Liefde en waarheid behoort bymekaar

Predikant: 
Ds E L van 't Foort
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-10-01
Teks: 
3 Johannes
Preek Inhoud: 

Gemeente van ons Here Jesus Christus Hierdie klein briefie is geskrywe deur ‘die oudste’. Daar is geen twyfel dat hierdie ‘oudste’ die apostel Johannes is nie. Hierdie brief gaan soos sy twee vorige briewe oor die liefde en oor die waarheid. Tog is daar ‘n opvallende verskil: die eerste twee briewe van Johannes is aan gemeentes geskrywe, maar hierdie derde brief is aan een lidmaat gerig, aan Gajus. As jy die brief van Johannes aan Gajus lees, kom jy al gou agter dat die gemeente waarvan Gajus ‘n lidmaat is, geen ideale gemeente is nie. O nee, daar is geen sprake van dwaalleer soos in die vorige brief van Johannes nie, maar daar is ‘n ander probleem wat Johannes ontstel: daar is ‘n ouderling met die naam Diotrefes, wat heersugtig optree. Die lidmate wat eerder aan Christus as aan hom wil gehoorsaam wees, word selfs uit die gemeente weggeja! Dit gaan Diotrefes nie oor die welsyn van die gemeente nie, maar oor sy eie magsposisie. ‘n Ou probleem wat telkens weer kop uitsteek. Ek het eendag ‘n beriggie gelees oor ‘n gereformeerde kerk in die hoofstad van Benin aan die Afrikaanse weskus. Die predikant van die jong gemeente daar het ook alle mag na hom toegetrek. Die gemeente het daarteen geprotesteer en die gevolg was dat die predikant hom aan die gemeente onttrek het. Die gemeente was ‘n tydlang sonder ‘n dominee, maar dit is beter as met ‘n dominee wat oor die gemeente heers. Daarom het ons kerke al eeue lank die afspraak dat “geen kerk oor ander kerke, en geen ampsdraer oor ander ampsdraers, op watter manier ook al mag heers nie” (Art.83 KO). Wel, die magsug van Diotrefes was vir Johannes die rede hoekom hy hierdie brief vir Gajus skryf. Johannes kan nie maar net toesien dat die gemeente van Christus verwoes word as gevolg van een heersugtige man nie. Om die gemeente te behou, skryf hy vir Gajus ‘n brief om hom in waarheid en liefde te ondersteun. Die boodskap van hierdie brief kan op die volgende manier opgesom word: Liefde en waarheid behoort bymekaar I. So het dit in Jesus Christus vorm gekry II. So moet dit ook in die gemeente van Christus vorm kry Dit blyk uit: -1) ons liefde vir mekaar (vs.1) -2) ons gebed vir mekaar (vs.2) -3) ons blydskap met mekaar (vs.3) -4) ons praktiese lewenswandel (vs.3-6) -5) ons onderlinge hulpbetoon (vs.6,8) -6) ons evangelisasie- en sendingwerk (vs.7-8) -7) ons onderlinge vermaan (vs.9vv) -8) ons belangstelling vir ander (vs.15) Broers en susters, seuns en dogters I. Liefde en waarheid het in Christus vorm gekry. Johannes skryf ‘n baie persoonlike brief. Daar is twee woorde wat in hierdie brief opval: die woorde “liefde” en “waarheid”. Wel, as daar een man op die aarde was wat geweet het wat liefde is, dan was dit sekerlik Johannes. Hy word in die Bybel die “apostel van die liefde” genoem. Daarmee word bedoel dat hy in besondere mate en op besondere wyse die liefde van die Here Jesus ontvang het. Ja, Johannes het dit ook geweet en daarom noem hy homself in die Johannesevangelie telkens “die dissipel wat Jesus liefgehad het”. Maar die liefde van Jesus staan nooit op sigself nie. Sy liefde is altyd een met die waarheid. Liefde sonder waarheid is geen liefde nie. En waarheid sonder liefde is geen waarheid nie. Waarheid en liefde behoort bymekaar. ‘n Man en ‘n vrou wat met mekaar getroud is, weet dit maar al te goed. Liefde beteken niks as daar geen trou, geen waarheid in hulle verhouding is nie. Maar as ‘n man en ‘n vrou bymekaar