Die wonder van skuldvergifnis

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-08-12
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 21 vraag en antwoord 56
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 56

‘n Week voor die viering van die nagmaal, is v/a 56 ‘n pragtige onderwerp vir die prediking. Hier bely ons dat dit slegs die voldoening van Christus is, wat vergewing moontlik maak. Danksy Christus se voldoening wil God nie meer aan my sondes dink nie. Woordjie wil vat ons reguit na God se hart. Hy wil nie meer aan ons as slegte mense dink nie. Hy wil aan ons dink as mense sonder sonde. Christus se voldoening maak dit moontlik.

Nou is die realiteit dat ek, soos v/a 56 sê, my hele lewe lank, ook al is ek kerklid, al is ek wedergebore, teen my sondige aard sal moet stry. Hierdie is ‘n bekende uitspraak, dit is gevleuelde woorde. Die impak bly egter so kragtig soos altyd. Die bejaardes kan getuig, dit is waar. Die sondige aard bly in ons.

Elke keer betrap jy jouself dat jy een van die Here se gebooie oortree het. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie. Jy betrap jouself dat jy jaloers is op jou naaste se mooi huis, of sy motorkar, of sy vrou. Jy betrap jouself dat jy ontevrede is met jou eie man, dat jy wens jy het ‘n man gehad soos die en die, wat so ‘n aangename persoon is, of wat so ‘n goeie inkomste het. Jy betrap jouself dat jy ontevrede is met jou eie kinders, of kleinkinders, vergeleke met ander s’n. Jy betrap jouself dat jy jaloers is op jou maatjie se ouers. Jy betrap jouself dat jy iemand in jou gedagtes verwens, liewer wou gehad het dat hy dood is. Jy betrap jouself dat jy nie lus is om kerk toe te gaan nie. Jy betrap jouself dat jou vetroue op die HERE nie meer jou sorge oor elke dag se uitdagings kan laat bedaar nie. So kan ek aangaan met ‘n lang lys voorbeelde.

So sit ons inmekaar. Ek sal my lewe lank teen my sondige aard moet stry.

Ons kan dit maar eerlik erken. En Wat so mooi is, God maak dit vir ons maklik om dit eerlik te erken. Want ten spyte van ons sondige aard, wil Hy ons vergewe. Christus se voldoening is die rede dat Hy desondanks met Vaderlike liefde na ons kyk.

Hy skenk my die geregtigheid van Christus in ruil. Ek mag lewe met die wete: ek hoef nie meer in die strafgerig van God te kom nie. Wat ‘n wete! Dit gee my gemoedsrus. Dit gee ‘n enorme oplugting. Dit gee my energie, om met nuwe moed elke dag weer die stryd aan te pak teen my ou mens.

Hierdie gevoel van ‘n enorme oplugting word pragtig in Psalm 32 onder woorde gebring.

Tema: Die wonder van skuldvergifnis

  • Die HERE los jou nie uit nie
  • Die HERE vergeef onvoorwaardelik
  • Die HERE soek opregtheid
  • Die HERE maak jou gelukkig, ja welgeluksalig
  • Die HERE los jou nie uit nie

    Welgeluksalig is jy, as die HERE die ongeregtigheid nie meer toereken nie. As Hy jou oortreding vergewe, bedek. Daar is egter een voorwaarde, skryf Dawid, om hierdie gevoel van oplugting te bereik. Naamlik dat jy jou sonde teenoor die HERE bekend maak. Want, solank jy dit nie doen nie, solank jy stilbly, dan – skryf Dawid – teer jou gebeente uit. Dan voel dit dat die hand van die HERE swaar op jou is dag en nag. Jy voel dit aan jou murg. Soos deur somergloed.

    Meer nog, as jy dit nie doen nie, as jy nie oopmaak teenoor die HERE nie, dan los Hy jou nie net nie. Soos Dawid self ervaar het, Hy soek jou op. Hy bring jou in gevare. Hy kan jou straf. Hy kan toelaat dat jy siek word. Hy kan dat jou vyande jou bedreig. Hierdie straf van God is nie om te vergeld nie. Inteendeel, hierdie soort straf is eintlik Goddelike genade wat werksaam is. Dat God se hand swaar op jou druk, jou aanmoedig tot berou en bekering. God is met jou besig. As God nie so met jou besig was nie, sou jou situasie nog veel ernstiger gelyk het. Maar God se pynlike bemoeienis met jou lewe voorkom dat jy hipokriet raak, of vol selftrots. Dat jy blind raak en jou eie sondes nie eers meer raaksien nie.

