uit die regverdiging deur die geloof

As daar een ding uit die Bybel duidelik is, dan is dit dat die redding wat ’n mens van God ontvang, heeltemal gratis is. Ek dink aan Romeine 3:21-24: “Maar nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof  in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”

Sonder verdienste – dit is gratis! Dit bied ongekende moontlikhede: Daar is dus redding beskikbaar vir elke mens op aarde: ryk of arm, sondaar of superbraaf. Dit hou ’n mens ook nederig. Die redding wat ek ontvang is ’n geskenk. En die feit dat jy moet glo verander niks daaraan nie. Die geloof is nie ’n prestasie nie. Die geloof is as’t ware jou hande waarmee jy die geskenk wat God jou oorhandig, in ontvangs neem. God verlang geloof by mense. Mense is nie robotte wat deur God geprogrammeer word nie. God se roepstem klink tot mense, en mense moet dit op hulle beurt gehoorsaam antwoord, of in ongehoorsaamheid ignoreer. Soos die Kategismus sê: aan hierdie weldaad het ek slegs deel, as ek dit met ’n gelowige hart aanneem.

Hierdie is die blye boodskap wat die apostels op hulle sendingsreise mog verkondig; en wat ons vandag ook na die mense mag bring. Dit is die Evangelie wat in die tyd van die Reformasie herontdek is, en wat in Sondag 23 so mooi verwoord word teen die donker agtergrond van die Roomse leer van goeie werke, die vaevuur, ens. Nou lewe ons vandag in ’n ander konteks. Die gemiddelde Pretorianer gaan nie gebuk onder ’n swaar skuldelas nie, ek bedoel nou geestelik. Die gemiddelde Pretorianer het miskien maar weinig sondebesef. Dit geld ook vir baie wat hulle Christene noem. Ons lewe in ’n samelewing wat die houding het dat God nie werklik invloed het op die alledaagse lewe nie, maar vir die sekerheid het ons wel ’n lening by Hom uitgeneem, vir die geval dat daar tog na hierdie lewe iets soos ’n hel en ’n hemel sou wees.

Oor so ’n soort lewenshouding lees ons ook in die eerste brief van Johannes. Hoewel dit nie eksplisiet genoem word aan wie hierdie brief geskryf is nie, het Johannes dit waarskynlik geskryf aan die Christelike kerke in Klein-Asië. Ons weet dat die apostel Johannes aan die einde van sy lewe in Klein-Asië gewoon en gewerk het, in die stad Efese. In die res van die Nuwe Testament lees ons heelwat meer oor die kerke in Klein-Asië.

Dink aan die boek Openbaring, waarin dieselfde apostel Johannes ook aan hierdie kerke in Klein-Asië skryf. Sewe kort briewe aan sewe kerke in Klein-Asië. Hoewel Johannes vir elk van hierdie kerke ’n spesifieke boodskap namens Christus gehad het, val dit ook op dat hierdie kerke oor die algemeen vermaan word om nie lou te wees nie, om die eerste liefde nie te vergeet nie. In die gedeelte wat ons uit 1 Johannes gelees het, vind ons ’n oproep wat hier volledig mee ooreenstem. Moenie lou word nie! Moenie die eerste liefde verwaarloos nie! Hierdie Christene in Klein-Asië het naamlik die Evangelie ontvang, en hulle het tot geloof gekom. Glo in Jesus Christus, wat die sondaar regverdig, sonder enige verdienste! Hulle het persoonlik gehoor wat Paulus verkondig het: “Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (Rom 1:17)

Maar nou op hierdie stadium wat Johannes sy brief aan hulle skryf, is hierdie kerke waarskynlik al ’n hele paar dekades oud. En as die vraag gevra word: het hierdie Evangelie van regverdiging deur geloof alleen ook werklik gelei tot ’n lewe van toenemende toewyding, dan kan Johannes hierdie vraag nie volmondig met ja beantwoord nie. En daarom sy indringende woorde in hierdie brief:

“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.” (1 Joh 1:6)

“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” (v7)

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (v8-9)

“My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie.” (1 Joh 2:1)

Wat was daar naamlik aan die hand? Christene in Klein-Asië wat tot geloof gekom het, wat geregverdig is deur die bloed van Christus, hulle kon nie net op die ou voet verder leef nie. Nie dat hulle voortaan met goeie werke hulle saligheid moes verdien nie. Hulle saligheid wás reeds verdien, deur Christus. Maar nou moes hulle by Christus bly. In dankbaarheid voor sy aangesig lewe. Met hulle lewe Hom dien. Egter, dit het nie heeltemal gerealiseer nie.

