God se wil is die beste, soos in die hemel, net so ook op die aarde

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2017-05-14
Teks: 
Heidelbergse Kategismus (Sondag 1-52) 49
Preek Inhoud: 

PRETORIA-MARANATA, 21 Mei 2017 AD, 17:30

Votum: Ps
121:1. 

Seën. 

Ps 40:4.

Gebed.

Skriflesing: Johannes 9.

Ps 41:2,3.

Teks:
Heidelbergse Kategismus Sondag 49. Preek.

Ps 25:4,5,6.

Gebed.

Geloofsbelydenis
(sing).

Kollekte.

Ps 25:7,8.

Seën.

Preek: Heidelbergse Kategismus Sondag 49

Laat u wil
geskied. Laat ons hemelse Vader se wil in ons lewe gebeur.

Ek wil begin
met ‘n voorbeeld.

Daar is ‘n
seuntjie wat baie graag ‘n windbuks vir sy verjaarsdag wou hê. Hy was tydens
die vakansie by sy nefie op die plot, en die het ook ‘n windbuks, waarmee hulle
duiwe geskiet het. Hy het dit vooraf vir sy pa en ma gesê. Ek wil graag ‘n
windbuks vir my verjaarsdag hê. Sy ouers het geknik, en hy het gedink, dit sal
wel in orde kom. Hy het eintlik al bietjie daarvan uitgegaan dat hy ‘n windbuks
vir sy verjaarsdag sou kry. Maar groot was die teleurstelling toe hy op sy
verjaarsdag presente kry, mooi presente trouens, maar nie ‘n windbuks nie.

Mens sou
verwag dat hy gelukkig sou wees op sy verjaarsdag, maar hy het nie baie gelukkig
gelyk nie. En toe sy ouers hom vra wat aangaan, hoekom lyk jy so bedruk, dis
mos jou verjaarsdag! Toe moes hy wel sê, dat hy verwag het dat hy iets anders
sou kry. Hoekom het julle dit nie vir my gegee nie? Pa en Ma moes toe
verduidelik. In die eerste plek werk dit natuurlik nie so dat mens presies kan
bestel wat jy op jou verjaarsdag kry nie, dit moet ‘n verassing bly. Maar, het
sy ouers bygevoeg, hulle het inderdaad oorweeg of hulle dit vir hom sou koop.

Maar hulle
het bewus daarteen besluit, omdat hulle in die stad woon en om met ‘n geweer in
die stad te skiet kan gevaarlik wees. Hulle het tot die slotsom gekom dat dit
nie verantwoordelik is nie. So het die ouers ‘n besluit vir hulle seun geneem. ‘n
Besluit waarmee hy nie gelukkig was nie, maar wat uiteindelik wel vir sy beswil
was.

Tema: God se wil is die beste, soos in die
hemel, net so ook op die aarde

Nou is daar
nog ‘n verhaal, ‘n heel ander verhaal, maar u sal agterkom dit gaan oor presies
dieselfde tema.

Daar was ‘n
seun wat al vanaf sy geboorte blind was.  Sy ouers het al met hom alle moontlike dokters
besoek. Maar by elke dokter het hulle dieselfde storie gehoor: ek is jammer,
maar ek kan niks vir u seun se oë doen nie. Hy sal, soos dit nou lyk, na alle
waarskynlikheid vir die res van sy lewe blind bly. Natuurlik het die ouers ook
baie gebid. En die seun het self ook gebid, toe hy oud genoeg was om self te
kon bid, en toe hy oud genoeg was om sy gebrek te verstaan. Jaar in jaar uit
het hulle die Here gesmeek of Hy hom siende wou maak.

Die seun het
al hoe ouer geword. Hy het ‘n man geword. Maar in sy oë se toestand het geen
verandering gekom nie. Sy hele lewe lank het hy nog nooit iets gesien nie. Waarskynlik
het hulle later moeg geword om telkens nuwe dokters te besoek. Hulle het moed
opgegee.

En om aan te
hou bid: hulle het hulle afgevra of dit enige sin gehad het.

Hulle het
nou al hoe meer hulleself begin afvra: hoekom het God ons dit aangedoen? Hoekom
mag alle ander mense gewoon sien, maar nie ons seun nie?

Het die seun
dalk iets verkeerd gedoen, dat God hom daarvoor straf? Of het ons as ouers
miskien gesondig, en is ons seun nou die slagoffer daarvan?

Hulle het
geen antwoorde gekry nie.

