Voorwaar, voorwaar, wie luister na die stem van die Seun van God, sal lewe!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2018-04-22
Teks: 
Johannes 5:24-29
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 5:24-29

Die afgelope twee maande het ek verskeie kere uit die Johannesevangelie gepreek. Ek het gefokus op daardie gedeeltes waar ons die uitspraak van Jesus “Voorwaar, voorwaar” vind. In totaal staan hierdie uitspraak, hierdie dubbele amen 25 keer in die Johannesevangelie. Dit is gemiddeld meer as een keer per hoofstuk. Hierdie uitspraak van ons Heiland het ‘n diep betekenis, dit het ons inderdaad in die preke van die afgelope weke gesien. Ook in ons teks vir vandag vind ons die dubbele amen weer terug. Ons gaan vandag weer luister na hoekom Jesus, toe Hy in debat was met die Jode, met sy verbondsvolk, so uitdruklik sy woorde onderstreep het met hierdie dubbele amen. En ons gaan hoor watter vertroosting dit inhou vir ons, die feit dat Jesus so stellig gepraat het.

Tema: Voorwaar, voorwaar, wie luister na die stem van die Seun van God, sal lewe!

  • ‘n oproep aan die siek man te Betesda
  • ‘n oproep aan die hele Joodse volk
  • ‘n oproep aan ons vandag
  • ‘n oproep aan die siek man te Betesda

    Hierdie hoofstuk begin met die geskiedenis van die man wat al 38 jaar lank siek was. Hy het by die bad van Betesda gelê. Dit was by die Skaapspoort in Jerusalem, binne loopafstand vanaf die tempelplein. Die betekenis van die naam Betesda hang af vanaf watter Hebreeuse woord dit kom. Sommiges beweer dat dit vanaf die Hebreeuse Bet Esjda kom – wat beteken: huis van uitstorting, huis van uitstroming. Ander beweer dat dit vanaf die Hebreeuse Bet Chesda kom – wat beteken: huis van barmhartigheid.

    In elk geval, daar het ‘n groot menigte siekes, blindes, kreupeles en lammes gelê. Uit opgrawings kan afgelei word dat hierdie bad, hierdie poele, behoorlik groot was. Mens moet ongeveer dink aan die grootte van ‘n sokkerveld. Dosyne en dosyne siekes het hier gelê of gesit en wag dat die engel op bepaalde tye die water roer. Die badwater van Betesda was geneeskragtig.

    Van tyd tot tyd het God sy engel gestuur om die badwater in beroering te bring, waardeur dit genesende krag gekry het. Die een wat eerste ingegaan het na die roering, het gesond geword, aan watter siekte hy ook gely het.

    Tussen hakies, as u in die nuwe vertaling – die 1983-vertaling – lees, sal u sien dat verse 3b en 4 nie daarin voorkom nie. Die deel oor die engel is dus daar weggelaat. Die rede is dat die oorspronklike Griekse manuskripte wat by die Nuwe Vertaling gebruik is, nie hierdie gedeelte bevat nie. Die manuskripte wat egter ten grondslag lê aan die Ou Vertaling, en wat deur die eeue deur die kerk bewaar is, bevat hierdie gedeelte wel. Beide lesings gaan terug op baie ou manuskripte. Dit is nie maklik om vandag te bepaal watter tekstradisie die oorspronklike handskrif akkuraat weergegee het nie. As mens egter die reëls van die studie van teksoorlewering toepas, is dit meer waarskynlik dat die manuskripte wat ten grondslag lê aan die Ou Vertaling, wat hierdie verse betref, die betroubaarste is.

    Wat hier geskryf staan oor die aktiwiteit van ‘n engel, kom in ons tyd dalk raar voor. Ons sekulêre tyd is nie meer gewoond daaraan om oor engele te praat, en met hulle aktiwiteite rekening te hou nie. In daardie tyd was dit by die mense wel die geval, hoewel dit toe ook nie onomstrede was nie. Ons weet uit die Nuwe Testament dat die Sadduseërs byvoorbeeld nie in die bestaan van engele geglo het nie.