Aan die een kant het hulle in Christus geglo. Aan die ander kant het hulle ‘n sondige lewe voortgesit. En daarom sê Johannes nou: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.” (1 Joh 2:15)

Leef dus uit die regverdiging van die geloof. Dit is iets anders as ’n lening by Jesus afsluit, en vervolgens op die ou voet voortleef. Want as jy dit doen, sleep jy die Naam van jou Heiland deur die modder. Dan maak jy asof Hy ’n masjien is wat sondes vergewe.Elke dag skryf Hy jou sondes af, soos die paaiement elke maand met ’n debietorder van jou rekening afgetrek word. Dis hoekom Paulus op ’n stadium vra in Galasiërs 2:17: dis mos nie so dat Christus in diens staan van die sonde nie?

Ek kom terug by Sondag 23. Hoe is jy regverdig voor God? Nie uit myself nie, maar uit ’n ware geloof. Is geloof iets wat jy self doen? Jaseker, maar dis nie iets wat my salig maak nie. Wat maak my salig? Nie my geloof nie. Maar dit waarin ek glo. Naamlik die voldoening, geregtigheid en heiligheid van Christus. V/a 60 verduidelik dat dit nie help om op jouself te vertrou nie.

As jy eerlik is teenoor jouself, sal jy telkens merk wat antw. 60 sê:

“my gewete klaag my aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig het en geeneen daarvan gehou het nie en dat ek nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is.”

Dit moet elke eerlike mens toegee, jong of oud, Christen of nie-Christen. Ek het gesondig en ek sondig nog steeds teen God se gebooie. Uit sy gebooie ken ek my ellende. Maar tog is ek regverdig. Hoe kan dit dan? God skénk my die regverdiging. Hy kyk  na my, asof ek nooit sonde gehad of gedoen het nie. Hy skryf Christus se regverdigheid op my naam. Dit doen God nog voordat Hy gewag en gesien het of ons wel genoeg goeie werke sal doen.

Hy doen dit omdat Hy jou liefhet, jou wil red, en jou wil transformeer. As jy werkloos is, jy soek al jare werk. Jou moes al jou huis verkoop, jou voertuig, en dan kry jy ineens wel ’n werk. En die besigheid waar jy ’n werk kry, besluit om sommer al jou eerste salaris te betaal, nog voordat jy begin werk het, gesien die moeilike omstandighede waarin jy verkeer. Dit is wat God met ons doen. Ons is diep in die skuld, verlore in skuld,en dan kry ons die evangelieberig: God skryf Christus se volkome voldoening op jou naam.

Dit is die wonder van regverdiging. En om nou eerlik te wees. Ek dink dit veroorsaak vir die Here Jesus baie pyn in sy hart, as Hy sien dat kerkmense aan die wonder gewoond geraak het. Soos die Christene in Klein-Asië lou geword het, hulle eerste liefde vergeet het. Nou dink ek dat inderdaad die meeste van ons wat hier in die kerk is (vanaand), dit nie net vir kennisgewing sal aanneem nie. So van – o ja – hierdie het ek al eerder gehoor. Niks nuuts in hierdie preek nie. Maar, kan mens ook die dankbaarheid van u gesigte aflees? Laat ons eerlik wees, die gevaar is daar ook vir ons, dat ons gewoond raak aan die wonder, sodat ons die grootheid daarvan begin onderskat. As ’n gesonde kind gebore word, en dis nie ’n miskraam nie, is dit ’n wonder. Maar omdat God daardie wonder so dikwels laat plaasvind, vind ons dit al gewoon. Ons gaan eintlik bietjie daarvan uit dat dit so hoort, dat dit ons reg is. En as dit ’n keer nie goed gaan nie, dan dank ons God nie vir die menigvuldige kere wat dit wel goedgegaan het nie, maar ons loop met vrae rond – hoekom het God dit toegelaat, asof dit sy skuld is. Soms is ek bang dat ons ons rykdom nie meer besef nie. Soms hoor mens dat alhoewel ’n land ryk en welvarend is, die mense in daardie land nie ophou kla nie. Sou dit in die kerk ook so wees? Dat in die kerk waar die genade, die regverdiging van Christus, vanaf die kansel klink, dat mense gewoond raak aan die wonder, hulle eintlik begin afvra wat nou so wonderlik daaraan is?