Ons het
hierdie geskiedenis uit die Bybel gelees – in Johannes 9. En ook die dissipels
het vir die Here Jesus gevra, toe hulle hierdie blinde man ontmoet:

Rabbi, wie
het gesondig, hyself of sy ouers? – gesien die feit dat hy blind gebore is. Die
Here Jesus gee dan ‘n baie opvallende antwoord. Die Here Jesus, wat openlik
met  God die Vader oor sy raadsplan
oorleg kan voer, soos ‘n pa en ‘n ma oorleg pleeg oor watter present hulle vir
hulle seuntjie gaan gee, so pleeg die ewige Seun van God met sy Vader ook
oorleg. En die Here Jesus sê dan:

Die rede
hoekom hierdie man blind is, lê nie aan die feit dat iemand gesondig het nie. Hy
het nie gesondig nie, en ook nie sy ouers nie. Dis nie die rede vir sy
blindheid nie. Die rede is iets totaal anders, iets wat die betrokke man, en
ook sy ouers, nooit vooraf sou kon uitgevind het nie. Daarvoor is hulle denke
veels te beperk. Die rede is naamlik dat die werke van God in hom geopenbaar
moes word!

Die werke
van God moes in hom openbaar word.

Wat beteken
dit eintlik?

Dit leer ons
uit die res van hierdie hoofstuk. Hierdie blinde man het nie self die Heiland
opgesoek, soos hy en sy ouers baie ander dokters en heelmeesters besoek het
nie. Tog openbaar die Here Jesus Homself hier as die enige heelmeester wat sy
blindheid kan genees. Hy het op die grond gespoeg en die speeksel met grond
gemeng sodat dit modder geword het, en dit toe op sy oë gevryf. Daarna het Hy
hom na Siloam gestuur, om sy oë daar met water af te was.

Die rede
hoekom Jesus juis spesifiek klei op sy oë gesmeer het, is nie heeltemal
duidelik nie. Ons weet dat Jesus by ander mense dikwels genesings verrig het
sonder dat Hy enigsins iets gebruik het, slegs deur ‘n woord te spreek.

Maar wat wel
belangrik is, en dit was moontlik die rede vir hierdie behandeling, was dat die
Here Jesus geloof van hierdie man verwag het. Hy moes sy geloof wys deur Jesus
se bevel uit te voer, naamlik deur na Siloam te gaan.

As hy geen
geloof sou gehad het nie, sou hy geredeneer het: bespaar my die moeite! Watter
sin het dit om heeltemal na Siloam te loop? Al die dokters en heelmeesters,
elkeen met sy plannetjie. Hulle is almal net kwaksalwers!

Sou hierdie
man, wat modder op my oë smeer, my nou wel ineens kan genees?

Maar tog het
die blinde man die opdrag uitgevoer. Daaruit het sy geloof in die Heiland
geblyk. En hy het siende teruggekom!

Nou kom ons
terug by die vraag:

Hoekom is hierdie
man blind gebore en moes hy vir soveel jare blind deur die lewe gaan? Jesus sê:
sodat die werke van God in hom openbaar sou word.

Hierdie man
mog ‘n teken word van die genesingskrag van ons Heiland.

Die feit dat
hy al vir soveel jare blind was, vanaf sy geboorte, dat hulle alle moontlike
dokters al besoek het, dit het maar net die impak van hierdie wonder vergroot. Nie
net op homself en sy ouers nie, maar ook op almal wat dit gesien het of daarvan
gehoor het. Die blindheid was nie sy skuld nie, of sy ouers s’n nie.

Sy blindheid
was wel onderdeel van die algehele sondige gebrokenheid van hierdie wêreld. En
hierdie man mog ‘n teken word van hoe die Here Jesus gekom het om sonde en siekte weg te neem. Die werke van
God, daarmee word dus die ampswerk van die Here Jesus op aarde bedoel. Christus
se ampswerk het in hierdie man en in sy genesing sigbaar geword. En dit het
hom, en almal daaromheen met klem voor ‘n keuse gebring: Glo in Christus!

Of, verwerp
Hom en as jy dit doen, dan verwerp jy ook hierdie ontsaglike wonder wat Jesus
vir hierdie man gedoen het.

Ongelukkig
het sy ouers die laaste gekies, uit lyfbehoud in hierdie lewe – baie kortsigtig
eintlik. Hulle het nie gedurf om by Jesus te bly nie.

En ook die
Fariseërs het die wonder ontken, omdat hulle hoogmoedig was, omdat hulle die
Here Jesus gehaat het.

Nou vra ons
die vraag: wat het hierdie geskiedenis eintlik met die derde bede te make –
laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde?

Kom ons
begin weer by die eerste verhaal.

Dit is duidelik
dat die seun gebonde is aan die wil van sy ouers. En dit is ook maar goed, want
God het juis kinders aan ouers toevertrou, wat met hulle groter lewenservaring
beter weet wat goed is vir die kinders as die kinders self.

Die ouers
het besluit dat hulle kind geen geweer vir sy verjaarsdag kry nie.