    Die verband tussen sonde en swaarkry vind ons dikwels in die Bybel. Jesus sê byvoorbeeld vir die siek man by Betesda: “Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” (Joh 5:14)

    En Paulus skryf aan die gemeente in Korinthe, ‘n gemeente waarin baie sondige gewoontes getolereer is: “Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.” (1 Kor 11:30)

    Inderdaad, tussen sonde en swaarkry is daar ‘n verband. Die HERE God lê daardie verband. Hy bring dinge op jou lewenspad, nie uit vergelding nie, maar om jou na Hom te laat verlang. Sodat jy voor Hom oopmaak en jou sondes bely.

    Wat presies by Dawid gebeur het, daaroor is die Psalm nie eksplisiet nie. Maar die woorde wat hy gebruik, dui daarop dat dit nie net ‘n baie pynlike gevoel van binne was nie. Maar dat daar oor regtig by hom sprake was van ‘n siekte – dink aan vers 3 en 4: “my gebeente het uitgeteer en in my gebrul die hele dag”, “my murg het verander”. Hierdie beelde herinner aan die droë somermaande in Israel, waartydens daar geen reën val nie, en die son genadeloos brand. Net soos bome en plante se vog stadig maar seker verdwyn en hulle inmekaar skrompel deur die skroeiende son, so ervaar Dawid dit. Daar bly letterlik niks van hom oor, solank hy aangaan om dinge vir God te verswyg nie. Dit maak hom siek. Maar sodra jy jou sonde bely voor die HERE, kom die oplugting.

  • Die HERE vergeef onvoorwaardelik

    Dit lei outomaties tot aanbidding. Elke vrome sal U aanbid in ‘n tyd as U te vinde is. Jy sal ervaar: die HERE is vir jou ‘n skuilplek. Jy sal jouself bevry voel. Jy sal die behoefte voel om, soos Dawid in vers 7 te sê, vrolik te sing. Die lewe sal jou weer toelag. Soos wat Dawid dit hier skryf, proe mens dat hy dit uit eie ervaring skryf.

    Wat ook baie opvallend in hierdie Psalm is, is dat Dawid nêrens iets noem oor offers, boetedoenings, goeie voornemens of soiets nie. Nouliks is die woord van skuldbelydenis uitgespreek, of God vergewe al. God sê nie vir Dawid: OK, Ek’s bly om te hoor jy’s jammer. Maar nou moet jy eers by die tempel hierdie en hierdie offers gaan bring nie. En jy moet so en so boete doen. En jy moet belowe dat ... ensovoorts ensovoorts. En dan sal ek oorweeg om jou te vergewe. Nee, onvoorwaardelik vergewe God nog voordat hierdie dinge gedoen is.

    Die apostel Paulus haal daarom hierdie Psalm in Romeine 4 aan. Die feit dat Dawid hierdie mens salig spreek, aan wie God die geregtigheid toereken sonder werke. Romeine 4:6: “Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie.”

    Op basis van ‘n Psalm soos hierdie skryf Paulus vervolgens: “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.            ”Wat ‘n voorreg om hierdie vrede te ervaar! Psalm 32 verklaar nie die offers by die tempel oorbodig nie. Die boodskap van hierdie psalm is nie antinomianisties nie. Dawid wil nie al Moses se wette oor offers en boetedoening aan die kant skuif nie. Lees maar sy ander psalms om duidelik daaragter te kom. Maar, waar dit om gaan, is dit: God staan klaar om te vergewe, as ‘n mens maar sy sondes bely. Hy vergewe onvoorwaardelik! Skuldbelydenis is die een ding waarsonder vergewing nie moontlik is nie.

