God maak ons iets van sy uitverkiesing bekend, met die doel om ons te troos

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-07-30
Teks: 
Dordtse Leerreëls 1,1-6
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 30 Julie 2017 AD, 17:30

Votum

Seën

Ps 102:1

Gebed

Skriflesing:
1 Johannes 1:5–2:2 & 4:7-19

Sb 24:1,2

Teks:
Dordtse Leerreëls 1,1-6

Preek

Ps 138:3,4

Gebed

Apostoliese
Geloofsbelydenis

Sb 24:3

Kollekte

Sb 24:4

Seën

Preek: Dordtse Leerreëls 1,1-6

Van die ses
belydenisskrifte is die Dordtse Leerreëls waarskynlik die onbekendste. Onbekend
maak onbemind. Dit is jammer. Dit is ook gevaarlik vir ons geloofslewe. Daarom
hoop ek om in die komende tyd ekpslisiet aandag te skenk aan hierdie
belydenisgeskrif.

Tema: God maak ons iets van sy uitverkiesing
bekend, met die doel om ons te troos

  • ‘n onbegryplike waarheid

  • ‘n troosvolle waarheid

  • ‘n onbegryplike waarheid

    Eers nog
    iets oor die ontstaan van die Dordtse Leerreëls. Dit was in Dordrecht,
    Nederland, waar in die jare 1618-1619 die sinode bymekaar gekom het. Volgende
    jaar sal dit dus presies 400 jaar gelede wees. ‘n Ander naam vir die Dordtse
    Leerreëls is: Die vyf artikels teen die Remonstrante.

    Die Remonstrante
    was mense wat ‘n verkeerde opvatting oor die uitverkiesing gehad het.Onderliggend
    aan hulle dwaling was primêr die feit dat hulle te positief, te optimisties,
    oor die mens gedink het. Dit was nie toevallig nie, want die begin van die 17de
    eeu was juis die tyd van die opkomende humanisme, die vroeë begin van die
    Verligting. Dit was ‘n tydperk in Europa waarin daar buitengewoon optimisties
    oor die mens gedink is. Oor sy verstandelike vermoëns, en oor waartoe die mens
    alles in staat is. ‘n Oordrewe optimisme oor die mens was die primêre oorsaak
    vir die Remonstrante om wat betref die uitverkiesing te begin dwaal. Die wortel
    van die Remonstrantse dwaling was dat die diepe val van die mensheid in sonde
    ontken, of ten minste gerelativeer is.

    Die mensdom
    is volgens hulle instaat om self uit die moeras van sy ellende te kom. Mense
    het die innerlike krag om hulleself te verbeter.

    Hierdie
    gedagtegang klink vir ons bekend, vandag nog steeds. Die humanisme het nog
    steeds ‘n ystergreep op die samelewing. En ook in ons tyd is daar baie wat net
    soos die Remonstrante niks wil weet van ‘n ewige uitverkiesing nie.

    Laat staan
    van ‘n ewige verwerping van hulle wat hulle doofhou vir God se roepstem. Daarom
    begin die Dordtse Leerreëls bewus, in die allereerste artikel, by die
    startposisie van die mens by geboorte. Paragraaf 1 begin met ‘n stelling wat
    van toepassing is op die hele mensdom. Alle mense het in Adam gesondig en het
    hulle aan die vloek en ewige dood skuldig gemaak. Dit is die begin van elke
    mens op aarde. Of jy nou as ‘n heiden gebore word, of in ‘n Christelike gesin.

    Die mensheid
    is geskape om die ewige lewe te hê. Maar vervolgens het die mensheid die ewige
    dood oor hulle gehaal in die paradys. Dit is die beginposisie.