Daardie
besluit was die beste vir die seun, ook al het hy dit self aanvanklik nie
ingesien nie. Kinders het baie keer nie oorsig oor die redes hoekom ouers dinge
vir hulle besluit nie. ‘n Kind se verstand en ervaring is daarvoor dikwels nog
te beperk. Daar is dinge wat redelik maklik verduidelik kan word. Die seun het
dalk aanvanklik gedink sy ouers het nie genoeg geld gehad vir ‘n windbuks nie.

Uit die
gesprek later het egter geblyk dat die rede iets anders was, iets waaraan die
seun self nie gedink het nie. Sy verjaardagswens was kortsigtig. Maar, soos
elke ouer weet, daar is ook dinge wat te moeilik is om aan kinders te
verduidelik.

Dan moet
mens volstaan met: dis beter so. Pa en Ma het so besluit, en aanvaar nou maar
dat dit goed so is. Al hierdie kan mens natuurlik ook toepas op die verhouding
tussen God en ons.

God as ons
hemelse Vader en ons as sy kinders.

As kinders
bid ons in die derde bede:

Gee dat ons
en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder
enige teëpratery gehoorsaam te wees.

God se wil
is altyd goed. ALTYD. Wat wel so is, is dat ons nie in staat is om al God se
oorwegings te kontroleer nie. Ons kan nie altyd verstaan hoekom sommige dinge
wel met ons gebeur, en ander dinge nie.

Hoekom
bepaalde gebede wel direk verhoor word, en ander nie – vir ons gevoel altans. Die
hoekom agter dinge kan ons dikwels
nie verklaar nie.

En as ons
dan ‘n bietjie brutaal is, want so is ons as sondige mense van nature, dan
begin ons God te verwyt, soos die seuntjie op sy verjaarsdag eintlik dikbek was
omdat hy nie gekry het wat hy wou gehad het nie. So is ons as mense dikwels
brutaal, ons neem God iets kwalik. Ons probeer dan om God teen Homself uit te
speel. God soos ons Hom uit die Bybel ken. En ons sê dan:

God, U is
mos almagtig!?

Hoekom
genees u dan nie hierdie siekte nie? Ek gee vir U ‘n keuse: of u genees hierdie
siekte, of ek begin om aan u almag te twyfel. Wat verbeel ons ons nie, ons
klein nietige mensies. God se almag is nie soos ‘n masjien, waar mens met die
druk van ‘n knoppie alles kan uithaal wat jy ook maar wens nie.

God se almag
styg bo ons verstand uit.

‘n Seuntjie
en meisie het ‘n keer met mekaar geredekawel. Die seuntjie het gesê: God is
almagtig. Hy kan alles regkry, en as God alles kan doen, dan kan Hy ook ‘n
olifant in ‘n vuurthoutjieboksie inkry. Die meisie het geantwoord: is nie, God
kan dit nie doen nie. Toe hulle na ‘n ruk vir die juffrou gaan vra, het die
juffrou gesê:

God kan
alles, maar God doen nie dom dinge nie. Die juffrou se antwoord was in die kol.
God se wil is goed. Wat God doen is altyd die beste.

En as God
besluit om iets nie te doen nie, is dit ook die beste.

Gemeente, as
ons dit besef, as jy hierin kan berus, soos ‘n kind berus by die wil van sy
ouers, dan kry mens rus in jou hart. En presies dit is die bedoeling van die
derde bede: Aan die een kant verheerlik ons die Here met hierdie bede, deur sy
almag te erken, en dat sy wil die beste is. Aan die ander kant kry jy rus in
jou eie hart, as jy hierdie bede bid. Of beter gesê: werk die Heilige Gees rus
in jou hart met hierdie bede. Here, u wil alleen is goed. Gee my asseblief die
krag om gehoorsaam te wees. Sonder om teë te praat.

En dan voeg
die Kategismus hieraan toe:

sodat elkeen
sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan uitvoer soos die engele in die
hemel. Uit hierdie sin spreek die besef dat God elkeen van ons met ‘n doel op
aarde geplaas is. Niemand se lewe is nutteloos nie. In alles wat daar met ons
gebeur, mag ons weet dat dit onderdeel is van God se raadsplan.

Selfs die
slegte dinge, die rampe. Al het God alles goed geskape, al is al die rampe en
sondige en slegte dinge teen sy wil, tog kan Hy al hierdie dinge in sy
voorsienigheid ook ombuig om selfs daarmee uiteindelik iets goeds te bereik!

So is daar
baie plekke in die Bybel wat ons leer dat lyde byvoorbeeld louterend werk. Dat
dit ons nader aan God bring. Dat dit ons karakter vorm. Dink aan Job.

Die rampe
wat hom getref het, was nie sy eie skuld nie, nog minder was hulle God se
skuld. Al daardie rampe het direk van die satan af gekom.

Maar God kon
wel daardie rampe gebruik om Job te louter.