bly net omdat hulle hulle woord vir mekaar gegee het terwyl daar geen liefde is nie, dan is hulle ook nie gelukkig nie. Nee, ‘n gelukkige verhouding is slegs daar waar liefde en trou, liefde en waarheid saamgaan. Johannes skryf daarom baie oor die “waarheid”. Hy noem daardie woord wel 25 maal in sy geskrifte. In hierdie klein briefie noem hy dit 6 maal. By Johannes kom die waarheid van God. Want Jesus Christus is die waarheid. Hy skryf oor die Gees van die waarheid. En ook die Woord is die waarheid. Maar daar is ook geen ander wat so indringend oor die liefde geskryf het nie. Sy briewe staan vol daarvan dat God liefde is. En ons kan met reg sê dat Joh. 3:16 die bekendste teks uit die Bybel is: “Want so lief het God die wLreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag nie, maar die ewige lewe het”. Die grootste gebrek van die sondige mens is dat hy geen liefde en waarheid ken nie. Die duiwel het hom in sy wêreld van liefdeloosheid en leuen ingesleep. Maar Christus het gekom om weer opregte liefde en volle waarheid in die wêreld te bring. Ja, Christus Self is liefde en waarheid! Soos Christus is, so moet ‘n christen wees. Daarom moet liefde en waarheid ook die uitstaande kenmerk van die gemeente van Christus wees. Johannes spreek in sy brief baie prakties oor liefde en waarheid. Dit moet sigbaar wees in die lewe van die gemeente. Dit is ons tweede punt: II. Liefde en waarheid moet ook vorm kry in Christus se gemeente Dit blyk uit ons: 1. liefde vir mekaar Uit vers 1 is duidelik dat Johannes vir Gajus liefhet. Hoekom? Omdat hy die waarheid liefhet! Wie die waarheid liefhet, het God lief. En wie God liefhet, het ook sy naaste lief. Johannes is dus lief vir Gajus, omdat hy God liefhet. Die geheim van ons liefde vir mekaar, is dat Christus ons liefhet. Dit is ongelooflik, dat Christus ook maar iets met ons van doen wil hê. Hoe kan Hy, die hoogheilige en almagtige God nou vir ons, sondige, opstandige, ondankbare, slegte mense, sy liefde gee?! Tog wou Hy dit doen. Dit was sy eie besluit om ons lief te hê. En ons weet dat sy liefde opreg is. En ons weet dat sy liefde groter is as enige menseliefde: ondanks die vyandige en ongehoorsame houding van die mens het die Vader sy Seun opgeoffer om hom te red. As jy jou broer of suster in die kerk liefhet, dan is dit geen prestasie van jou nie, maar dan is dit die pragtige bewys dat Christus vir jou liefhet. Sy liefde vir jou, maak dat jy jou kerkbroer of suster kan liefhê. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente blyk verder uit:) 2. Ons gebed vir mekaar. Johannes bid vir Gajus. Sonder liefde kan jy nie opreg vir ‘n ander bid nie. As daar vir sekere mense geen plek is in jou hart nie, sal jy ook nie vir hulle bid nie. Jy kan by jou self nagaan hoe baie jy van ‘n ander hou: hoe dikwels bid jy vir hom of haar? En wat bid jy dan? Kom, ons kyk na Johannes se gebed vir Gajus. Johannes bid dat dit met Gajus liggaamlik goed gaan. Hoe kom bid Johannes nie vir Gajus se siel nie? Wel dit is nie nodig nie. Johannes het gehoor dat dit met Gajus se siel reeds baie goed gaan. Dit is mos nie nodig om vir iets te bid wat daar al is nie? Nee, Johannes vra of dit met Gajus in alles ewe goed gaan as met sy geloof. So mag ons ook altyd vir mekaar bid: in waarheid en in liefde. Jy mag bid of die Here aan jou broer of suster wil gee wat in sy lewe ontbreek. Dit kan sy geloofslewe betref, maar dit kan ook oor sy liggaamlike welsyn gaan. As die liefde en die waarheid maar jou beweegredes is om voorbede te doen. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente kry ook vorm deur ons) 3. blydskap met mekaar. Johannes is verskriklik bly as hy van broeders hoor dat Gajus in die waarheid wandel. Wie is hierdie broeders? Dit is evangeliste wat rondtrek van die een plek na die ander. Vers 7 vertel ons dat hierdie broeders vir God se naam uitgegaan het. Dit beteken dat hulle rondgetrek het om die evangelie te verkondig. Hierdie evangeliste het ook in die gemeente gekom waar Gajus ‘n lidmaat is. Gajus het hulle gasvry ontvang en die broeders het agtergekom hoe baie die geloof in Christus vir hom beteken. Jy kan aan Gajus se manier van lewe agterkom dat hy ‘n opregte christen is.Hy is gasvry en wil graag help. As hulle by hom is, dan voel hulle dat Christus daar is. Dit is Christus wat Gajus so gevorm het, dat hy hulle liefdevol behandel. Gajus wandel in die waarheid. Dit beteken dat God se waarheid, dit is Christus self, in die lewe van Gajus uitkom. Sy geloof bepaal sy houding en sy gedrag. As jy dit van ‘n iemand in die gemeente sien, maak dit jou bly. Ek kan uit eie ondervinding praat: hoe bly jy voel oor ‘n broer of suster wat daadwerklik hom of haar as ‘n gelowige gedra. Ja, dit maak jou bly as jy sien hoe die Gees van Christus iemand oorwin en in die liefde en die waarheid lei. Dan dank jy die Here omdat daar nog steeds wêreldwonders gebeur, ook in jou gemeente. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente blyk ook uit ons) 4. praktiese lewenswandel Die liefde en waarheid blyk uit die konkrete hulp aan ander. Kyk, dit is maklik om ‘n familielid of vriend wat van ver gekom het, hartlik en gasvry te ontvang. Maar dit is moeiliker as dit oor vreemdelinge gaan. Wel, Gajus het vreemdelinge in sy huis laat slaap, hy het hulle in alles gehelp. Daar is ‘n fyn balans tussen waarheid en liefde. Dit blyk uit heel sy optrede. Want as jy eensydig die liefde benadruk, dan kan dit ten koste van die waarheid gaan. Dan gebeur dit sommer maklik dat jy maar liewerste nie met jou broer oor sy sondes praat nie, om die liewe vrede te bewaar. Dan is jy te lief vir hom en laat jy hom eintlik liefdeloos aan sy lot oor. Maar as jy alle klem op die waarheid lê, dan is die gevaar weer groot dat jy jou naaste nie in liefde behandel nie. Iemand wat die mond vol het oor die waarheid, kan dan kliphard wees vir sy broer. Nee, die liefde maak dat jy in die waarheid wandel. Dat jy ‘n christen met die daad is. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente kom ook uit in ons) 5. onderlinge hulpbetoon Johannes prys Gajus omdat hy getrou vreemde mense ontvang en help om hulle reis te kan voortsit. Hierdie evangeliste het niks verdien met hulle evangelieverkondiging nie. Hulle was afhanklik van die gasvryheid en hulp van die mense aan wie hulle die evangelie verkondig het. Dit is natuurlik nie lekker om afhanklik te wees van ander nie. Dit is makliker om te gee as om te ontvang. Maar die liefde van Christus moet so duidelik word in die gemeente. Daarom gee Christus altyd lidmate wat hulp nodig het. Uit die manier waarop hulp gegee word en uit die manier waarop hulp ontvang word, word duidelik of die gemeente ‘n gemeente van Christus is: word daar gegee in liefde en in waarheid? Dit wil sê: met ‘n bly gelowige hart, sonder om jou eie eer te soek? En word die hulp ontvang in liefde en in waarheid? Dit beteken: met ‘n dankbare gelowige hart, sonder om misbruik te maak van die liefdevolle hulp van die gemeente? (Liefde en waarheid in Christus se gemeente blyk ook uit ons) 6. Evangelisasie- en sendingwerk By Johannes is die waarheid baie belangrik. Hy wil dat ander mense die waarheid leer ken. Daarom moet