    Nou wat presies die aard van die badwater in Betesda was, word nie nader vermeld nie. Of Betesda ‘n lewendige bron was, waar van tyd tot tyd lewendige mineraalwater uit die grond opgeborrel het, met geneeskragtige eienskappe, ons weet nie. Of so ‘n natuurkundige verklaring gekombineer kan word met die feit dat ‘n engel hier aktief was, ook daaroor sê hierdie vers nie genoeg nie. Dit help dan ook nie om verder daaroor te spekuleer nie. Feit is dat hierdie ‘n kuuroord net buite die poorte van Jerusalem geleë was, en dat dosyne en dosyne siekes daar gelê het.

    En toe Jesus, wat vir een van die Joodse feeste in Jerusalem was, vir die 38 jaar lange sieke ontmoet, het Hy hom gevra:Wil jy gesond word?

    Die man het toe geantwoord dat daar niemand was wat hom betyds in die bad kon sit nie.Die man was seker een van die skrynendste gevalle daar by die bad.

    Daar staan nie watter siekte hy gehad het nie, maar sy eie bene kon hom in elk geval nie dra nie, en daar was ook niemand wat bereid was om hom te help nie. Jesus het toe met ‘n enkele bevel hom genees:

    Staan op, neem jou bed op en loop.

    Die woord hier vir bed kan dalk beter vertaal word as slaapmatjie. So het die Here Jesus ‘n genesingswonder aan hierdie man verrig.‘n Wonder wat ver uitstyg bo die wonderwaters van Betesda!

    Maar, en daaraan skenk die evangelis Johannes ekstra aandag: dit het alles op ‘n sabbat gebeur. Die Joodse outoriteite het die man spoedig aangekeer toe hulle hom sy bed – sy slaapmat – sien dra, en hom daarop aangespreek. Die dra van enige laste was volgens hulle regulasies nie op sabbat geoorloof nie.

    Toe die man vertel dat die persoon wat hom genees het, gesê het dat hy sy bed moet opneem en loop, wou die Jode natuurlik dadelik weet wie hierdie man was. Hoe kon hy op ‘n sabbat hierdie opdrag gegee het? Die man het egter nie geweet wie dit was nie.Maar na ‘n rukkie het Jesus die man weer in die tempel gekry. Daar het Hy die man opgeroep: kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie. Die man het toe aan die Jode gaan vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het.

    Gemeente, die reaksie van hierdie man was nogal anders as die reaksie van die blindgebore man. Dalk onthou u, laasweek Sondagaand het ons aan hom aandag geskenk (Joh 9-10). Hoe Jesus ‘n man, wat blind gebore was, genees het. Hoe hierdie man toe vir Jesus bely het en Hom begin volg het. En hoe die Jode hom toe uit die sinagoge geban het.

    Maar by die siek man van Betesda sien ons ‘n ander reaksie. Hy het aan die Jode gaan vertel dat dit Jesus was, hy het Hom as’t ware weggegee. Ons lees niks van dankbaarheid by hierdie man nie. Ons lees niks van ‘n bereidheid om Jesus te volg nie. Geen wonder dat Jesus hom, toe Hy hom weer sien, opgeroep het: moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie (vers 14)!

    Om ondankbaar te wees, al is jy liggaamlik blakend gesond, is erger as om vir 38 jaar gestremd op ‘n slaapmatjie te lê. Die wonderteken wat Jesus aan hom verrig het, moet hom juis aanspoor om Jesus te bely, om Hom te volg. Nie om Hom by die Jode te gaan aangee nie. Die wonderteken wat hy mog ervaar, was nie die einde van Jesus se bemoeienis met hom nie. Jesus het meer vir hom te biede gehad! Voorwaar, voorwaar, as jy na sy stem luister, as jy erken dat Hy die Seun van God is, sal jy lewe, al het jy ook gesterwe!

    Sy genesing was nog maar die begin. As hy voortaan Jesus volg, sou hy nog veel groter dinge beleef! Tot sover die eerste punt van die preek.

    Voorwaar, voorwaar, wie luister na die stem vand die Seun van God, sal lewe!

