Die Here Jesus Christus gee die lewe nuwe waarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-05-06
Teks: 
Heidelbergse Kategismus Sondag 13
Preek Inhoud: 

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 13

Soms sien mens dat iemand êrens hier in die Moot ‘n ou vervalle huis koop, waarvan die mure vol krake is, die vensters gebreek, die dak se verf afgebladder, binne is die plafonne gevlek van al die lekkasies, rondom die huis is dit ’n wildernis, die gras is jare laas gesny, orals lê gemors in die tuin rond. Iemand koop so ’n bouvallige huis, en begin dan stadig maar seker alles te herstel. Die krake in die mure verdwyn, die ou lekkende sinkplate word afgehaal en ’n beter dak opgesit, die erf word skoongemaak, die huis word netjies geverf, die gras word gesny, nuwe beddings aangelê, mooi plante geplant, binne kom daar ’n nuwe kombuis, nuwe badkamer, die slaapkamers word reggemaak, ou stink matte word uitgehaal, nuwe matte, of dalk word die ou plankvloer of blokkiesvloer netjies afgeskuur.

En so begin die huis ’n tweede lewe te kry. Dit word aangenaam om daar verby te ry. Die bure slaak ’n sug van verligting. Die onooglike erf is omskep in ’n pragtige tuin. Alles kry nuwe lewe. En dit alles danksy iemand wat kans gesien het om die plekkie op te knap. Wat waardeloos was, en die hele buurt se waarde afgetrek het, word nou ’n begeerlike plek.

Geliefde gemeente, broers en susters, oor die lewe van ’n Christen kan mens eintlik dieselfde sê. Toe jou lewe van eienaar verwissel het,  het mens ineens begin sien hoe ’n bouval weer in sy oorspronklike staat begin herstel word.

Van binne en van buite opgeknap. Miskien kan mens wel sê: eers tot op die grond afgebreek, en daarna opnuut opgebou volgens God se oorspronklike plan. Dit is wat gebeur as Jesus ons loskoop uit die slawerny van die duiwel.

As die Here ons nuwe eienaar word. Dit is waaroor hierdie preek handel.

Tema: Die Here Jesus Christus gee die lewe nuwe waarde

1 Hy is sowel God as ons Broer

2 Hy is ons Here

1 Hy is sowel God as ons Broer

Die Heidelbergse Kategismus is op die oomblik besig om die Apostoliese Geloofsbelydenis te behandel – Sondag 7 tot 22. In die Apostoliese Geloofsbelydenis staan ook dat Jesus die eniggebore Seun van God is. Dit sal vir elke Christen ’n bekende uitdrukking wees. Maar die betekenis is vir baie van ons nie altyd so duidelik nie. Met die woordjie eniggebore word nie verwys na sy geboorte uit Maria nie. Ook word nie daarmee bedoel dat Jesus ooit as ’n God gebore sou geword het nie. Want, dit is duidelik uit die Bybel, die Here Jesus was al daar van ewigheid af. Maar tog vind ons die woord ‘eniggebore’ in die Bybel. Dink maar aan die bekende teks uit Johannes 3:16:

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Dink aan Johannes 1:18: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.”

En 1 Johannes 4:9: “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe.”

As ons hierdie verse in die Bybel bestudeer, blyk dit dat die woord ‘eniggebore’ gebruik word om onderskeid te maak tussen hoe Jesus kind van God is, en hoe ons kinders van God is. Jy kan dus nie uit hierdie woord aflei dat Jesus ooit gebore is as ‘n God nie, dat Jesus dus nie van ewigheid af daar was nie. Hierdie woord word in die Bybel spesifiek gebruik om onderskeid aan te dui tussen ons kindskap en die van Jesus. Ons is ook kinders van God, maar op ’n ander manier as Jesus. Omdat God ons sy kinders noem, beteken nie dat ons onsself nou gode kan noem nie. Maar by Jesus is dit wel so.Hy is self ook God!

Sondag 13 sê: Christus alleen is die ewige, natuurlike Seun van God.

Die Bybel leer ons dat Jesus, net soos die Vader, ewig is. As God ken Hy nie ’n geboortedag of ’n sterwensuur nie. Jesus het dus nie eers begin te bestaan toe Hy uit Maria gebore is nie. Jesus was ’n halwe jaar jonger as Johannes die Doper, maar tog sê die Johannes die Doper oor Hom: “Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek.” (Joh 1:15)

Of soos Jesus later self gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.” (Joh 8:58)

Dit kan Jesus sê omdat Hy net soos sy Vader bestaan van ewigheid tot ewigheid. Deur Hom, sê die evangelis Johannes, is die wêreld geskape.

Uit heel die Bybel spreek die Godheid van Jesus. Ons het een hoofstuk gelees: Matthëus 28.Ook uit hierdie hoofstuk blyk Jesus se Godheid. Alleen al uit die feit dat die Maria’s voor Hom gekniel en Hom aanbid het. Jesus het hulle nie verbied om dit te doen nie. Want Hy is self God.