  • Sonder skuldbelydenis is daar geen vergewing nie, ook al bring iemand hoeveel offers, ook al maak hy hoeveel beloftes. Dieselfde boodskap bring Dawid in Psalm 40:  “U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie.” (vers 7)

    En Psalm 51: “Want U het geen lus in slagoffer nie, anders sou ek dit gee; in brandoffer het U geen behae nie. Die offers van God is ‘n gebroke gees, ‘n gebroke en verslae hart sal U, o God, nie verag nie!” (vers 18-19)

  • Die HERE soek opregtheid

    Die erkenning van die sonde voor God is die weg tot vergewing. 1 Johannes 1:9: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

    Verder is dit ook nie so dat iemand genade in God se oë vind, omdat hy – naas sy sondes – darem ook heelwat goeie dinge gedoen het nie. Ons het al die neiging om so te redeneer. Die Roomses het dit gedoen deur te sê dat goeie werke ‘n deel van jou saligheid verdien. Ons het presies dieselfde neiging. As ‘n bepaalde sondige gewoonte in jou lewe posgevat het, dan redeneer ons: Ja, maar ek gaan darem nog gereeld kerk toe. Ja, maar ek lees darem nog gereeld Bybel. Ja, maar ek is eintlik nie so sleg nie. Hierdie tipe dinge gaan nie die verskil maak nie. God kyk nie daarna nie. Dit is bedrog. Dit is die ou slenter van die duiwel. Selfs kyk God nie na die manier van jou skuldbelydenis nie. Ons stel soms eise aan skuldbelydenis, soos van: daar moet trane wees, of die stemtoon moet reg wees, ensovoorts, ensovoorts. Nou is dit waar dat sulke dinge soms ‘n aanduiding kan wees van opregtheid of onopregtheid. Maar dit verskil ook. Daar is mense wat nie kan huil nie. Daar is mense wat nie baie gevoelig, empaties kan praat nie. Dan is daar ook mense wat lang trane kan huil, en met die mooiste, gevoelvolste en indrukwekkendste woorde tog ‘n onbekeerde hart kan wegsteek.

    Die HERE soek opregtheid. Hy kyk tot in die hart. Hy wil dat jy openlik en eerlik jou sonde erken. As Dawid skryf: welgeluksalig is die mens in wie se gees geen bedrog is nie, bedoel hy juis dit. Bedrog beteken hier die opsetlike verswyg van sonde en skuld. Of die goedpraat daarvan. Dat jy dit maskeer deur jou goeie dade en eienskappe na vore te skuif. Bedrog is as daar dinge in jou hart is, wat jy nie vir God bely het nie. Maar welgeluksalig is jy, as jy dit alles bely het. Dan kom die oplugting.

    Die ervaring van oplugting om deur God vergewe te wees, sal jou vanself na die tempel dryf, om daar, nou met ‘n skoon hart en rein gewete, in dankbaarheid en opregtheid jou offers te bring. Soos ons sing in Psalm 116: “Ek sal U ‘n offer van danksegging bring ... Ek sal my geloftes aan die HERE betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk.” (vers 17-18)

    Psalm 32 was kerkvader Augustinus se lieflingspsalm. Hy het geassosieer met wat Dawid skryf. Augustinus het, net soos Dawid, ‘n verre van onbesproke lewe gehad. Maar in hierdie Psalm het die weldadige boodskap tot hom gekom dat God uit vrye genade vergewe. Sonder skuldbelydenis is daar geen vergewing nie. Maar na skuldbelydenis is daar volmaakte vergewing, en kan nie meer met sy vinger na jou wys nie. Dan is die skuld ook heeltemal weg. Wat jy ook gedoen het, jy is dan bevry. Christus is die alfa en omega van jou vergewing.

    Dis belangrik om te besef dat woorde soos die vrome, opregte, of regverdige in hierdie psalm nie dui op iemand wat sondeloos of volmaak is nie.Dis nie wat Dawid bedoel nie. Maar om vroom te wees, opreg, regverdig, dis iemand wat ten spyte van die feit dat hy sondig, wel sy sondes bely. ‘n Regverdige, ‘n opregte, is iemand wat sy hart voor God oopmaak en sy skuld bely.