    Dit sou
    heeltemal volgens die afspraak gewees het, as God die mensheid net daar en dan,
    aan die ewige dood prysgegee het. Hierdie beginposisie maak ons klein en
    nederig. Maar om ons heen, in die wêreld waarin ons leef, merk ons dat dit
    moeilik is om klein en nederig te bly. Om ons heen word die feite mbt ons
    beginposisie voortdurend ontken. Deur ongelowiges, en selfs ook deur liberale
    gelowiges, word ontken dat Adam ooit werklik bestaan het. In die verlengde
    daarvan word ontken dat die sondeval werklik plaasgevind het, soos dit in
    Genesis beskryf word. Met die gevolg dat die realiteit dat die mensheid
    reddeloos verlore is, ook op die agtergrond verdwyn.

    Maar dit is
    dus juis hiermee waarmee die Dordtse Leerreëls begin.

    Paragraaf 1.
    Alle mense het in Adam gesondig en verdien God se vloek en die ewige dood. Die
    loon, wat die sonde tot gevolg het, is die dood (Rom 6:23).

    Na paragraaf
    1 volg dan paragraaf 2, oor ons nuwe posisie in Christus. Juis omdat die Bybel
    alle roem in die mens uitsluit, kan die genade van die Evangelie des te beter
    begryp word. Hierdie tweede paragraaf kombineer twee Bybeltekste: 1 Johannes
    4:9 en Johannes 3:16.

    Die laaste
    teks ken die meeste van ons uit ons koppe.

    “Want so
    lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat
    elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

    Ons word
    gered in die weg van die geloof in God se liefde. Nie in die weg van die geloof
    in die mens en waartoe hy in staat is nie. En dit is God wat die liefde in ons
    lewe bring, soos ons gelees het uit 1 Johannes 4: God het ons eerste liefgehad
    – ‘n verwysing na sy ewige raadsplan. Tog lei sy raadsplan nie tot passiwiteit
    nie.

    Paragraaf 3
    handel juis ook oor die roeping tot bekering en geloof, wat deur die prediking
    van die Evangelie tot die mensheid kom.

    Dit alles klink
    – eerlik gesê – ‘n bietjie teenstrydig. Daar is ‘n ewige uitverkiesing deur God
    aan die een kant. Aan die ander kant is daar mense wat nie uitverkies is nie en
    in hulle ellende bly. As mens dit logies sou benader, sou die gevolgtrekking wees:
    Wat kan ons dan nog besluit? Wat staan ons dan nog te doen? Wat is eintlik die
    nut van die prediking, as alles van ewigheid af tog al vasgelê is? Waarom skryf
    die derde paragraaf eintlik nog oor ‘n roeping tot geloof? Daar kan tog niks
    meer aan die situasie verander word nie – uitverkies van ewigheid af of nie. As
    God uitverkies het, as Hy alles doen, dan hoef Hy tog nie meer te roep nie? Hy
    het mos uitverkies! Dit is tog voorgeproggrammeer?

    Voorgedetermineer?
    Die woord, roeping, om te roep, pas nie in hierdie prentjie nie. Want roeping
    veronderstel dat mense wat die roepstem hoor, dat hulle nog ja of nee kan
    antwoord, tog? Maar mense het mos niks om te kies nie ...?

    Tog
    gemeente, skryf die Dordtse Leerreëls in paragraaf 3 oor die roeping tot
    geloof. En hierin word slegs die Skrif nagespreek. Die saak is dus bietjie
    gekompliseerder, genuanseerder, as die redenering hierbo. Inderdaad, die
    uitverkiesing is nie iets wat deterministies is nie. Ons stuit hier eintlik op
    iets wat geweldig mooi is. En, dalk klink dit snaaks, tog is dit so. Wat so
    geweldig mooi is, is die feit dat die Dordtse Leerreëls, uit logiese oogpunt,
    eintlik buitengewoon teenstrydig is.

    Ons lees
    verskillende dinge wat logies nie rym nie – ‘n onbegryplike waarheid.

    Hoe kan dit?
    Het die skrywers van hierdie belydenisgeskrif dan nie hulle bes gedoen om
    hierdie moeilike onderwerp so goed as moontlik te verduidelik nie?