    Dit was in die eerste plek ‘n oproep aan hierdie siek man van Betesda.

    Maar nou, in die tweede plek, dit is ook:

  • ‘n oproep aan die hele Joodse volk

    Hierdie episode, die genesing van die siek man te Betesda, het aanleiding gegee tot ‘n intensiewe gesprek tussen Jesus en die Jode. Meer gereeld sien ons hierdie volgorde. Jesus verrig ‘n wonder in die openbaar, dit trek baie mense se aandag. En as Hy dan hulle aandag het, begin Hy met sy onderrig.

    Die evangelis Johannes het die onderrig hier opgeskryf. As mens deur die Johannesevangelie lees, sien mens hoe hy in detail al die debatte tussen Jesus en die Jode, die Skrifgeleerdes, Fariseërs en owerpriesters opgeskryf het.

    Dit is ‘n seleksie uit Christus se prediking aan die verbondsvolk, gedurende die drie jaar van sy ampsperiode op aarde. Ook in die prediking in hoofstuk 5 vind ons by herhaling Jesus se uitspraak voorwaar, voorwaar! terug.

    Die dubbele amen. Hiermee onderstreep Hy sy onderrig, naamlik: Hy en die Vader is een. Wie die Seun eer, eer die Vader. Wie sy woord hoor, glo Hom wat Hom gestuur het. Soos die Vader lewe het in Homself, so het die Seun dit ook.

    Jesus se optrede is as provoserend ervaar deur die Jode. Hulle was van plan om Hom as sabbatskender om die lewe te bring. Maar ook Jesus se woorde word as provoserend deur die Jode ervaar. Die feit dat Hy God sy eie Vader noem. Daaruit het duidelik geblyk dat Hy Homself aan God gelykstel. Volgens die Jode was dit ‘n doodsonde.

    Hierdie was, gemeente, natuurlik die kern van die geskil wat God met sy volk gehad het. Is die geestelike leiers van die volk bereid om God se eie stem in Jesus te herken, te erken? Of blokkeer al hulle wettisistiese sabbatsreëls hulle, noudat Jesus hulle teruglei na die Vader se eintlike bedoeling met die vierde gebod. Soos Calvyn oor hierdie gedeelte skryf, dis nie dat Christus hier betoog dat die onderhouding van die sabbat net ‘n tydelike saak was, net tot die Ou Testament behoort het nie. Christus skaf nie die vierde gebod af nie, maar wel al die reëltjies wat die Fariseërs gemaak het. Christus stof die vierde gebod af, en wys weer op die doel van hierdie gebod. Naamlik om goed te doen. Hy genees ‘n sieke. En nou kon die man sy slaapmatjie optel, en vergoed Betesda verlaat, ‘n deprimerende plek waar dosyne en dosyne siekes en gestremdes gelê het.

    In ons teks profeteer Christus oor die vrug wat sy Middelaarswerk. Sy ampswerk op aarde sal vrug dra! Dit wat Hy sê, dat Hy en die Vader een is, sal steeds meer uit sy werke blyk. Groter dinge as hierdie genesing by Betesda gaan hulle nog te sien kry. Daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor. En sal uitgaan! In die eerste plek dui Christus hier op die opwekking van dooies, juis in daardie tyd toe Hy op aarde was. Dink aan die dogtertjie van Jaïrus. Dink aan die seun van die weduwee van Naïn. Dink aan Lasarus. Met ‘n kragtige stem het Hy hulle uit die dood teruggeroep.

    Maar in die tweede plek verwys Christus profeties ook al na die oordeelsdag.

    Dan sal almal wat begrawe is, sy stem hoor. Sy stem sal tot in die grafte deurdring. En die dooies sal opstaan, tot die lewe of tot die oordeel. Hierdie opstanding sal vir die wat goed gedoen het, ‘n opstanding wees tot die ewige lewe. Maar vir die wat kwaad gedoen het, ‘n opstandig tot veroordeling. Jesus se woorde gaan terug op die profesie van Daniël.