Is dit nie so dat juis in Protestantse kerke die afgelope eeu die leer van die regverdiging onder sterk kritiek te staan gekom het nie? Die feit dat Christus plaasvervangend vir ons gely het. Die wonder van die regverdiging word nie meer as wonder ervaar nie, en dus stel teoloë voor om dit te skrap, of te verander, omdat dit nie meer van hierdie tyd sou wees nie. Teoloë wat die apostel Johannes antichriste sou noem. In sy brief skryf Johannes oor die antichris. Daar word melding gemaak van dwaalleraars wat ontken dat Christus werklik God en mens tegelyk is. Laat ons eerlik wees. Die wonder dreig om gewoond te raak. Nee, ek sê dit verkeerd. Nie die wonder op sig, absoluut nie. Maar wel ons belewing daarvan. Ons begin dit so gewoon vind, dat ons nie meer ons kan voorstel hoe dit was voor die wonder nie.

Vlak voor die Franse rewolusie het daar so ’n houding onder die Franse adel geheers. God vergeef wel wat jy doen, dis sy beroep. En ondertussen het hulle voortgegaan met sondig. Ek is bang dat dieselfde gevaar ons ook bedreig. Soms dan hoor mens iemand bid, byvoorbeeld aan die begin van ’n vergadering, of aan die begin van die dag: Here, wil u asseblief al die sondige wat ons gaan aankleef, genadig vergewe. Hooplik het die persoon wat dit bid, nie goed nagedink wat hy sê nie, want so ’n gebed is onhoudbaar. Wat moet Christus wel nie dink, Hy wat met sy voorbede by die Vader intree nie?Hy wat besig is om die Vader te oortuig van sy werk in ons lewens. Mens maak Christus bespotlik, as jy so bid. Dit kom daarop neer dat jy vir Hom sê: O ja, Jesus, wil U solank rekening hou met die feit dat ons ook vandag gaan sondig. Wil U ons by voorbaat vergewe. Ons moet juis berou toon, en vergewing vra oor sondes wat ons gedoen het, met die intensie om dit nooit weer te doen nie. Jy kan nooit vergewing vra vir toekomstige sondes nie! Vra eerder vir krag om nie weer te sondig nie!

As ons bid, moet ons die eerlike intensie hê om die sonde agter jou te laat.

Geliefde broer, suster, ons bid as Christene moontlik meerdere male per dag. Maar wees jouself wel daarvan bewus wat jy bid. Wees jouself daarvan bewus dat jy in gebed nader voor God se troon, waar Christus is. Dit is nie sy beroep of sy stokperdjie om jou skuld te vergewe nie. Dit was ’n immense offer wat Hy gebring het. ’n Offer wat by ons verwondering en verootmoediging moet veroorsaak. In die oggend behoort ons eerder nederig te bid: Here, wil u vandag die kwaad ver van ons hou. Stuur u Gees om my voetstappe so te lei, dat ek nie in versoeking gelei word nie. As jy dit bid, spreek daaruit die besef dat die sonde gevaarlik is, lewensgevaarlik om in sonde te lewe. Laat dit nie so wees dat ons daarvan uitgaan dat die wonder van regverdiging ons reg is nie. En dus kan ons maar voortgaan om aan te jaag, asof Hy ons wel sal vergewe, dit is sy beroep. En so word dit algemeen dat Christene ook vloek, dat ook hulle nie eerlik is met geld nie, dat hulle die TV ook aanlaat by geweldsfilms en seks, dat ons wêreldgelykvormig raak in ons kykgewoontes, dat ons ook kerkdienste versuim, as dit ons uitkom, ens. ens.  God vergeef ons wel, dit is sy beroep.

Christus roep ons op om anders te wees. Die wonder van regverdiging kan ons nie onveranderd laat nie. Die wonder van regverdiging het nie ten doel om sonde in hierdie wêreld ongelimiteerd te gedoog nie, maar juis om dit te beeïndig. Sondag 23 begin deur die toestand van ’n gebroke hart te beskryf.

Al kla my gewete my ook aan dat ek teen al die gebooie van God swaar gesondig en geeneen daarvan gehou het nie, en dat ek nog gedurigdeur tot alle boosheid geneig is. Het jy nog ’n gewete? Of het jou gewete aan die slaap geraak? Waar geen gewete is, verdwyn die behoefte om vergewing te vra, die verlange om te deel in die wonder van die regverdiging. In so ’n klimaat kan ’n antichristelike dwaalleer soos ’n paddastoel uit die grond skiet.

Geliefde gemeente, kom ons leef  uit die regverdiging van die geloof. Nie net Sondag nie, maar elke dag. Die wêreld gaan verby en al sy begeertes, maar wie die wil van God doen, hulle bly tot in ewigheid (1 Joh 2:17).

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 71:1,2

Gebed

Skriflesing: 1 Johannes 1:5-2:17

Ps 71:6,9,12

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 23

Preek

Ps 130:1,2 (1e beryming)

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 130:3,4 (1e beryming)

Seën