    Het hulle
    nie geprobeer om die uitverkiesing vir die gemiddelde kerklid bietjie
    begrypliker te maak nie? Nee, gemeente.

    Weet u wat
    die skrywers van die Dordtse Leerreëls gedoen het? Hulle het slegs die Bybel
    nagespreek. Dit wat in die Bybel staan oor die uitverkiesing, het hulle
    opgeskryf. En dit het hulle toegepas op die situasie waarmee hulle te make
    gekry het, naamlik die idees van die Remonstrante. En dit is wat so mooi is:
    die Dordtse Leerreëls gee simpelweg weer wat daar in die Bybel staan.

    Maar dan
    moet mens dus tot die gevolgtrekking kom: as die Dordtse Leerreëls maar net die
    Bybel napraat, dan is dit wat daar in die Bybel staan oor die uitverkiesing,
    ook nie logies nie, ook teenstrydig. Inderdaad.

    Enersyds
    lees ons in die Woord dat God van ewigheid af uitverkies, en dat die mens geen
    enkele aandeel daarin het nie. Andersyds lees ons in die Bybel dat God mense
    volledig ernstig oproep om hulle te bekeer, om te glo, om gehoorsaam te wees,
    omdat hulle ewige saligheid daarvan afhang.

    Dit klink
    tog teenstrydig? Moet ons die Skrifkritici dan gelyk gee dat die Bybel homself
    teenspreek? Gemeente, dit sou ‘n voorbarige, ja hoogmoedige, konklusie wees. Want
    daar is ook ‘n ander, meer beskeie antwoord, op hier oënskynlike
    teenstrydigheid. Naamlik dat die onderwerp van die uitverkiesing so groots en
    so ingewikkeld is, dat dit die grense van ons logika oorstyg – inderdaad ‘n
    onbegryplike waarheid.

    Dat die
    menslike denkvermoë nie in staat is om dit te verstaan nie.

    Dat die
    menslike brein ook nie vir God en sy handelwyse kan deurgrond nie.

    Dat die mens
    nie eers die geheim sy eie bestaan en lewe kan deurgrond nie.

    Die menslike
    denkvermoë is nie in staat om ‘n sluitende redenering na vore te bring nie.

    En ons moet
    bloot aanvaar dat die oënskynlik teenstrydige uitsprake van die Skrif beide
    waar is. Ons moet daarom beide kante volledige ernstig neem.

    Maar ons kan
    nie verklaar hoe beide kante, wat oënskynlik teenstrydig is, aan mekaar
    verbonde is nie.

    Neem as
    voorbeeld ‘n muntstuk. ‘n Munstuk het twee kante. Maar mens kan nie beide kante
    tegelyk sien nie. Tog word die een muntstuk gevorm deur beide kante. So werk
    dit ook met die vraag hoe die mens gered word uit sy ellende.

    Die een kant
    van die munstuk sê: God het jou voor die grondlegging van die wêreld uitverkies
    om die ewige saligheid te ontvang. Die ander kant van dieselfde muntstuk sê:
    God roep jou in hierdie lewe met die Evangelie dringend op om jou te bekeer, om
    te glo, om ‘n lewe te lei wat by die verskuldigde dankbaarheid pas. Want as jy
    dit nie doen nie, gaan jy vir ewig verlore. Die een kant van die muntstuk sê
    dus: God doen alles. Die ander kant sê: dis nou of nooit. Jy moet kies. Dink
    maar aan hoeveel profete in die Bybel hierdie werklikheid indringend in hulle
    prediking onder die mense se aandag gebring het. Alle profete van die Ou
    Testament, tot en met Johannes die Doper. En veral die Here Jesus self ook. Telkens
    hoor ons weer die indringende oproep tot geloof en bekering.