  • Die HERE maak jou gelukkig, ja welgeluksalig

    In die eerste deel van hierdie psalm getuig Dawid wat die wonder van vergewing in sy eie lewe gedoen het. Hy omskryf aan die begin van die Psalm hierdie wonder van vergewing met drie verskillende woorde: vergewe – bedek – nie toereken. Drie sinonieme wat die wonder belig.

    En dan, in die tweede deel, vanaf vers 8, voeg Dawid nog ‘n onderwysing toe. Weer gebruik hy drie sinonieme: onderrig – leer – raad gee (vers 8). Dit is die doel van sy lied. Die Heilige Gees span hom in om elkeen van ons te onderrig. Soos daar ook bo aan die psalm staan: dis ‘n onderwysing, ‘n leerdig.

    Wees nie soos ‘n perd, ‘n muilesel, sonder verstand nie. Wat mens moet tem met toom en teuel. Ons kry nie meer in elke dag se lewe met perde en donkies te make nie. Vroeër was dit anders. Perde, donkies, muilesels, was deel van die alledaagse lewe. En veral ‘n muil het bekend gestaan as ‘n koppige dier. Om ‘n perd of muilesel mak te maak, te tem, het nie in een dag gebeur nie. En reeds getem, het dit nog steeds gebeur dat so ‘n dier ‘n afdag kon hê, en net nie wou saamwerk nie. Net halstarrig was. Met hierdie beeld maak Dawid sy onderrig aanskoulik. Dit boodskap is duidelik: vertrou op die HERE, laat jou gewillig inspan in sy diens. Dit sal jou gelukkig maak. Om heeltyd te skop teen dit en dat, heeltyd kritiek te hê, heeltyd halstarrig te wees, gaan die lewe vir jou en die om jou baie moeilik maak. Dus, solank daar nog die geleentheid is, solank die HERE tyd van genade skenk, gryp dit aan.

    “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” (Jesaja 55:6-7)

    Dawid sluit sy onderrig af met ‘n sterk stelling, en so is dit: Die goddelose het baie smarte. Maar hy wat op die HERE vertrou, word omring met goedertierenheid. Soos ek al in die verlede genoem het, die woord goedertierenheid kan mens verstaan as ‘n intensiewe vorm van goedheid.Wat ‘n voorreg om so ‘n dubbel goeie lewe te ervaar. Die wonder van vergewing gee jou ‘n goeie lewe, dit maak jou gelukkig, welgeluksalig.

    So roep Dawid ons ten slotte op om bly te wees in die HERE. Weer gebruik hy drie sinonieme, om sy punt by ons te laat indring: wees bly – juig – jubel.  Wees bly in die HERE, juig, jubel, alle opregtes van hart. En ja, saam met Dawid, saam met Paulus en Augustinus, jubel ons vandag nog net so veel in die wonder van vergewing. Want ook vandag, in die 21e eeu waarin ons lewe, maak hierdie wonder van vergewing die lewe mooi, en goed, ja driedubbel goed, goedertieren, welgeluksalig.

    Geliefde gemeente, dit is vandag voorbereiding vir die nagmaal, DV volgende week. V/a 56 van die Kategismus gee ‘n pragtige geleentheid om ons voor te berei. En dieselfde geld vir Psalm 32. Soek die HERE, terwyl Hy te vinde is. Ja, u sal die Here Jesus Christus volgende week vind, as u saam met Hom die nagmaal mag vier. Soek die HERE ook hierdie week. Bely al jou sondes, maak jou hart oop vir Hom, hierdie week. Sodat jy skoon en gereinig aan die nagmaal kom volgende week. Dit is tussen jou en die Here. Ander gemeentelede, die ouderling of dominee kan nie in jou hart kyk nie. Hulle sal nie weet of jy die onderwysing van Psalm 32 hierdie week ter harte geneem het nie. Maar die HERE sal weet. En Hy is te vinde. So laat die wonder van skuldvergifnis hierdie week in jou lewe plaasvind.

    Amen.

     

     

     

     

     

     

Liturgie: 

Votum (Ps 121:1)

Seën

Ps 40:2

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Skriflesing: Psalm 32

Ps 40:3,5

Gebed

Kollekte

Ps 116:7-9

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 21 v/a 56

Preek

Ps 32:1-3

Gebed

Ps 32:4-6

Seën