    Daniël 12:2: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”

    Ook die feit dat Jesus Homself in ons teks “Seun van die mens” noem, gaan terug op die profesie van Daniël. Aan die Seun van die mens is gegee “heerskappy en eer en koningskap, en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (Dan 7:13-14)

    Christus pas hierdie profesie van Daniël op Homself toe. Hy noem Homself in ons teks Seun van die Mens sowel as Seun van God.

    Hieruit blyk pragtig sy Middelaarsposisie.

    Hulle wat gelowig na die Vader en sy Seun luister, sal oorgaan uit die dood in die lewe. Die Regter op die oordeelsdag sal tegelyk hulle Redder wees. Hulle hoef nie bang te wees vir die oordeel nie.

    Christus se uitspraak in vers 29, die wat goed gedoen het, sal opstaan tot die lewe, klink vir ons dalk Arminiaans in die ore. Calvyn skryf hieroor: dit gaan hier nie oor die oorsaak van ons redding nie.Christus sê dit so om die uitverkorenes aan te moedig tot ‘n heilige en toegewyde lewe. Ons ontken nie dat dit die geloof is wat regverdig maak nie. Maar hierdie geloof moet gepaard gaan met ‘n opregte begeerte om goed en regverdig te lewe. Wat Calvyn doen, is om Christus se woorde hier in die konteks van sy algehele onderrig uit te lê.

    Mens mag nie net ‘n enkele woord of sinsnede neem en dit uit sy verband uit ruk nie.

    Die Vader het aan die Seun mag gegee. Hy het die mag, die krag, om die lewe uit die dood terug te roep. Net soos die Vader is die Seun die bron van lewe.

    Die Vader het aan die Seun mag gegee om te oordeel. Mag kan ook vertaal word met: bevoegdheid.

    In hierdie gesprek, gemeente, en dit geld ook vir die verdere groot debatte wat ons in die Johannesevangelie vind, lei Christus die hoorders om sy woorde te aanvaar. Dit is woorde wat direk van die Vader kom. En Hy dring die volk om dit te erken. Hy het ‘n driedubbele getuienis agter Hom. Johannes die Doper getuig van Hom. Sy eie wondertekens getuig. En die Skrif self, Moses (vers 46), getuig van Hom.

    Op die getuienis van twee of drie sal ‘n saak vasstaan (Deut 19:15).

    Dit staan dus vas dat Hy gekom het in die Naam van sy Vader. Hy is die Seun van God. Hy en die Vader is een. Hulle woorde is dieselfde. Hulle dade is dieselfde. Nog nooit het die Vader so naby, so tussen sy volk gekom, as nou in sy Seun nie. Daarby vergeleke steek die optrede van die engel te Betesda maar flou af. Hy bring groter werke!

    Christus het ‘n wonder verrig by Betesda, aan ‘n man wat al 38 jaar siek was.

    Hierdie man staan eintlik simbool vir God se hele verbondsvolk. Hulle wat vir eeue in duisternis gesit het, oor hulle het ‘n groot lig opgegaan. God se Seun het gekom en Hy het vele wondertekens onder hulle verrig. Daarmee het Hy hulle geprikkel, opgeroep om sy woorde te glo, sy gesag te erken. Die man van Betesda het egter nie. Daarom het Jesus hom vermaan: moenie verder sondig nie. Net so vermaan Jesus sy volk: erken die wondertekens, erken my bevoegdheid, glo dat Ek van die Vader kom, moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers gebeur nie. Ook hierdie woorde was profeties.

    Want daardie deel van die Joodse volk wat aangehou het om Hom te verwerp, oor hulle het inderdaad iets ergers gekom. Na sy genadetyd het die Vader sy oordeel oor hulle gestort, toe Hy stad en tempel deur die Romeine laat verwoes het. Maar die gelowige res uit sy volk, wat Christus begin bely het as God se Seun, hulle het die oordeel betyds sien aankom. Hulle het, soos Christus hulle gewaarsku het, die stad betyds verlaat. Hulle het, soos ‘n Lot van ouds, aan die oordeel ontsnap. Hulle wat gehoor gegee het aan Jesus se herhaalde oproep: voorwaar, voorwaar!