    Van nature
    is ons geneig om hierdie twee kante van dieselfde munstuk teen mekaar uit te
    speel. Ons is geneig om òf die een òf die ander kant van die muntsuk te
    oorbeklemtoon. Die een persoon sal veral hamer op die een kant, ‘n ander
    persoon op die ander kant. So het die Remonstrante die een kant verwaarloos. Naamlik
    die ewige raadsbesluit van God. Hulle kon dit nie rym met die optimistiese
    mensbeeld wat hulle gehad het nie. In die eeue daarna het baie gereformeerdes
    die ander kant begin verwaarloos. Naamlik die welgemeende en indringende oproep
    tot bekering, die uitnodiging tot die heil, wat uitgaan na alle mense op aarde.
    Met die gevolg dat die geloofslewe deterministies begin raak het: dit moet jou
    maar net gegee word ... Jy kan niks daaraan verander nie ...

    Gemeente, in
    beide gevalle het ons te make met ‘n versmalling van die Evangelie.

    God se Woord
    styg naamlik ver uit bo die grense van ons logika. En dit is dus wat so mooi is
    aan die Dordtse Leerreëls. Dat hierdie belydenisskrif nie die leer van die
    uitverkiesing in ‘n bepaalde skema probeer indruk nie. Beide kante van die
    muntstuk van ons saligheid word in al sy skoonheid, maar ook in al sy
    indringendheid, beskryf. Die Dordtse Leerreëls is nie logies konsistent nie,
    altans nie vir ons menslike logika nie. Maar die Dordtse Leerreëls spreek wel
    die Bybel na. En daaroor gaan dit. Daarom het hierdie Leerreëls ‘n tydlose
    waarde.

    Ek herhaal
    net die tema van die preek:

    God maak ons
    iets van sy uitverkiesing bekend, met die doel om ons te troos.

    Ons kom nou
    by die tweede punt.

    (- ‘n
    onbegryplike waarheid)

  • ‘n troosvolle waarheid

    Dit is teen
    hierdie tyd al duidelik dat ons nooit die uitverkiesing sal kan begryp nie. God
    vertel vir ons in die Skrif net iets daarvan, lank nie alles nie. Hy doen dit
    nie om ons onnodig onseker te maak nie. Ons menslike verstand sal in elk geval
    nie meer kan begryp nie. Maar God openbaar wel aan ons iets van hierdie
    wonderlike geheim, met die doel om ons te troos. Laat ons dit goed besef.

    As jy dus
    nadink, of praat, of debatteer oor die uitverkiesing, en die gevolg daarvan is
    dat jy onrustig begin raak, dat jy begin twyfel, dat jy miskien bang word, dan
    kan mens by voorbaat al sê: Dit is nie die bedoeling nie.

    Dit is nie
    God se bedoeling om die gelowiges angs aan te jaag met die uitverkiesing nie. As
    dit die uitwerking is, dan beteken dit dat jy ‘n verkeerde beeld van die
    uitverkiesing het. Want die regte leer van die uitverkiesing maak mense nie
    bang nie, dit troos juis vir mense. Ek onthou vroeër toe ek op
    Bybelstudievereniging was, en ek vermoed dis nog steeds die geval, dat ons soms
    eindelose diskussies gehou het oor die uitverkiesing. Die een helfte van die
    mense het meer nadruk gelê op die een kant van die muntstuk, die ander helfte
    op die ander kant. En aan die einde van die aand het almal met gemengde, ja
    onseker, gevoelens huis toe gegaan. Sulke Bybelstudieaande mis hulle doel.

    Ons sal ons
    eintlik moet verootmoedig. HERE, vergewe ons, dat ons nie op die regte manier
    oor u uitverkiesing gepraat het nie. Dat ons onsself onseker maak het, pleks
    van dat dit ons troos. HERE, help ons om dit op die regte manier te bespreek.