En deur die
boek Job in die Bybel op te neem, het die Heilige Gees ook gesorg dat God se
kinders van alle tye bemoedig word in uitsiglose tye.

En presies dieselfde
geld vir hierdie geskiedenis van die blindgebore man uit Johannes 9. Hoekom is
hy blind gebore?  Voorop staan die
belydenis soos Sondag 49 dit verwoord. God se wil is alleen goed. God doen nie
dom dinge nie.

Hierdie
blindgebore man mog ‘n teken word van Jesus se wonderkrag.

‘n Voorbeeld
wat die Gees ook nog in die Bybel laat opneem het, ter lering en bemoediging
van alle kinders van God wat nog gebore sou word. Dit was hierdie man se
lewensdoel binne God se raadsplan. Vanuit daardie gesigspunt was God se wil met
sy lewe inderdaad die beste. So baie jare wag op genesing was nie sinneloos
gewees nie. Sy blindheid was nie God se skuld, of sy eie of sy ouers s’n nie. Jesus
het sy dissipels juis gewaarsku om nie ‘n sondebok te probeer aanwys nie. Dit
is God se saak. Baie jare het hierdie man in die duister getas, letterlik, maar
ook ten aansien van sy lewensdoel op aarde.

Hoekom leef
ek eintlik, as ek nie mag sien nie?

Daar is
soveel mense wat in die duister tas, vir jare, miskien wel vir hulle hele lewe,
wat betref hulle lewensdoel op aarde. Hoekom leef ek? Hoekom moet ek met
hierdie gebrek of hierdie siekte lewe? Hoekom kry ek nie kinders nie?

Hoekom
sukkel ek so met depressiwiteit? Hoekom, ja hoekom, so kan mens eindeloos
deurgaan. In hierdie lewe tas ons dikwels in die duister.

Hoekom God
ons lewenspad lei soos dit gaan. Vir sommig dinge kry ons dalk ‘n verklaring. Nie
vir niks het die Here ons sy Woord gegee.

Daarin staan
sy wil duidelik opgeskryf. Hoe Hy wil dat mense lewe. En watter gevolge daar kom
as mense sy wil oortree. Maar tog is daar ook dinge waarop ons in hierdie lewe
geen antwoord, geen verklaring gaan vind nie. Simpelweg omdat dit ons verstand
te bowe gaan. Hoekom was daardie man blind gebore?

Niemand kon
ooit die rede geraai het nie. Naamlik dat God die Vader wou hê dat hy
persoonlik deur sy Seun, Jesus Christus, genees moes word. Dit was God se
bedoeling. En daarom het God hom so lank laat wag op genesing.

So gebeur
daar in u lewe ongetwyfel ook soortgelyke dinge. Ek is seker daarvan.

Daardie
sekerheid skenk die Bybel. En wat so belangrik is: die oomblik as jy jouself
neerlê by God se wil, dat sy wil goed is, dan gee dit jou rus, en dit gee jou
geestelike krag. Dan is jy in staat om jou taak, waartoe jy geroep is op aarde,
gewillig en trou te vervul. En daarby ‘n voorbeeld neem aan hoe die engele dit
doen. Hulle gewilligheid. Dan kan daardie persoon wat lewe met ‘n aftakelende
siekte, tog positief deur die lewe gaan, wetende dat God ‘n taak vir hom het,
solank hy op aarde is. Dan kan ‘n gestremde persoon ook met die besef lewe: God
kan selfs iets goeds bereik met die feit dat ek ‘n gestremdheid het. Ek kan dit
miskien nie alles verstaan nie. Maar miskien wil God wel, juis deur my
gestremdheid, ander gesonde mense bewus maak van die feit dat hierdie aarde nie
meer ‘n paradys is nie, en dat die paradys ook nie sal terugkeer solank Jesus
nog nie teruggekeer het nie. So het God vir elke mens ‘n taak op aarde.

Gesond of
siek, gestremd of nie, jonk of oud.

Beteken dit
dat mens dan nie mag bid of die Here die siekte wil genees, of die gestremdheid
wegneem nie? Natuurlik mag ons alles van God vra!

Maar by elke
gebed hoort ook die belydenis van ‘n gehoorsame kind: as u wil.

Laat u wil
geskied, ook in my lewe. U weet wat goed vir my is.

As jy nalaat
om dit te bid, hierdie belydenis in jou gebed, dan is jou houding na God toe
nie net verkeerd nie, dan bewys jy jouself ook geen guns nie.

Veel beter
is dit om God se wil hoog te ag.

Dan gee sy
Gees jou die krag om in voor- en teëspoed rus vir jou siel te ontvang.

En dan
ontvang jy krag van bo om elke dag jou lewenstaak uit te voer, net so gewillig
en getrou as die engele in die hemel.

Amen.

 

Liturgie: 

(kyk in preek)