daar broeders en susters wees wat oor die waarheid praat, wat dit verkondig. Daarom is dit belangrik dat die predikers van die waarheid gehelp word, sodat hulle sonder onnodige sorge met die evangeliewerk besig kan wees. Die waarheid moet versprei word. Die blye boodskap moet nog baie meer mense bly maak en hulle lewe verander. Nie almal hoef ‘n evangelieprediker te wees nie. Gajus was dit ook nie. Maar Gajus is wel ‘n voorbeeld hoe alle gelowiges by die verspreiding van die evangelie betrokke kan wees. Elkeen kan saamwerk om die evangelie te laat verkondig. As ons help om dominees, evangeliste en sendelinge te laat werk deur ons bydraes vir die kerk of vir die sending, dan is ons volgens Johannes reeds “mede-arbeiders van die waarheid”. Hoe meer ons die waarheid liefhet, hoe meer sal ons wil saamwerk om die evangelie te versprei. Dit doen jy as christen natuurlik ook al as getuie van Christus in die lewe van elke dag. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente word ook duidelik uit ons) 7. onderlinge vermaan In die sigbare kerk is goed en kwaad ongelukkig altyd met mekaar vermeng. In Hebr.10:24 word ons dan ook opgeroep om op mekaar ag te gee en mekaar tot liefde en goeie werke aan te spoor. Wel, in die gemeente waarvan Gajus lidmaat was, was ‘n groot teenstander van die liefde en die waarheid: Diotrefes. Hy was ‘n ouderling wat baas oor die gemeente wou wees. Daarom hou hy ook nie van Johannes nie. Hy het selfs ‘n vorige brief van Johannes vir die gemeente agtergehou en hy skinder oor Johannes en sy getroue evangeliste. Gajus het ook nie van daardie brief geweet nie. Daarom ag Johannes dit nodig dat Gajus dit nou weet, ter wille van die waarheid. Diotrefes doen presies die omgekeerde as Gajus. Hy handel liefdeloos en is ongasvry. Daarom moet Gajus vir hom op die hoede wees. En Johannes self sal kom om die gemeente persoonlik te waarsku vir hierdie liefdelose ouderling. Hy bemoedig Gajus met die woorde: wie goed doen, behoort aan God, maar wie verkeerd doen, het God nie gesien nie. Gajus behoort dus aan God. Maar Johannes se oordeel oor Diotrefes is hard: hierdie ouderling het God nie gesien nie. Dit beteken dat hy nie die liefde en die waarheid van God ken nie. Johannes sal alles in die werk stel om te sorg dat hierdie liefdelose man die gemeente nie verder sal verwoes nie. (Liefde en waarheid in Christus se gemeente blyk tenslotte uit ons) 8) hartelike gesindheid en belangstelling vir mekaar Johannes vra vir Gajus om alle vriende te groet. Nie sommer in die algemeen nie, maar elkeen persoonlik. By die naam. In Jobannes se dae was dit baie omslagtig om iemand te groet. Maar dit was ‘n belangrike teken van opregte en hartlike belangstelling vir die ander. Om mekaar te groet is vandag ook nog belangrik. Ook al voel jy nie lekker nie, ook al het jy ‘n probleem met jou broer of suster, doen tog moeite om te groet. Want om te groet, is om aan verhoudings te bou. Moontlik is jou groet die begin van die oplossing van ‘n onderlinge wrywing. Om nie te groet nie kan die probleem slegs groter maak. Dit kan opgevat word as liefdeloosheid. Daarom, broers en susters, laat dit altyd van ons gemeente ‘n uitstaande kenmerk wees om te groet. En om gegroet te word, maak dat jy jou nie eensaam hoef te voel nie. Laat ons met hierdie gebaar van liefde mekaar in waarheid vashou en dien en so Christus se liefde en waarheid weerspieël. Amen

Liturgie: 

Liturgie:
votum en seëngroet
Ps.121:1 en 4
gebed
Bybellesing en teks: 3 Johannes
Sb.22:1,5,8 en 11
Woordverkondiging
Geloofsbelydenis (Temmingh)
gebede
kollekte
Sb.33:1-3
seën