Dit was trouens ook die rede hoekom die Joodse Raad Hom veroordeel het.

Dat Hy gedurf het om Homself aan God gelyk te stel. Hy kom gewoon Goddelike eer toe. En deur die hele Nuwe Testament sien ons dat aan die Here Jesus Goddelike eer bewys word. As mense Hom as God aanbid het, het Hy hulle nie verhinder nie. Hy het reg daarop, in teenstelling tot die apostels.

Dink aan Petrus se reaksie toe die Romeinse man Cornelius biddend voor hom neergeval het. Petrus het toe gereageer: Staan op, ek is self ook maar ’n mens!

Maar so het Jesus nie gereageer, as mense biddend voor Hom neergeval het nie. Hy is die eniggebore Seun van God.  Dus self God. Hy kom Goddelike eerbewys toe. Want aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.

Soos Hy dit self gesê het in Mattheüs 28.

Gemeente, mens sou verwag dat Jesus, na sy lewe van vernedering op aarde – Hy het toe sy Goddelike heerlikheid verberg, Hy het heeltemaal een geword met hierdie ellendige wêreld – mens sou verwag dat Hy nou, na sy opstanding, noudat Hy straal van heerlikheid, dat Hy Homself ver bo die mense sou verhef.

Tog was dit nie die geval nie. In Mattheüs 28:10 sê Hy vir die Maria’s:

“Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.”

Jesus noem sy dissipels, wat net soos ons gewone mense was, sy broers. Hy, wat nou met ’n verheerlikte liggaam uit die dood opgestaan het, noem nog steeds ons sondige sterflike mense sy broers en susters. Hy skaam Hom nie vir ons nie. Dit is juis danksy sy betrokkenheid, dit wat Hy gedoen het, dat ons nou ook kinders van God genoem word. Sondag 13 sê:

Ons is om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem.

So is dit dan dat Hy aan die een kant ver bo ons verhewe is, Hy is God. Maar aan die ander kant staan Hy langs ons as ’n Broer. Ons kan dit nie begryp, hoe dit in een persoon gekombineer kan word nie. Die Bybel noem dit die geheimenis van Christus. Hy wat in die gestalte van God was, het nie daaraan bly vasklamp nie. Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem. Hy het ’n mens geword.  Hy het Homself verneder (Fil 2:6-8).

Dit is die geheimenis – hierdie gesindheid van Jesus. Ons kan dit nie verklaar nie, hoe Hy SO goed vir ons kon gewees het. Ek kan Hom maar net aanbid en dankie sê, en my lewe in sy hande lê.

En dit bring ons by die tweede punt van die preek. Ek lê my lewe in sy hande.

Want Hy is my Here.

(Tema: Die Here Jesus Christus gee die lewe nuwe waarde

1 Hy is sowel God as ons Broer)

2       Hy is ons Here

Toe Thomas kort na Jesus se opstanding uitroep: my Here en my God (Joh 20:28), was dit uit en uit ‘n geloofsbelydenis. Hieruit het sy vertroue gegalm.

Want as jy vir Jesus sou sê: my God; dan het jy volgens die wetgewing van die Joodse Raad iets gedoen wat die doodstraf verdien. En wat daar dan nog bykom: As jy vir Jesus sou sê: my Here, dan het jy ook iets gedoen wat die doodstraf verdien. Hierdie keer volgens die wette van die Romeine. Niemand mog homself gelykstel aan die keiser nie.Die keiser se titel was: Here – in Grieks: Kurios. Thomas het sommer altwee gesê. My God – teen die seer been van die Jode. En: my Here – teen die seer been van die Romeine.

Hy het hom nou nie meer geskaam nie. Hy het gewoon gewéét dat dit waar is.

Hy’t homself nou eerder geskaam oor sy kleingeloof tot dan toe. Van nou af sou Hy vir Jesus volg, as sy God en sy Here.

Ja gemeente, Jesus is, net soos vir Thomas, ook u en my Here. Sondag 13 vra wat dit beteken. Die kern van die feit dat iemand die Here is, kom daarop neer dat Hy eiendomsreg het. ‘Hy het ons tot sy eiendom gemaak.’ En dan kan ons weer terugdink aan die bouvallige huis wat deur iemand opgekoop is, om dit te renoveer. So, sê Sondag 13, het Christus ons met liggaam en siel, nie met goud of silwer, maar met sy kosbare bloed van al ons sondes vrygekoop en uit alle mag van die duiwel verlos. Voortaan is Hy die Eienaar van ons lewe.

Die duiwel en die sonde het nie meer seggenskap in jou lewe nie, maar Hy.

En hierdie verwisseling van eienaar kom mens baie duidelik agter. Die hele buurt sien dit onmiddelik. Hierdie huis word grondig aangepak. En so doen die Here dit ook met jou. Wie die eiendom van die Here Jesus word, KAN NIE DIESELFDE BLY NIE. DIT IS ONMOONTLIK.Hy verander jou.