    Vanaf
    artikel 4 begin die Dordtse Leerreëls om noukeurig te verduidelik wat die Skrif
    presies bedoel met die Goddelike uitverkiesing en verwerping. Laat ons goed
    kennis neem van wat daar wel staan, en wat daar nie staan nie. Want oor beide
    woorde, uitverkiesing en verwerping, bestaan daar baie misverstand, sowel binne
    as buite die kerk. In die kerkgeskiedenis het dit gewoonte geword om te praat
    oor dubbele uitverkiesing en enkele uitverkiesing. Ook wel genoem dubbele
    predestinasie en enkele predestinasie. Die terme dubbel en enkel kom nie in die
    Bybel voor nie, maar met hierdie terme probeer mense sin maak van wat daar wel
    in die Bybel staan. Met dubbele
    predestinasie word daar bedoel:

    God het van
    ewigheid af twee keuses gemaak, twee dinge gepredestineer:

    Vir die een
    groep mense het Hy uitverkies om salig te word. En die ander groep mense het Hy
    voorbeskik, gepredestineer, om na die hel te gaan. Met enkele uitverkiesing of predestinasie word egter bedoel: God het
    van ewigheid af slegs een keuse gemaak, naamlik om een groep mense uit te kies
    om salig te word.

    Die
    oorblyfsel van die mensheid het Hy nie voorbestem vir die hel nie, Hy het hulle
    slegs gelaat in die ellende waarin hulle hulleself gestort het. Nou as mens
    artikel artikels 4-6 goed lees, word dit duidelik dat die konsep van ‘n dubbele
    predestinasie nie reg is nie. Daar is slegs sprake van ‘n enkele uitverkiesing
    of predestinasie. Artikel 6 skryf dat God hulle wat nie uitverkies is nie,
    volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding laat.

    Die Dordtse
    Leerreëls, wat die Skrif naspreek, leer dus nie dat daar ‘n aktiewe keuse deur
    God gemaak is om mense hel toe te stuur nie. Die mensheid het hulleself in die
    ellende gedompel, hulle het self vir die helse straf gekies.

    God se
    predestinasie is volstrek nie die oorsaak van mense se ongeloof nie.

    Dis nie so
    dat daar ‘n neutrale groep mense voor God gestaan het nie. En dat Hy hierdie
    groep opgesplits het in ‘n deel wat salig word en ‘n deel wat hel toe gaan nie.
    Die werklikheid is eerder dat die hele mensheid die helse straf verdien het.

    Maar in sy
    genade het God ingegryp en besluit om mense te red.

    Die uitverkiesingsleer
    lei daarom nie tot ‘n determinisme, ‘n blinde noodlot nie.

    Asof die
    mensheid niks meer daaraan kan doen nie, omdat God nou eenmaal besluit het om
    sommiges te red en ander hel toe te stuur. God se ewige raadsbesluit is nie die
    oorsaak vir die sondeval nie. God se raadsbesluit is nie sinoniem aan wat mense
    die noodlot noem nie. Daar is sprake van verdienste, verdiende straf. Die hele
    mensheid het in sonde geval, en verdien die helse straf.

    Maar daar is
    ook sprake van genade.

    Redding deur
    geloof in Christus, die genadegawe van God.

    Wat die
    Skrif ons leer is dus nie ‘n dubbele predestinasie nie, maar dat die mensheid
    self in opstand teen God gekom het, dat sedertdien elke mens in sonde ontvang
    en gebore word, in staat van opstand teen God, dat elke individu uit die
    mensheid die helse straf verdien. Maar die Skrif openbaar ook dat God,
    ooreenkomstig sy raadsplan, ingegryp het om ‘n geweldige groot aantal mense van
    hierdie straf te red. Impliseer die feit dat God dus nie vir sommige ander
    mense uitgekies het nie, dat Hy dus liewer wil dat hulle hel toe gaan? Nee.

    En hier kom
    die ander kant van die muntstuk na vore: God roep elke mens op aarde op tot
    bekering, tot die ewige lewe. Dink aan die Bybelteks: want so lief het God die
    wêreld gehad, dat Hy sy enigggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom
    glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. (Joh 3:16)

    Dink ook aan
    1 Johannes 2:2:

    Jesus
    Christus is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar
    ook vir die van die hele wêreld.