    Hulle wat besef het hierdie dubbele amen waarborg sy Goddelike afkoms.

    (Tema: Voorwaar, voorwaar, wie luister na die stem van die Seun van God, sal lewe!

  • ‘n oproep aan die siek man te Betesda
  • ‘n oproep aan die hele Joodse volk)
  • ‘n oproep aan ons vandag

    Geliefde gemeente, ons het nou al vir ‘n hele aantal weke aandag geskenk aan die Evangelie volgens Johannes. Ek het telkens gedeeltes uit hierdie Evangelie gekies waar die uitspraak van Jesus “Voorwaar, voorwaar” terugkom.

    Amen, amen.

    Hierdie uitspaak het alles te make met die hoofdoel van die Johannesevangelie. Sy hoofdoel was naamlik om die volk te oortuig dat Christus inderdaad die Seun van God is. Dat sy woorde wat Hy kom bring het, inderdaad regstreeks die woorde van die hemelse Vader is. En met sy dubbele amen het Christus, keer op keer, die volk opgeroep om dit te erken. Om hierdie feit, wat toe so omstrede was – toe al daardie debatte plaasgevind het wat ons in die Johannesevangelie lees, om dit tog gelowig te erken.

    So was dit die oproep tot die volk, keer op keer, debat na debat, om God hulle Vader te soek deur sy Seun. Om die bevoegdheid, die mag, wat die Vader aan Christus gegee het, te erken. Om die Vader te aanbid deur Christus. Want, soos Jesus dit verwoord, wie die Seun nie eer nie, eer ook nie die Vader nie.

    Ons sal nooit die ware God vind, behalwe deur Christus nie. Hierdie is dus die kernboodskap van die Johannesevangelie. Johannes herhaal dit aan die einde van sy Evangelie:

    “Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe [waaronder dus ook die teken wat geskied het aan die siek man te Betesda], dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.” (Joh 20:30-31)

    So roep die Johannesevangelie vandag ook vir jou op: Laat ons voor die Seun kniel, laat ons sy voete kus (Ps 2). Laat ons aan Jesus Christus Goddelike eer bewys, want Hy is die Seun van God. Hy en die Vader is een. Hy gee ewige lewe. In Hom is die fontein van lewe (Ps 36:9).

    Die Johannesevangelie openbaar aan ons die epiese poging wat die Vader onderneem het om sy volk te red. Hy het sy eie, sy enigste Seun, daarvoor opgeoffer. Die Seun het sy Middelaarswerk suksesvol volbring. En almal uit sy volk wat die Vader aan Hom toevertrou het, het Hy gered. En ook die ander skape uit ‘n ander stal, dis nou ons vandag, wat die Vader aan Hom toevertrou het, sal Hy red!

    Vandag kan ons steeds leer uit die Johannesevangelie. Christus is die enigste weg na die Vader. Dit is die blywende boodskap van hierdie Evangelie vir alle tye. Dit is Christus of niks. Moenie ooit toelaat dat ander groot name langs die van ons Heiland en Saligmaker geplaas word nie. Mohammed, Buddha, Confucius, watter heilige, voorvader of godsdienstige leier ook, hulle is almal slegs mense, wat gesterf het en nog steeds in die graf lê. Maar Christus is die Seun van God. Hy lê nie meer in die graf nie. Hy het opgestaan, Hy lewe, Hy troon in die hemel, Hy regeer oor die eindes van die aarde, Hy regeer tot die einde van die tyd.

    Almal wat in geloof aan Hom vashou, sal in die toekoms sy stem hoor, en sal opstaan tot die ewige lewe. Glo jy dit?

    Ja deur sy Gees, voel ons nou al die kragte van die ewige lewe in ons werk.

    Voorwaar, voorwaar, wie luister na die stem van die Seun van God, sal lewe!

    Amen.

     

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 42:1,7

Wet

Ps 31:10,11,19

Gebed

Skriflesing: Johannes 5

Ps 30:2,3

Teks: Johannes 5:24-25

Preek

Ps 36:2,3

Gebed

Kollekte

Ps 2:6

Seën