In die Bybel lees ons dikwels oor ’n transaksie. Ja dit word dikwels voorgestel as ’n koopaksie. Dat die Here jou tot sy eiendom gemaak het.Dink aan 1 Petrus 1:18-19: “dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus”. Dink ook aan 1 Timotheüs 2:6, waar van Christus gesê word dat Hy “Homself gegee het as ’n losprys vir almal”.

En in 1 Korinthiërs 6:20 staan: “Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam”.

Steeds word die beeld gebruik van ’n transaksie. Mens wonder soms hoe iemand bereid kan wees om tog nog ’n klomp geld te betaal vir ’n bouval van ’n huis. Hy moet skynbaar potensiaal in die ding sien. Nog meer wonder mens wat die Here Jesus beweeg het om nie net met geld nie, maar selfs met sy eie lewe ons te koop.Die hoogste bod!Hy’t ons opgekoop.

Ons was – laat ons eerlik wees – niks meer werd nie. Die duiwel en die sonde het ons gestroop van alle skoonheid, alle kwaliteit. Ons was ’n ruïne.Van die oorspronklike bouplan van die Skepper het bitter weinig oorgebly. Maar vir ons om volledig onbegrypelike redes – inderdaad ’n geheimenis – het Hy homself met ons begin bemoei. Hy het ons opgekoop. Hy het ons sy Gees gegee, wat nou in ons woon.Sy Gees is nou besig om hierdie bouvallige huis te renoveer. Dit word herskape om ’n tempel te word. En so is ons Eienaar, ons Here, besig met ons. Wat ’n voorreg.

Dat Jesus Christus Here is, blyk ook uit die hoofstuk wat ons gelees het.

Soos ek al genoem het, is die titel ‘Here’ / Kurios in daardie tyd gebruik deur die Romeine om hulle keiser aan te spreek. Die keiser het homself voorgedoen as maghebber van die aarde.Maar uit Mattheüs 28 blyk dat Jesus die Heer van alle Here is, die Heer bo almal. Hy het opgestaan uit die dood. Dit was iets waarvan die Romeinse keiser maar net kon droom. Al die magtige keisers in Rome het die een na die ander gesterf. Hulle was die dood nie die baas nie.

Maar Christus is ook Heer oor die dood. Die dood kon Hom nie vashou nie.

Hy het opgestaan met groot gesag. Daarvan getuig Hy self, voor sy hemelvaart:

Aan My is gegee alle mag in hemel en op aarde. Jesus noem dit bewus ter bemoediging van sy dissipels. Want Hy gee hulle die opdrag om die Evangelie te gaan versprei, die bekende sendingsbevel, Mattheüs 28:19. Maar eers bemoedig Hy hulle. As julle heengaan, om alle volke tot my dissipels te maak, besef dan, alle volke is in elk geval my eiendom. Jy hoef vir niemand bang te wees nie, alle mense is in my hand! Ek is Here van hierdie aarde.

Dat Jesus Here is, blyk ook nog op ’n ander plek uit hierdie hoofstuk. Dan wil ek u aandag vestig op vers 2.Hier word gepraat oor ‘n “engel van die Here”.

Met ‘Here’ word hier bedoel God almagtig. In die hemel word Hy omring deur ’n menigte engele, wat Hy kan uitstuur op sy bevel. En dan bietjie verder in vers 6 lees ons die berig van die engel:

“Hy [Jesus] is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het.”

Dis baie opvallend. Enkele verse na mekaar word dieselfde woord – Here (Kurios) – gebruik vir sowel God as vir die Here Jesus. Dalk vind jy dit nie so vreemd nie, want jy het die hele Nuwe Testament, dis vir jou gewoon, vanselfsprekend. Maar dit bly ’n wonder, en daarom wys ek u daarop. Jesus is Heer van die heelal. En selfs die dood is aan Hom onderworpe. Niks gaan bo sy heerskappy uit nie.Hy is ook jou Here. Bely daarom, net soos Thomas, sy Heer-skappy in jou lewe! Moenie skop teen sy heerskappy nie. Hy is Baas oor jou lewe, jou liggaam, jou huis, jou kar, jou beursie, jou belegging. Hy is Baas.

Wat jy met jou eie liggaam doen, met jou hande, jou voete, jou vingers, tone, kop, organe,  wat jy doen met jou geld, jou tyd,  in alles het Hy die laaste woord. Moenie dink, op Sondag doen ek wat Jesus wil. Deur die week gaan ek my eie gang. Jesus is Here van jou hele bestaan. Gelukkig.

Hy, wat sowel jou God, jou Broer, jou Here is.Hy gee jou nuwe kwaliteit van lewe. Hy gee jou lewe nuwe waarde. Ewigheidswaarde.

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 27:6

Gebed

Skriflesing: Mattheüs 28

Sb 34:1,3

Teks: Heidelbergse Kategismus Sondag 13

Preek

Sb 43:1,5

Gebed

Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 72:6-8

Seën