    Volledig
    ernstig en welgemeen bied God die offer van sy Seun aan, vir elke mens op
    aarde. Wanneer mense hierdie aanbod, hierdie oproep, van die hand wys, gaan
    hulle verlore. Dit is hulle eie keuse. Die wat ewig verlore gaan is dus nie ‘n
    gevolg van nie-uitverkies wees nie, of die gevolg van dat mense oorgeslaan is,
    nee, ewig verlore gaan is die gevolg van eie onwil, eie verharding. Nogmaals,
    die twee kante van die muntstuk kan ons nie met mekaar rym nie. Dit gaan ons
    verstand te bowe. Laat ons op hierdie punt as mense klein en beskeie bly.

    In paragraaf
    6 is daar – uit logiese oogpunt – teenstrydighede. Die een kant van die
    muntstuk kom byvoorbeeld na vore in die volgende sin: maar hulle wat nie
    uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en
    hardheid bly. Hieruit blyk dat dit hulle eie verharding is, wat hulle teëhou.

    Hulle kan
    nie God ter verantwoording roep, met die beskuldiging: God, U het ons nie
    uitverkies nie, dus dit is u skuld. Nee, daar is sprake van eie verharding.

    Maar in ‘n
    ander sin in paragraaf 6 word die ander kant van die muntstuk weer benadruk: Dit
    is die besluit van verkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar
    is. En soos u weet, as ons as mense iets nie kan begryp nie, het ons die
    neiging om dit ongeloofwaardig te vind. Of ons maak ‘n eensydige voorstelling
    daarvan. Die onnaspeurlike, almagtige werk wat God op aarde doen, roep reaksie
    by mense op. Soos paragraaf 6 skryf: verkeerde, onreine en onvaste mense
    verdraai dit tot hulle eie verderf, maar aan die heilige en Godvresendes
    verskaf dit onuitspreeklike troos.

    Dit bring
    ons terug by die tema van die preek: die doel hoekom God ons iets openbaar oor
    die uitverkiesing. God kon in sy alwyse raad ook besluit het om niks in die
    Bybel te meld oor die uitverkiesing nie. Net soos daar nog baie meer dinge is
    wat God nie in die Bybel openbaar nie, omdat ons dit in elk geval nie sal kan
    bevat nie. Maar tog het God besluit om iets te openbaar oor die uitverkiesing. Nie
    dat ons dit sou begryp nie, maar met die doel om ons te troos.

    Elke
    gelowige wonder van tyd tot tyd: sal ek bly glo, my lewe lank? Dan sê God: jy
    hoef nie bang te wees nie. Want Ek het jou uitverkies. Ek sal sorg dat jy bly
    glo, te midde van ‘n afvallige wêreld. Leef jy net opreg, dan kom dit goed. Ook
    hier hoor ons weer die beide kante van die muntstuk. Die saligheid waartoe Hy
    ons uitverkies het, ontvang ons in die weg van geloofsgehoorsaamheid.

    “Werk julle eie
    heil uit met vrees en bewing”, sê die Skrif (Fil 2:12)

    Dis nie ‘n
    kwessie van goeie werke doen en daardeur die hemel verdien nie.

    Dis ‘n
    kwessie van naby die HERE en sy diens bly. Ons dink dan veral aan die verbond
    wat die HERE met sy kinders gesluit het. Binne die kader van die verbond roep
    God ons op: leef naby My. Leef biddend. Luister elke dag na my Woord. As jy dit
    doen, maak jy jou uitverkiesing vas.

    God se
    uitverkiesing beteken dus nie dat daar geen oproep tot geloof en bekering mag
    klink nie. Met hierdie oproep wil ek dan ook afsluit:

    In die
    verbond het God u soveel geskenk. Maak gebruik daarvan!

    Leef naby
    Hom. Gebruik gehoorsaam die genademiddele wat Hy beskikbaar stel.

    Amen.

Liturgie: 

(kyk in preek)